Alles het sy vaste tyd

Deur Nellie van der Walt

(Foto: Jannis Nöbauer/Unsplash)

Met apologie aan die Prediker

Daar is glo ʼn regte tyd vir alles; elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd. Ek weet nou nie daarvan nie, maar ek weet dit maak mense se angs minder as hulle dit glo.

Daar is ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterf; ʼn tyd om te plant en ʼn tyd om plante uit te trek. Veral as jy vergeet het om die goed nat te maak in die Wes-Kaapse somer.

Daar is nooit ʼn tyd om dood te maak nie. Behalwe dalk as daar ʼn spinnekop saam met jou wil bad. Dan is dit tyd om jou huis ook af te brand.

Daar is ʼn tyd om apteek toe te gaan vir pille sodat jy jouself gesond kan maak.

Ek dink nie ʼn mens moet te veel tyd maak om af te breek nie. Jy kan seker ʼn muur afbreek wat besig is om om te val. Ek dink ook dis goed om tyd te maak om brood te breek met ander. Maar moenie tyd maak om ander af te breek nie (die blinde sambok en so, jy weet).

Maak tyd om te huil. Emosies wat opgekrop raak, raak net vrot. En niemand wil sit met ʼn vrot binneste nie. Trane was baie seer weg. Daar is ʼn tyd om te rou. Dis baie belangrik. Dit sal jou help om opnuut te waardeer wat jy wél het en elke dag meer voluit te leef. Maak meer tyd om te lag. Nie net kan jy daai sespak (six-pack) kry waarvan jy en jou bierboepie al jare droom nie, dit verlig angs en laat jou oombliklik ontspan. Maar ek praat nou van daai regte uit-die-maag-lag (ROFL), nie net ʼn giggel nie (LOL).

Daar is baie tyd om te dans. Gaan sokkie. Skoffel. Gryp jou liefie voor die kospotte wanneer jou gunsteling-Afrikaanse treffer speel. Dit maak nie saak hoe jy dans nie, doen dit net. Ons gee nie om of jy daai dans doen wat lyk soos epileptiese toevalle by ʼn rave, of die voetjie-voetjie-skuifel nie. As iemand vir jou dansstyl lag, lag sommer saam, dan het jy jou tyd vir lag ingewerk vir die dag.

Blykbaar is daar ʼn tyd om klippe weg te gooi. Maar ek weet nie hoekom enigiemand dit sal doen nie. Weet die mense wat die goed kos? Ek dink nie Prediker moes daai tyd betaal het vir sy tuinklippies nie. Ek hou meer van die een waar daar ʼn tyd is om klippe bymekaar te maak. Al is dit kleintjies. As jy dit nie in jou tuin gebruik nie, kan jy dit altyd gebruik om die skelms mee te gooi wanneer hulle ongenooid wil kom tee drink.

Julle, die volgende tydstip kan ek nie méér beklemtoon nie: daar is ʼn tyd om iemand te druk en te omhels en ʼn tyd om iemand nié te omhels nie.

Deesdae is mense vreeslik sensitief oor hulle persoonlik ruimte en geslag. Dis nie meer soos toe ek jonk was waar jy elke persoon moes soen by die familiefees nie, insluitend die oom met sy bier-nat snor en nat lippe. En dan, uit ordentlikheid, probeer jy eers van hom af wegkom voor jy jou lippe afvee, sodat hy nie aanstoot neem nie. As jy onseker is, vra eerder. Toestemming is belangrik (alhoewel sommige glo dis makliker om vir vergifnis te vra as vir toestemming, maar ons praat nie nou met hulle nie).

Slegte tye om te omhels is byvoorbeeld wanneer jou skoolhoof jou nou net ses van die bestes gegee het en jy omdraai en hom omhels. Of wanneer die spietkop jou kaartjie vir dronkbestuur oorhandig. Of wanneer jy die persoon op straat glad nie ken nie. Hou jou maar in.

Daar is ʼn tyd om te soek. Soggens na jou sokkies, karsleutels, foon, die kind se skooltrui, die botter wat jy nou net op die toonbank neergesit het. Daar is ook ʼn tyd om na meer ernstige dinge te soek. Soos wanneer ʼn kind soos Joshlin wegraak. Of wanneer jy vergifnis binne jouself moet soek vir iemand wat jou verkrag het. Of wanneer jy na ʼn nuwe werk moet soek want jou baas is ʼn poephol.

Daar is ook tye om iets te laat wegraak. Soms móét jy iets laat wegraak. Soos die lekkers in die lekkergoedlaai wanneer jou kind van ʼn partytjie af kom, hoog op suiker, en vra vir nog lekkers. Of wanneer jy van jou eks se lyk ontslae moet raak…

Daar is ʼn tyd om iets op te pas. Soos jou kinders. Tot hulle tieners raak. Want dan is dit nag. Of jou kar. Of jou waardigheid. Of die spesiale sjokolade. Maar daar is ook ʼn tyd om weg te gooi. Jy gaan nie weer in daardie nommer agt-denim inpas nie, Susan, verkoop dit net op Yaga of gooi dit weg. Daai Panado van 1999 wat nog steeds in jou medisynekas lê en wag vir sy oomblik in die son, gaan jou waarskynlik ʼn hartaanval of beroerte gee. Gooi weg. Maak ligter. Beweeg aan.

Daar is ʼn tyd om te skeur. Dis nie ʼn goeie tyd vir meeste nie. Veral nie wanneer dit broekskeur gaan nie. Daar is baie tyd om vas te werk. Want die hemel weet, klere word nie meer gemaak soos in die ou dae nie en inflasie is ʼn bliksem.

Die belangrikste oordeel wat jy as mens kan fel, is wanneer dit tyd is om stil te bly, en wanneer dit tyd is om te praat. Wanneer die juffrou vra of jy haar “regtig nou verder die josie in wil maak?” of wanneer die dominee by ʼn troue vra of enigiemand objeksies het teen die verbond. Of wanneer die dominee besig is met sy preek tydens ʼn begrafnis…

Daar is ʼn tyd om te praat. Afrikaanse tannies het doktorsgrade hierin. Maar moenie leë woorde praat nie. Dink voor jy iets simpel sê soos: “Haai, is jy al weer swanger?”

Dis wel baie belangrik om hard en onophoudelik te praat oor onregte. Soos die aaklige dade wat teen die kinders van Gaza gepleeg word. Of wanneer oom Sakkie weer ʼn rassistiese grappie by die Saterdagaand-braaitjie maak. Of oor geweld teen vroue. Dan moet jy laat waai.

Daar is ʼn tyd om lief te wees. Korreksie, daar is ALTYD tyd om lief te wees. Dit maak nie saak waar jy jou bevind nie, in watter konteks ook al: leef liefde. Dit beteken nie jy moet vir Frikkie by jou werk soen by die koffiemasjien nie. Nee, maar jy kan met ʼn warm glimlag vir Frikkie komplimenteer op sy laaste projek. Die ander dingetjies wat baie van liefde hou, is kinders. Dis al wat hulle nodig het om te blom. As jy nie kinders het nie, gaan help met iemand anders s’n by ʼn weeshuis. Dit sal vir jou die grootste vreugde bring. En liefde is soos ʼn boemerang, dit kom altyd terug.

Daar is egter ook ʼn tyd om te haat. Soos wanneer jy nie hou van kasterolie nie, maar dit die enigste ding is wat jou ma glo die kieme gaan doodmaak. Of wanneer Wiskunde ʼn verpligte vak in matriek is en jy nie baie hard geleer het nie. Of wanneer die onderwyser vir jou ʼn massiewe taak gee op ʼn Vrydag wat die Maandag moet in wees, omdat Jannie al weer nie stil gesit het nie. Of wanneer iemand vir jou ʼn WhatsApp-stemnota stuur en dit begin met: “Hallo! Sorrie, ek stuur nou sommer gou ʼn voice note…”

Daar is ʼn tyd om op sosiale media te doom-scroll en ʼn tyd om die skottelgoed te was. In die ou dae het jy die koerant gelees tot op die laaste bladsy en dit toegemaak, neergesit en aangegaan met jou dag. Sosiale media het nie ʼn laaste bladsy nie. So stel maar ʼn ou wekkertjie op jou foon om te dien as jou laaste bladsy. Jy het beter goed om te doen met jou tyd. Soos braai.

Die Prediker het gevra: “Wat help dit vir die mens dat hy hard gewerk het? Niks.” Ek dink nie die Prediker het al ooit ʼn bonus gekry voor ʼn Desember-vakansie nie. Ek dink ook nie hy weet van al die lekker wyn wat ʼn mens kan koop as jy hard werk en geld verdien nie. Harde werk hou ʼn mens ook uit die moeilikheid, want dan hoef jy nie te steel om brood te koop nie.

Die Prediker was ʼn wyse man. Dis seker hoekom sy naam Prediker was. Hy het nog baie ander slim goed ook gesê. Maar ek dink mense vat die Bybel en wat daarin staan soms té letterlik op. Lees dit en maak dit jou eie. Want die Prediker leef nie meer vandag nie. En lees maar ʼn paar ander boeke ook, net om jou perspektief te gee. Veral as jy ʼn bietjie ekstra tyd het.

  • Nellie van der Walt is ‘n vryskutbemarker met groot skryfdrome en woon op ‘n plaas buite Stellenbosch. Volg gerus haar skryfblad hier: https://www.facebook.com/brieweuitsuburbia.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Goeie skrywe.Wat jou laaste paragraaf betref,word dit nie bevestig in Prediker nie,maar die skrywer was Salomo gewees,volgens daardie tyd se geskrifte.Daar is mense wat glo dat uitsprake in die Bybel naas die letterlike betekenis ook ‘n dieper betekenis het,wat die allegoriese betekenis is.Die beste is om ons in hierdie opsig aan die Bybel self te hou.Die Bybel is geestelike genoeg, ons hoef dit nie nog geestelike te probeer maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.