As Kersfees nie volgens plan verloop nie

Foto ter illustrasie. (Foto: Buzz Andersen/Unsplash)

Net soos wat die geval dikwels met troues is, verloop Kersfees ook nie altyd volgens plan nie…

’n Vriendin het haar twee voortande op Oukersaand verloor net voor sy gasvrou moes speel. ’n Jong vrou het die Kerskalkoen verkool waarmee sy skoonma moes beïndruk en die vader van een huis is per abuis vir drie uur lank in die solder toegesluit waaruit hy nie kon ontsnap nie omdat die slot gebreek het. Dit het gelukkig darem ná die Kersmaal gebeur, maar toe het sy gesin ’n bietjie gaan skuinslê en só diep ingesluimer, dat niemand sy noodkrete kon hoor nie.

Met die Covid-19 behoort vanjaar se Kersfees vir talle ook ongewoon te wees. Soos een Covid-19-voos Facebook-vriendin droog opmerk” “Hierdie een het potensiaal.”

Met soveel kinders oorsee en die streng reisverbod wat in talle lande ingestel is, is dit te betwyfel of menige gesin vanjaar voltallig rondom die Kerstafel sal kan aansit. Doen jy egter navraag onder mense oor hoe Kersfees hulle al onkant betrap het, wil jy sommer lag. Of huil.

Kersfeesrampe

My vriendin het op Oukersdag deur die middel-Karoo gereis en wou op haar glansrykste vir die groot dag lyk, toe die heelal teen haar saamgesweer het en albei haar voortande op onverklaarbare wyse uitgeval het. Daar was geen tandarts in sig nie. Ná heelwat gebede het ’n tandarts toe tot haar redding gekom.

Almal is ook nie huishoudelike godinne nie. Dit het al gebeur dat ’n jong huisvrou oorskietkos vir haar gaste moes opdis nadat sy besluit het om groente in Tupperware-bakke saam met die Kerskalkoen in die oond warm te hou. Ongelukkig het die bakke gesmelt en op die gourmet-kalkoen en gebakte aartappels gedrup. Oneetbaar!

Ja-nee, jy kan maande lank aan die volmaakte Kersete beplan, maar ongelukkig laat Murphy’s Law hom nie voorskryf nie. Moeder Natuur het ook ’n wil van haar eie.

Selfs die Kerskoek kan klaaglik flop as die bakster die hoeveelheid brandewyn wat daarin moet beland en dié wat sy self vir bak-inspirasie afsluk, per abuis omgeruil het.

Huishoudelike rampe kom dwarsdeur die jaar voor, maar as dit nou juis op Kersdag moet gebeur as die res van die land hom in ’n semikoma bevind en geen ridder tot jou redding kom nie, is die Kaaps beslis nie Hollands nie.

Op ’n kletswerf vertel ’n man dat ’n pyp op die boonste verdieping van hul huis op Kersdag gebars het wat die hele huis oorstroom het. Gelukkig is hierdie probleempie opgelos, maar toe gee die televisiestel en Kersliggies sommer ook die gees. ’n Ekstra kersie op die Kersfeesmiskoek. Toe die stoof ook nog oppak, het niemand mekaar meer ’n Geseënde Kersfees toegewens nie.

Maar mens moet kyk na wat jy het, eerder as na dit wat jy nie het nie. Hulle het darem nog ’n dak oor hul koppe gehad, het hulle mekaar met aangeplakte geesdrif getroos.

Kersfees lei beslis nie altyd tot vrede op aarde nie. Een jong vrou is onterf toe sy op die einste 25 Desember met haar groot liefde, wat nie haar pa se goedkeuring weggedra het nie, verdwyn het. Sy sou kamma vulsel vir die Kerskalkoen gaan koop het. Haar pa het daarna hierdie lekkerny van alle toekomstige Kersspyskaarte geskrap.

Mens moet liefs ook maar nie jou lyf nutsman op Kersdag hou nie. ’n Vrou vertel hoe sy en haar ouers ’n rustige Kersdag wou deurbring. Net die drie van hulle. Haar pa kry toe skielik ’n bevlieging om iets in die solder te gaan regmaak wat ’n trek in die huis veroorsaak het (dit was seker koud). Hulle het die solderdeur agter hom toegemaak en van buite af met ’n knip toegemaak sodat, die hemele behoed, hy nie sou uitval nie. Hulle het afgespreek dat hulle hom sou “vrylaat” sodra hulle ’n klop aan die solderdeur hoor. Ma en dogter het toe ’n Kersfliek gekyk en daarna aan die slaap geraak.

“Pa was rooi van woede toe ons hom uiteindelik na drie uur se gehamer gehoor het”, vertel sy dogter later.

Suid-Afrikaners se Kersvieringe verloop ook nie altyd presies soos beplan nie.

My ma was Nederlands en die hoogtepunt op ons Kerskalender was die Sinterklaaspakkie vol verrassings wat my grootouers jaarliks vir ons uit Nederland gestuur het – propvol lekkernye met die beste Nederlandse gebak soos spekulaas, stroopwafels en marsepein.

Een dag los my ma die pakkie op die motor se enjinkap toe sy op die plaas aankom en dra eers al die kruideniersware in die huis in. Toe sy weer by die kar kom tref sy die twee doodgelukkige honde, Pasha en McGregor al kouend en kwylend aan nadat hulle pas die laaste krummels van die eetbare inhoud verslind het.

Kersfees in die lug

Wyle Machteld Minnaar, wat ’n joernalis van beroep en ’n geesdriftige reisiger was, het vertel hoe sy haar 21ste verjaardag êrens in die lug bo Afrika op pad terug van Europa gevier het.

“Ons het met KLM gevlieg en my reismaats het net mooi alles probeer, maar die stugge waardinne was nie juis in die bui vir feesvieringe na middernag nie. Uiteindelik het ons darem ’n klein botteltjie wyn gekry waarmee ons saggies ’n heildronk kon instel.”

My vriendin Annelize Hansen wat dekades lank ’n vlugpersoneellid was, sal nooit haar Kersdae op die vliegtuig vergeet nie. Sy het menige keer 25 Desember al vlieënde oor groot oseane tussen nêrens en êrens deurgebring,

“Daar was ’n feestelike atmosfeer op die vliegtuig wat pragtig met kranse versier is. Die lugwaardinne het takbokhorinkies gedra en daar was Kersmusiek.

Kersfees oorsee of in die vreemde

’n Suid-Afrikaanse Facebook-vriendin onthou ’n Kersdag van dekades gelede terwyl sy en haar ouers ewe idillies in die Karibiese Eilande geseil het. Toe tref Orkaan Claus die Maagde-eilande en moes hulle hul seiljag in ’n inham in St. Thomas vasanker. Hulle het by ’n hotel ingeboek en die volgende dag ontdek dat honderde seiljagte verpletter is.

“Ons het op ’n opblaasbootjie gevaar en na al die skade gekyk. Ons jag was darem ongeskonde. Dit was omtrent ’n avontuur!”

Die bekende en bekroonde joernalis Susan Puren het Kersdag in 1980 in ’n bomskuiling op ’n kibboets in Jerusalem in Israel deurgebring. Hoewel daar nie bomme was nie, het die Israeli’s dit vir hulle (die vrywilligers) beskikbaar gestel om op Oukersaand bymekaar te kom.

“Daar was 9 van ons: 2 van Australië, 2 Britte, ’n Deen, 3 Amerikaners en ek. Ons het Kersfees sonder geskenke gevier. Dit was onvergeetlik!”

Ailsa Henderson wat 12 jaar gelede stoksielalleen Nieu-Seeland toe geëmigreer het, se eerste Kersfees was ’n fees.

Sy vertel:” Ons was drie gesinne wat pas daar aangekom het. Ons het niemand daar geken nie en toe besluit om almal saam Kersfees te vier. Dit was ’n wonderlike dag. Wat my egter gepla het, is dat ek in Ladismith Natal, almal geken het. Oral op straat het iemand jou gegroet of ’n geselsie aangeknoop. In Cambridge het ek nie ’n siel geken nie. Toe iemand my uiteindelik een dag in ’n supermark groet, het ek omtrent oor die maan gespring.

Rina Coetzee Gous en ’n vriendin het in 1989 rondom Kerstyd deur Europa gereis en Kerstyd op die eiland Kos beland waar die meeste eetplekke sowaar toe was. Hulle besluit toe om hulself in ’n gesinshotel te bederf – ’n groot plek met raserige Griekse families en niemand praat ‘n woord Engels nie. Dit was mos nie die toeristeseisoen nie. So eet hulle Kersete met lam en ander Griekse lekkertes – aan ‘n groot tafel, want die hele restaurant is so gedek. Sy sit langs een van daai ou tannies met die swart rokkies en lang beenhare. Hulle verstaan nie ‘n woord van mekaar se taal nie, maar sy vat elke nou en dan haar hand en druk dit.

“Daar was nie geskenke of oproepe huis toe nie, maar dit was ‘n mooi Kersfees wat ek altyd sal onthou”, vertel sy.

Annette Reed was met vakansie in Kasane, Botswana en het rustig vergeet dis Kersdag. Toe moes sy maar verlief neem met boerewors en sousboontjies en ‘n reuse krokodil vir geselskap nadat sy lank in die bakkie gesit het.  

Abrie Snyman was stoksielalleen op Kersdag in Buenos Aires waar hy toe Kersfees met ’n groep Spanjaarde gevier het wat net Spaans kon praat. “Google Translate het gehelp,” vertel hy laggend.

 As ’n kind op Kersdag verjaar

Om op Kersfees te verjaar, is vir ’n kind ’n ramp. Hulle hou net mooi niks daarvan om net een geskenk te kry nie. Twee vlieë met een klap mos. Lekker prakties. Dis pure afskeep.

Hy was altyd op Kersdag dikbek, vertel ’n vriend wat ’n sielkundige van beroep is.

“Die Kerspakkies is al weke voor die tyd onder die boom uitgestal. Dan het ek myne skelm oopgemaak, gesien dis iets soos sokkies of iets wat ek glad nie wou hê nie, toe is ek sommer die hele Desembermaand die duiwel in!”

Petra Bronn vertel ook: “Ek verjaar op Kersdag en as kind was dit vir my so onregverdig! Dikwels het selfs naby familie van my vergeet op hierdie groot dag… wat ek as kind nie heeltemal mooi verstaan het nie.

“Die jaar toe ek veertien geword het, sal my altyd bybly. Soos gewoonlik die geval was, het almal by my ouerhuis byeengekom. Ek het buite gestaan toe my ouboet en gesin stilhou en ek kon aan die uitdrukking op sy gesig sien hy het ook weer vergeet, maar toe gesnap… Hy dink vinnig toe hy die kattebak oopmaak en ’n reuse–waatlemoen in my arms stop.

“Hy het my gelukgewens en ek, pure wintie tiener, het dankie gesê vir my kastige geskenk en besluit om dit alleen op te eet uit pure opstandigheid. Ek sal daardie Kersdag nooit vergeet nie. Ek het myself skoon oortref met waatlemoen eet, maar het ’n salige gevoel van tevredenheid beleef, so asof ek uiteindelik almal wat my altyd vergeet het, teruggekry het deur hulle op Kersdag van ’n stukkie waatlemoen te beroof.

Trouklokke op Kersdag

Vir die geliefde skrywer Alta Cloete was Kersdag, 41 jaar gelede, ’n dubbele vreugde omdat sy en haar man sommer besluit het om op hierdie dag ook te trou. Sy vertel:

“My aanstaande skoonpa is daardie Oktober oorlede, net ná ons verloof geraak het. Ek het herinneringe van my suster se troue jare tevore, kort ná my eie pa se dood en hoe swaar dit vir my ma was. Onbewustelik wou ek dit vir my skoonma spaar en wou dus nie ‘n groot troue hê nie. Ons kon dit in elk geval ook nie bekostig nie en nie ek of my man hou regtig van groot gedoentes nie.

“Dinge het so gewerk dat dit óf die naweek voor óf die naweek ná Kersfees sou wees en toe kom ons agter Kersdag is goedkoper omdat dit ‘n Dinsdag was! Ons besef toe dan kom die families in elk geval bymekaar en ons hoef nie ekstra moeite vir die klein troue te maak nie. My ma het agterna gesê dit was die lekkerste troue van al haar dogters (ons was 6), want daar was nie soveel spanning nie. Soms dink ek ek kon myself darem ‘n bietjie meer van ‘n bederfdag gegun het, maar ons is darem nog ná 41 jaar bymekaar en dis wat saak maak.”

Verhale van Facebook

Facebook-vriende vertel ook van hul onbeplande en vreemde Kersfeeste.

Sy het Kersete saam met haar niggie in ’n hospital se kafeteria genuttig terwyl haar neef in ’n koma was – Doreen Gough

Haar eerste baba is op 24 Desember gebore. Sy was in die hospitaal en haar man het sy Kersete in die provinsiale hospitaal geëet – Estelle Brits

Haar neef het op Kersdag uit ’n boom geval. En dit nadat sy ander neef hom gewaarsku het. Sy arm was op drie plekke gebreek. Al die kos is net so gelos en almal is hospitaal toe waar hy geopereer moes word. Toe deel hulle maar geskenke in die hospitaalsaal uit – Ilisna Nel

Dit was die eerste jaar ná haar pa se dood. Sy was 8 jaar oud en gewoond daaraan dat haar pa die Kersboom versier het. Haar ma het nie lus gevoel om vir drie mense te kook nie, maar al die restaurante is toe vol bespreek. Toe vier hulle maar Kersfees met hamburgers en melkskommels by die Lollipop Roadhouse.” – Rina Coetzee Gous.

“Die vreemdste Kersfees? Ek dink hy kom nog.” – Die aktrise Rina Nienaber.

“Ek was genooi om Oukersaand en Kersdag saam met vriende in ’n gastehuis te vier. Toe offer ek dit op vir ’n eensame vriendin, dek ’n tafel prentjiemooi en maak fillet met appelliefies, vinnig gebraai in pansappe. Ek wag steeds dat sy opdaag.

“Toe deel ek die maal op kort kennisgewing met Basjir, ‘n Moslem van Ghana. ‘n Ongewone vriendskap is daardie aand gesmee. Hy het later vir my ’n bos blomme op my verjaardag op Onrus laat aflewer, my met masserings by ’n Spa en etes in Westcliff bederf as hy sakereise na Johannesburg toe geneem het.

“Hy was ook alleen en het daardie Kersfees ’n donker tyd beleef. Dit wat saak maak is wie jy nooi om jou Kerstafel te deel.”

Kersfees agter tralies

Was jy al Kersfees in die tronk? Ek sal hierdie partytjie van ’n paar jaar gelede waaroor ek vir my boek Bloed op haar hande – vroue agter tralies geskryf het, nooit vergeet nie. (Ek sal ’n gevaartoelaag vir my uitgewers moet begin vra.)

Ek en ’n groep vriendinne het Kersfeesvieringe agter tralies by ’n vrouetronk vir ’n groep gevangenes aangebied. Ons het almal goedgekeurde geskenke gebring. Ons was almal gasvroue en het tronkkos saam met die gevangenes geniet met ’n groot ronde lepel met ’n kort steel. (Enigiets kan ’n wapen in die tronk wees.) Taai hoender, marog en pap was ons voorland.

Later sê ek vir een van die bewaarders ek wil net een nag in die tronk deurbring. Maar ek soek ’n enkelsel en ’n Sealy. Sy lag en sê ek sal eers ’n misdaad moet pleeg voor hulle my toesluit.

“Ag wat, ek klap sommer iemand. Dis vir ’n goeie doel. Dis vir navorsing”, grap ek.

Net daarna stap ek ietwat te naby aan ’n enkelsel verby waar ’n bloeddorstige vrou sit. “She is possessed!” het die ander vroue my vooraf vertel. Ag, drama queens, dink ek. In ’n tronk word meer geskinder as in ’n haarsalon. Siestog kan sy nie maar vandag uitkom nie? Saam kom Kersfees vier nie? (Sy het darem ’n geskenk gekry.)

“Have a heart DKD (die department van korrektiewe dienste).

“Ek moes later ’n draai verby haar sel gaan loop. Skielik voel ek ’n ystergreep. Vyf staalvingers sink in my arm. Ek gil. Daar is ’n vinnige grynslag. En pandemonium. Ek is wraggies dwarsdeur die tralies deur ’n gevangene aangerand….

Maar ek het darem beter daarvan afgekom as my vriendinne wie se Kersfeesklappers gesteel is!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.