‘Army’-storietjies

Argieffoto

Deesdae is dit mos gewild om die ou dae se army sleg te sê van alle kante af. Elke ou wat ʼn litteken iewers het pak die skuld voor ʼn korporaal se deur en hang die groot klok aan sy onweerlegbare hartseer.

Ek wonder maar net hoeveel van hulle het reeds verflenter daar aangekom? Maar in ieder geval; ek voel nie so oor die ou dae se army nie.

Daai jare was nuwe dienspligtiges mos ʼn “roof” genoem. Dit was die nutteloosste soort van ding denkbaar. En dan was daar ʼn ouman. Hulle was die belangrikste mense in die army veral as hy nog so ʼn lekker “droopy” snor gehad het. Uitgeleer en vol wysheid en magtig in sy onverskrokkenheid. Vir ure kon hulle jou vasgenael hou met onweerlegbare dapperhede terwyl hulle heldhaftig op die grens geveg het vir volk en vaderland. “GV’s” het ons hulle genoem – dis nou vir “Grensvegter”. Maar die hoogste rang in ʼn roof se gedagtegange was dié van ʼn korporaal.

So vertel hulle van die groot uitklaarparade daar by Voortrekkerhoogte. Dis nou die parade waar mens jou rowerdae groet en opbeweeg in belangrikheid. Die basiese opleiding is klaar en jy verlaat nou jou babaskoentjies vir gevorderde opleiding. In ieder geval staan die hele eskadron op die paradegrond en wag vir die generaal wat die parade sal kom inspekteer en die finale groetwoord sal rig voordat die rowers die rowwe grootmens-lewe betree.

Maar die generaal daag nie op nie en die manne op die paradegrond is later lam gewag.

Só plaas ʼn korporaal ʼn roof daar by die ingangshek om te verspied en as die generaal inkom, moet hy hol laat dit bars na die paradegrond en die spul loop waarsku wat hulle lê gemaak het in elke soort skaduwee. Die roof bespied en wag maar die generaal is nie te siene nie. Elke nou en dan daag die korporaal daar op en verskrou die verbouereerde rower omdat die generaal nog nie daar is nie. Die roof is later oortuig daarvan dat dit sy totale skuld is dat die generaal nie betyds is nie.

Ten einde laaste kom die lelike groen Holden-motorkar daar aangery met ʼn drywer voor en die generaal wat stokstyf links agter sit. Die Holden kom so effe tot stilstand daar by die waghek.

Dis toe dat die rower driftig klop aan die venster by die generaal se kant. Ewe gehoorsaam draai die generaal die venter oop. “Is jy die generaal?” vra die rower. “Ja troep,” antwoord die generaal heel bedeesd. “My korporaal is die hel in vir jou omdat jy so laat is. Jy beter ʼn goeie verskoning uitdink.”

Ek dink die generaal het mooi gehoor want die korporaal was toe heel tevrede met hom en het later geen moeilikheid uitgedink vir die generaaltjie nie.

Dit laat verlang my sommer na ou Micky Mouse – ons RSM daar by die lugmagbasis op Voortrekkerhoogte. Dis weer die dag groot parade en die hele eskader is daar – natuurlik nou die troepe. Micky staan op so ʼn houtpodium aan die noordekant van die paradegrond. Dis warm en Micky se oormaat ore wapper so bietjie-bietjie in die ligte briesie. Hy staat daar vasgenael voor ʼn mikrofoon en bulder bevele uit oor die paradegrond. Dit gaat alles heel voorspoedig tot ons kom by die “oop-orde-mars”. Die span wat vorentoe marsjeer kry dit darem so min of meer reg. Maar die lot wat agteruit moet tree – hulle lyne lyk soos ʼn hond se agterbeen. Dis “oop” en “toe” en Micky spring later op en af en sy ore word al rooier en wapper dreigemente.

Meteens bulder hy uit: “Troepe, kyk nou mooi hoe maak mens.” Met dié bevel tree Micky Mouse mooi drie treë terug. Maar hy’t hom skoon misreken met die breedte van die podium! Daar stort Micky Mouse agteroor van die podium af en val op sy rug. Gelukkig was die bedryf net so kniehoog en daar was darem bietjie gras om sy storting so effe te stuit. Maar die val laat sy twee ore eintlik so kaplaks teen die bodem klap.

Daar is ʼn doodse stilte oor die hele paradegrond. Alger vrees dat die hel nou gaat losruk. Maar Micky is nie links nie. Hy lê bedink die gebeure so bietjie toe spring hy sommer ewe heldhaftig daar op en gaat staat opreg daar voor die mikrofoon. Hy sit sy pet mooi vierkantig op sy kop en trek sy das en baadjie reg. Toe bulder hy: “Lag.”

Dit was soos ʼn magtige dreuning wat oor die veld aangesweef kom. Die mense daar by Waterkloof het gedink dis weer ʼn Mirage wat onwettig die klankgrens breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Susan ·

Ag Koos, dit was nou ‘n lekker lag vertelling gewees. Baie dankie. Jy het my Donderdag beter gemaak!

OWO ·

Baie goeie skrywe.Dit laat my toe onmiddelik dink aan ons voorbereiding vir die uitklaring van ons 3 maande basiese opleiding van September 1976 te Saldanha-Baai.Die RSM het hulle Pikke Buys genoem en hy was die spesifieke dag ook agter die mikrofoon.Ons het in seksies voor hom verby marsjeer elk met ‘n JL voor.Die een JL was W Carr gewees en dit was nie sy dag gewees nie.Hy is tydens die oefening deur Pikke Buys oor die mikrofoon so twee keer uitgetrap, wat ek kan onthou.Terwyl ons nog so marsjeer kom daar weer ‘n stem oor die mikrofoon en uitgeskree” Carr,jy lyk soos ‘n kat wat op warm bakstene ronddans”Ek dog ek maak myself nat,soos ek lag.
Sulke dinge is in mens se geheue ingebrand.

Stephan de S ·

Dankie vir goeie ou herinneringe. Ek put net vreugde uit my gedagtes oor my weermagdae…lekker kommervrye dae. Ek het alles deurgemaak…..troepie, burgermag. grensdienste, offisier en kommandolid in totaal 30 jaar. Ek wens my seun was so bevoorreg om dit te belewe.

SjN ·

Laat my dink aan die samjoor, die hond en die toiletpapier op die heilige parade grond.

Nickey Jooste ·

My man het nog 2 jaar diensplig gedoen en se dit was die lekkerste tyd van sy lewe Hulle afgechop maar die Army het hom die man gemaak wat hy vandag is. Hy se as hy dit kon oordoen dan sou hy enige tyd. Die jongmense van vandag het nie disipline nie want daar is nie meer n Army diensplig soos in die ou dae

Carel ·

Om vir die ou SAW diens te gedoen het was n voorreg Dit was n ge- oliede masjien wat op alle silinders gevuur het.
Van die beste ter wêreld
My hart breek as ek sien hoe dit nou uitmekaar val.

Johann van Cullinan ·

Dit laat my ook skater lag, as ek terug dink.
Ons het ñ Luitenant gehad wat ons altyd geskêl het.
Troepe julle is ñ klomp luigatte. Baie goeie dae gewees. Ek was in 1 Onderhouds eenheid te Kimberley in 1993.

Gemaskerde Sopbeen ·

“Two Liner” is net vir ‘n vars troep erg…..tot hy “RSM” leer. 5SAI Ladysmith……Rooibaard!! Boshoek oefenplaas…..ek was ‘n medic, en wil nog steeds eendag ‘n Unimog hê!!!

piper ·

ek onthou mickey baie goed. ek was in die lugmaggimnasium gewees 1966. was fantasties en dit baie geniet.

Frik Lotz ·

Koos, baie goeie stories. Laat my terugdink aan my dae in die weermag. Ek was by 2 Spesiale Diensbataljon in Zeerust en het my grensdiens gedoen by 10 Pantser in Oshakati. Ja, dit was die goeie ou dae en die SAW was een vd beste weermagte wat daar was. Ek het met trots gedien in die ou SAW!

Elvira ·

Ek hou van die ou weermag stories van toeka se dae. Kan nounog onthou hoe fantasties die troepe op die paradegrond marsjeer het op die maat van die weermag orkes. My pa, sersantmajoor Frikkie Fourie was n RSM, baie streng, maar het dissipline afgedwing. Goeie ou dae toe soldate nog netjies en gedissiplineerd was.

Elvira ·

Maroela kan ons nie asseblief nog “army” stories kry nie. Sommer vir n maand aanmekaar.

Vra maar net ·

Ja asb MM. Mask asb ‘n spesiale afdeling oor die tipe stories. Dit herinner my baie aan my destydse verloofde ( nou oorlede) se 40 days toe hy ook in Kimberley was 1985 en al die stories wat hulle te vertelle gehad het. Van boots wat gebone word en broeke wat jippo nate ingestik was..

HPV ·

Wonderlike dae, tydens ons basies was ons egter nie so laggerig nie. Sal die ondervinding egter vir niks verruil nie. Vandag as weermag veteraan is ek trots dat ek deel van die ou weermag kon wees, dit was ‘n eer en voorreg!

Amanda ·

Ons vrouens onthou ook die ‘army dae’. Ek was ‘n 3de jaar toe ek douvoordag een oggend in Aug ’87 saam met hom en sy pa by Sturrockpark, my troepie moes gaan afsien vir sy 2 jaar diensplig – een van die ergste dae van my lewe…
Dit was 2 moeilike jare, maar my man praat vandag nog met groot ontsag en nostalgie van sy tyd as ‘n Ops Medic.
En ek onthou al die briewe, verlang en wag by die koshuistelefoon 4uur in die oggend (want dan is daar nie rye by die foonhokkies in die kamp nie) net om sy stem te kan hoor…

GP ·

1986 ,, ESKADER 7 , VLUG 7 , beste tyd van my lewe sal enige tyd weer diensplig gaan doen !!!

Theoman ·

In 1968 standerd nege kry ek met trots my weermag nommer wat ek tot nou toe nog kan onthou, as roof moes jy jou army nommer enige tyd dag of nag kon opse, wonderlike tye, en met trots jou uniform gedra, daar gesien hoe van mamma seuntjies mans gemaak word,geleer om jou boots”te boune” blink voor en agter, manne dit was lekker inni Army Vandag se jonges mis iets wat ongelooflik lekker was, nog steeds al my kit.

Erich ·

Was in 69 by Artillerie skool in Potchefstroom and daarna Walvisbaai.
Van die woorde wat ons as rowe genoem is kan ek nie herhaal nie maar watter wonderlike jare ook veral in Namibia.
Onthou nou nog my magsnommer en R1 se nommer
Hoop julle publiseer nog stories

GM van Rooyen ·

Erich
Ek was ook in 1969 in die Artillerieskool buite Potch. Onthou jy bombardeurs Kemp en Cocken en die maer, lenige stafsersant, het sy van vergeet. My barrakmaats was o.a. Lemkus, Cucarakis, Roy (vergeet sy van) wat karate kon doen en talle ander.

GM van Rooyen ·

Erich
Ek was ook in 1969 in die Artillerieskool buite Potch. Onthou jy bombardeurs Kemp en Cocken en die maer, lenige stafsersant, het sy van vergeet. My barrakmaats was o.a. Lemkus, Cucarakis, Roy (vergeet sy van) wat karate kon doen en talle ander.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.