‘Army’-storietjies

Argieffoto

Deesdae is dit mos gewild om die ou dae se army sleg te sê van alle kante af. Elke ou wat ʼn litteken iewers het pak die skuld voor ʼn korporaal se deur en hang die groot klok aan sy onweerlegbare hartseer.

Ek wonder maar net hoeveel van hulle het reeds verflenter daar aangekom? Maar in ieder geval; ek voel nie so oor die ou dae se army nie.

Daai jare was nuwe dienspligtiges mos ʼn “roof” genoem. Dit was die nutteloosste soort van ding denkbaar. En dan was daar ʼn ouman. Hulle was die belangrikste mense in die army veral as hy nog so ʼn lekker “droopy” snor gehad het. Uitgeleer en vol wysheid en magtig in sy onverskrokkenheid. Vir ure kon hulle jou vasgenael hou met onweerlegbare dapperhede terwyl hulle heldhaftig op die grens geveg het vir volk en vaderland. “GV’s” het ons hulle genoem – dis nou vir “Grensvegter”. Maar die hoogste rang in ʼn roof se gedagtegange was dié van ʼn korporaal.

So vertel hulle van die groot uitklaarparade daar by Voortrekkerhoogte. Dis nou die parade waar mens jou rowerdae groet en opbeweeg in belangrikheid. Die basiese opleiding is klaar en jy verlaat nou jou babaskoentjies vir gevorderde opleiding. In ieder geval staan die hele eskadron op die paradegrond en wag vir die generaal wat die parade sal kom inspekteer en die finale groetwoord sal rig voordat die rowers die rowwe grootmens-lewe betree.

Maar die generaal daag nie op nie en die manne op die paradegrond is later lam gewag.

Só plaas ʼn korporaal ʼn roof daar by die ingangshek om te verspied en as die generaal inkom, moet hy hol laat dit bars na die paradegrond en die spul loop waarsku wat hulle lê gemaak het in elke soort skaduwee. Die roof bespied en wag maar die generaal is nie te siene nie. Elke nou en dan daag die korporaal daar op en verskrou die verbouereerde rower omdat die generaal nog nie daar is nie. Die roof is later oortuig daarvan dat dit sy totale skuld is dat die generaal nie betyds is nie.

Ten einde laaste kom die lelike groen Holden-motorkar daar aangery met ʼn drywer voor en die generaal wat stokstyf links agter sit. Die Holden kom so effe tot stilstand daar by die waghek.

Dis toe dat die rower driftig klop aan die venster by die generaal se kant. Ewe gehoorsaam draai die generaal die venter oop. “Is jy die generaal?” vra die rower. “Ja troep,” antwoord die generaal heel bedeesd. “My korporaal is die hel in vir jou omdat jy so laat is. Jy beter ʼn goeie verskoning uitdink.”

Ek dink die generaal het mooi gehoor want die korporaal was toe heel tevrede met hom en het later geen moeilikheid uitgedink vir die generaaltjie nie.

Dit laat verlang my sommer na ou Micky Mouse – ons RSM daar by die lugmagbasis op Voortrekkerhoogte. Dis weer die dag groot parade en die hele eskader is daar – natuurlik nou die troepe. Micky staan op so ʼn houtpodium aan die noordekant van die paradegrond. Dis warm en Micky se oormaat ore wapper so bietjie-bietjie in die ligte briesie. Hy staat daar vasgenael voor ʼn mikrofoon en bulder bevele uit oor die paradegrond. Dit gaat alles heel voorspoedig tot ons kom by die “oop-orde-mars”. Die span wat vorentoe marsjeer kry dit darem so min of meer reg. Maar die lot wat agteruit moet tree – hulle lyne lyk soos ʼn hond se agterbeen. Dis “oop” en “toe” en Micky spring later op en af en sy ore word al rooier en wapper dreigemente.

Meteens bulder hy uit: “Troepe, kyk nou mooi hoe maak mens.” Met dié bevel tree Micky Mouse mooi drie treë terug. Maar hy’t hom skoon misreken met die breedte van die podium! Daar stort Micky Mouse agteroor van die podium af en val op sy rug. Gelukkig was die bedryf net so kniehoog en daar was darem bietjie gras om sy storting so effe te stuit. Maar die val laat sy twee ore eintlik so kaplaks teen die bodem klap.

Daar is ʼn doodse stilte oor die hele paradegrond. Alger vrees dat die hel nou gaat losruk. Maar Micky is nie links nie. Hy lê bedink die gebeure so bietjie toe spring hy sommer ewe heldhaftig daar op en gaat staat opreg daar voor die mikrofoon. Hy sit sy pet mooi vierkantig op sy kop en trek sy das en baadjie reg. Toe bulder hy: “Lag.”

Dit was soos ʼn magtige dreuning wat oor die veld aangesweef kom. Die mense daar by Waterkloof het gedink dis weer ʼn Mirage wat onwettig die klankgrens breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Susan

Ag Koos, dit was nou ‘n lekker lag vertelling gewees. Baie dankie. Jy het my Donderdag beter gemaak!

OWO

Baie goeie skrywe.Dit laat my toe onmiddelik dink aan ons voorbereiding vir die uitklaring van ons 3 maande basiese opleiding van September 1976 te Saldanha-Baai.Die RSM het hulle Pikke Buys genoem en hy was die spesifieke dag ook agter die mikrofoon.Ons het in seksies voor hom verby marsjeer elk met ‘n JL voor.Die een JL was W Carr gewees en dit was nie sy dag gewees nie.Hy is tydens die oefening deur Pikke Buys oor die mikrofoon so twee keer uitgetrap, wat ek kan onthou.Terwyl ons nog so marsjeer kom daar weer ‘n stem oor die mikrofoon en uitgeskree” Carr,jy… Lees meer »

Stephan de S

Dankie vir goeie ou herinneringe. Ek put net vreugde uit my gedagtes oor my weermagdae…lekker kommervrye dae. Ek het alles deurgemaak…..troepie, burgermag. grensdienste, offisier en kommandolid in totaal 30 jaar. Ek wens my seun was so bevoorreg om dit te belewe.

SjN

Laat my dink aan die samjoor, die hond en die toiletpapier op die heilige parade grond.

Nickey Jooste

My man het nog 2 jaar diensplig gedoen en se dit was die lekkerste tyd van sy lewe Hulle afgechop maar die Army het hom die man gemaak wat hy vandag is. Hy se as hy dit kon oordoen dan sou hy enige tyd. Die jongmense van vandag het nie disipline nie want daar is nie meer n Army diensplig soos in die ou dae