Bankkoste: Spaar só geld by jou bank

geld-spaar-finansies-berekeninge

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Natuurlik spaar almal geld by hul bank, maar verbruikers kan ook geld spaar by hul bank deur te kyk na hul bankkoste. Jy betaal vir die dienste wat jou bank aan jou lewer en jy betaal nie dieselfde vir al hierdie dienste by elke bank nie. Dit is dus belangrik om te kyk hoeveel jy vir al die dienste van jou bank betaal en dit te vergelyk met hoeveel jy by ander banke daarvoor sal betaal. Ina Opperman gee raad oor waarna jy moet kyk wanneer jy bankkoste vergelyk.

Net soos enige ander onderneming vereis banke ook dat jy vir hul dienste betaal. Elke bank bied ʼn pakket dienste aan verbruikers in verskillende kategorieë en hef hul eie kostes daarvoor, afhangende van die soort rekening wat jy het en wanneer jy geld uit die rekening trek of oorplaas, sê Hippo, wat die kostes van finansiële dienste vergelyk.

Verbruikers kan kies tussen spaar- en tjekrekeninge vir hul basiese bankbehoeftes en banke het verskillende opsies waaruit jy kan kies gebaseer op jou salaris.

Spaarrekeninge

Spaarrekeninge bied ʼn maklike manier om geld te spaar terwyl jy rente verdien en jy kan geld inbetaal en onttrek sonder om die bank vooraf in kennis te stel. Die fooie op spaarrekeninge is gewoonlik baie laag, maar jy betaal per transaksie, wat beteken jy kan op die ou end meer betaal omdat jy baie transaksies doen. Selfoonbankdienste om geld na of van jou rekening oor te dra is gewoonlik gratis. Die fooi vir ʼn spaarrekening sluit gewoonlik nie ander dienste soos debietorders en internetbankdienste in nie.

Al klink die naam spaarrekening asof jy die rekening net gebruik om in te spaar, is dit ʼn algemene rekening vir mense in laer inkomstegroepe om deel te neem aan amptelike bankdienste.

As jy soek na die heel beste opsie vir ʼn spaarrekening, wees op die uitkyk vir gratis transaksies by winkels waar jy jou kaart gebruik en die beste rentekoers. Loop egter lig vir gratis transaksies wat net die eerste twee OTM-onttrekkings dek, waarna jy baie meer betaal per transaksie. Kies ook liewer ʼn rekening met ʼn debietkaart wat jy kan gebruik om by winkels te betaal.

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Tjekrekeninge

As jy meer omvattende bankreningopsies wil hê, wat byvoorbeeld internetbankdienste en ʼn lojaliteitsprogram insluit, is ʼn tjekrekening ʼn beter keuse. As jy nie baie verdien nie, kies ’n bank waar jou salaris genoeg sal wees om ʼn tjekrekening te open. Maak seker jy vergelyk appels met appels, want ʼn duurder pakket kan dalk meer bied, soos onbeperkte gratis onttrekkings by betaalpunte.

Wenke

Hou gerus die volgende wenke in gedagte:

  • Gebruik liewer jou bank se OTM’s om geld te trek of ander transaksies te doen, want dit is goedkoper.
  • Probeer om liewer digitale kanale vir transaksies te gebruik, aangesien dit goedkoper is as om by ʼn tak van die bank jou banksake te doen.
  • Moenie te dikwels geld trek nie, want jy betaal per transaksie nadat jy al jou gratis transaksies opgebruik het.
  • Kies ʼn bank wat onbeperkte gratis kaarttransaksies bied.
  • Vermy boetefooie deur altyd genoeg geld in jou rekening te hou vir aankope en aftrekkings.
  • Vra jou bank om liewer jou bankstate per e-pos te stuur as om dit te pos, wat duurder is.
  • Pas jou bankkaarte mooi op. Jy betaal ekstra om ʼn nuwe kaart te kry.
  • Gaan gereeld jou bankstate na en hou rekord van jou maandelikse transaksies sodat jy beter kan begroot.
  • Moenie skaam wees om by jou bank navraag te doen oor opsies met laer bankkoste nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.