As jy jou Kersgeskenk wil omruil

Argieffoto (Foto; Bob Dmyt f/Pixabay)

Dis die dag ná Kersfees en almal herstel nog van te veel eet en partytjie hou. Al die kinders is besig met hul nuwe speelgoed wat die man in die rooi jas gebring het, maar jy is minder gelukkig met iets wat vanjaar in jou Kerskous was. Kan jy dit gaan omruil? Ina Opperman verduidelik wat jou regte is as jy jou Kersgeskenk wil omruil.

Die meeste winkels sal jou nie te veel probleme gee as jy jou Kersgeskenk wil omruil nie, veral nie as jy dit doen in die eerste week ná Kersfees nie. As jy weet by watter winkel die geskenk gekoop is en veral as jy ʼn betaalstrokie het, sal jy sommer gou geholpe raak.

Onthou net: dit is nie jou reg om iets om te ruil net omdat jy nie daarvan hou nie. Jy maak staat op die winkel se goeie wil om dit vir jou om te ruil, omdat jou regte om iets wat ʼn defek het om te ruil, kragtens die Wet op Verbruikersbeskerming, nie hier van toepassing is nie.

Wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming?

Volgens artikel 56 kan jy goedere, wat onder meer onveilig of foutief is, teruggee. Artikel 20 van die wet bepaal weer jy kan iets teruggee wat tydens ʼn transaksie gekoop is wat met direkte bemarking verband hou.

  • Artikel 56 bepaal jy kan goedere ook teruggee as jy nie kans gekry het om dit na te gaan nie, as die produk van swak gehalte is of as jy geweier het om goedere, wat jy nie bestel het nie, te aanvaar. Hierdie artikel maak ook voorsiening daarvoor dat jy iets binne 10 werksdae kan teruggee as dit nie geskik is vir die doel waarvoor dit gekoop is nie en jy die onderneming ook laat weet dit is nie geskik vir die doel nie.
  • Artikel 20 bepaal jy kan goedere teruggee en jou geld terugkry nadat jy ʼn aankoop in terme van direkte bemarking gekanselleer het binne die afkoeltydperk.

Hierdie goedere kan jy nie omruil nie

Jy kan nie goedere teruggee as dit verbied word deur ’n openbare gesondheidsregulasie nie. Jy kan dit ook nie teruggee as jy dit gedeeltelik of heeltemal uitmekaar gehaal het, fisies aangepas, permanent geïnstalleer, vas- of aangeheg, aangelas of bygevoeg, vermeng of gekombineer, of vasgelê het in ander goedere of eiendom nie.

Omruilings

Gewoonlik kan jy slegs produkte omruil as jy ʼn faktuur of kwitansie het om te bewys dat jy die goedere gekoop het. Gelukkig is die meeste groot winkels gewillig om geskenke sonder ʼn strokie om te ruil net ná Kersfees. Jy sal egter nie baie sukses hê as dit iets is wat spesiaal vir jou gemaak is nie.

As jy liewer die geld wil hê

Jy kan vra dat jou geld terugbetaal word indien die item in die oorspronklike, onoopgemaakte verpakking is. Die winkel kan egter ʼn bedrag hef as dit oopgemaak is, maar nog in sy oorspronklike toestand in die oorspronklike verpakking is.

Indien jy die produk al gebruik het, kan die winkel vereis dat jy ʼn bedrag betaal vir die gebruik daarvan, tensy dit iets is wat gewoonlik opgebruik word. As jy ʼn bietjie gebruik het om te sien of jy daarvan hou, hoef jy nie daarvoor te betaal nie.

Die winkel kan vra dat jy ’n redelike bedrag betaal om die goedere te herstel sodat dit weer verkoop kan word, maar as dit nodig was om die verpakking te vernietig om dit oop te maak om te sien of dit die regte produk is of indien jy dit nie vooraf kon nagaan of as dit nie geskik is vir die doel waarvoor jy dit gekoop het nie, hoef jy nie hierdie bedrag te betaal nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor kleinhandelaars wat nie hou by die bepalings oor omruilings van die Wet op Verbruikersbeskerming nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.