As ʼn skuldinvorderaar aan jou deur klop

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Verbruikers weet oor die algemeen wat hul regte is wanneer hulle om krediet aansoek doen, maar min mense weet wat om te doen as hulle nie hul rekeninge kan betaal nie en ʼn skuldinvorderaar tree met hulle in verbinding. Ina Opperman verduidelik wat jou regte as verbruiker is en wat die invorderaar se regte is.

Die heel beste manier om skuldinvorderaars te vermy is om jou skuld gereeld en op datum te betaal en as jy nie kan nie, met almal wat jy geld skuld in verbinding te tree en te vra dat hulle jou help om ʼn plan te maak sodat jy jou skuld dalk oor ʼn langer tydperk kan afbetaal.

Wat sê die wet?

Skuldinvordering word gereguleer deur die Wet op Skuldinvordering.

Wie mag skuld invorder?

Prokureurs of hul agente en geregistreerde skuldinvorderaars mag skuld invorder namens ʼn kredietverskaffer. Hulle mag die bedrag wat jy skuld, saam met rente soos deur die wet voorgeskryf, asook administrasie- en invorderingsfooie invorder. Eiendomsbestuurders kan ook skuldinvorderaars wees wanneer hulle agterstallige huur invorder.

Net geregistreerde skuldinvorderaars mag ʼn fooi daarvoor hef. Skuldinvorderaars moet geregistreer wees by die Raad vir Skuldinvorderaars. Die raad monitor die gedrag van skuldinvorderaars om te verseker dat hul optrede aan die raad se gedragskode voldoen. Jy kan by die raad aanklop om seker te maak ʼn skuldinvorderaar is wel geregistreer. Dit is ʼn strafregtelike oortreding om skuld in te vorder sonder om geregistreer te wees.

Hoe mag hulle skuld invorder?

Skuldinvorderaars mag skuld invorder deur middel van pos, telefoonoproepe of persoonlik. Hulle mag dokumente by jou aflewer en kan ook vra dat jy ʼn skulderkenning teken. Jy kan vra vir bewys van registrasie by die raad.

Dít is wat skuldinvorderaars nie mag doen nie

Volgens die raad se gedragskode mag skuldinvorderaars nie:

  • Meer geld invorder as wat jy skuld nie, afgesien van rente en die toegelate fooie.
  • Wanvoorstellings maak oor die aard van wat hulle doen nie of dreig om siviele of strafregstappe te doen as dit nie die geval is nie. Hulle mag byvoorbeeld nie voorgee om jou watermeter te kom lees en jou so in die hande probeer kry nie.
  • Kommunikasie gebruik wat lyk soos regsprosesse nie (dit sluit in briewe wat lyk soos ʼn dagvaarding).
  • Dreig om geweld te gebruik teen jou, jou gesin of eiendom nie.
  • Vieslike, lasterlike of dreigende taal gebruik nie.
  • Aanhou om met jou te kommunikeer as jy hulle na jou regsverteenwoordiger verwys het nie.
  • Jou verbaal of op skrif mishandel of intimideer om jou skuld te betaal nie.
  • Jou besoek of voor jou huis of werkplek parkeer in ʼn motor wat duidelik aandui dat dit aan ʼn skuldinvorderaar behoort en jou so in die verleentheid stel nie.
  • Vervalste regsdokumente aan jou beteken nie.
  • Fooie hef wat meer is as wat die raad voorskryf nie.
  • Valse inligting oor jou kredietwaardigheid versprei of dreig om dit te doen nie.

Jou regte

Jy het die volgende regte wanneer jy deur ʼn skuldinvorderaar genader word:

  • Jy mag regsadvies kry voordat jy enigiets teken.
  • Jou waardigheid moet te alle tye gerespekteer word.
  • Die hele saak moet vertroulik hanteer word. As hulle jou bel en jou eggenoot antwoord, mag hulle nie aandui waarom hulle met jou wil praat nie.
  • Jy mag nie tussen negeuur saans en sesuur soggens en op Sondae genader word nie.
  • Jy mag nie geteister, verneder of gedreig word nie.
  • Jy moet elke ses maande ʼn gratis rekeningstaat kry.

Die skuldinvorderaar se regte

Skuldinvorderaars mag met jou kontak maak om skuld te betaal en hulle het die reg om die voorgeskrewe fooie te hef.

Kla hier:

Jy kan oor skuldinvorderaars kla by die Raad vir Skuldinvorderaars. Alle klagtes moet onder eed gedoen word en op skrif wees.

Jy kan ook skuldinvorderaars wat ongeskik is of jou teister, verkla by die raad. Die raad kan ondersoek instel na maatskappye wat skuldinvordering doen en groot boetes hef indien die raad bevind dat ʼn skuldinvorderaar nie by die gedragskode gehou het nie.

Indien jy nie gelukkig is met die bedrag wat ingevorder word nie, kan jy vra vir die inligting op skrif en die bedrag betwis.

Besoek die raad se webwerf hier: http://www.cfdc.org.za.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.