Bankrot geoes

Argieffoto (Foto: skeeze/Pixabay)

Mamma het altyd gepraat van oom Pietertjie Teut. Die oompie was skynbaar hul buurman destyds en was ʼn vreeslike ywerige leser van die Reader’s Digest. Ek weet nie van vandag nie maar destyds het verkoopsagente mos die vreeslike liegstories aan onse mense afgesmeer.

Soms het hulle self vir jou ʼn huis of woonstel se voordeursleutel gepos met die vae belofte dat as jy net hierdie nutteloosheid bestel, jy die trotse eienaar van die hemelse plek sal wees.

Só was oom Pietertjie se huis bepak met bordjies en lepeltjies en boeke van eksotiese plekke of dierasies van toentertyd. Maar saam met die sinneloosheid is daar dan altyd die belofte van ʼn wonderlike kontantprys. Dan kom oom Pietertjie daar by Oupa-goed aan en vertel hulle met smaak van die buurplaas wat hy sal koop of die nuwe stranderf in Langebaan. Die goed het skynbaar maar altyd in die pos weg geraak maar die nuwe bestellings vir die nikswerd goed het bly kom.

Ons Duitse vrouens kry destyds ʼn plaas by skoonpa doer teen die Mooirivier se onderent – dis nou die ene in Natal. Broer Nico boer laat dit bars en plant alle soorte van groente want hy het ʼn groeihand. So begin sukkel hy met brandrissies en later staan die hele Natalse brandrissie-liefhebbers tou oor die lekkernye. Nico plant en ek dryf lorrie, as ek kansie kry en ons smous en smokkel en koop sommer nog nuwe trekkers by die Koöperasie op Greytown. Die een dag kom daar so ʼn lang ordentlike man met ʼn slap plat kar aangery op “Lemora Orchards” – dis nou ons plaas se naam. Die mens praat Ingels met ons en vertel ons hy is die grootbaas van ʼn inmaakbedryf en hulle soek al onse rooirissies. Die man blo ons ʼn vreeslike prys en ons val vir die grappie. Toe vra hy sommer so terloops of ons nie vir hom ʼn klompie brinjal sal plant nie. Ons staar die mens stom aan want wat se ding is nou ʼn brinjal, maar sleep darem die HAT daar nader en sien toe dis geheel ʼn eiervrug. Die man soek sommer baie van die onbekendheid – soos in lande vol.

Hy belowe ons een vreeslike hoop geld en vertel hoe hy week vir week sommer lorrievragte van die goed verwerk, natuurlik saam met die brandrissie en asyn en sulke goeters. Ek bestorm die Departement Landbou Tegniese Dienste want die lot het destyds nog ietwat gewerk. Hulle pos my sommer ʼn hoop papiere wat ons mooi vertel hoe gemaak en ons plant. Die saad kry ons uit die Grote Amerika – net die beste en die tuinerye staat vol saailinge.

Later staan Lemora Orchards kant en wal onder die mooiste eiervrugte en ons begin pluk. Ek sien al hoeka hoe ek my ou Cressida inruil vir ʼn natnuwe Hi-Ace-bussie want die kleinspan sit die Cressida bektoe vol. Hierdie is nou uiteindelik ons se groot breekkans en van hier af is dit bult-af al die pad tot ons aftree teen die Weskus.

Daai Dinsdagoggend toe laai ons die lorrie ʼn volvrag met brinjal-goed en gooi bo-op sommer ʼn paar sakkies brandrissie en ek vat die wiel hier af na Verulam. Ry ewe manhaftig daar by die inmaakplek in, maar die spul laai so langtand af. Vat eers net die brandrissies en ek wag ek wag. Later kom stap daar ʼn juffertjie aan met die tjekkie vir die paar sak rissies en vertel my hulle stel nie eintlik belang in die res van die vraggie nie. Mooipraat en kwaadword help alles niks nie. Ek moet droëbek terugry. Loop laai toe die vrag nutteloosheid af by die groentemark in Pietermaritzburg maar daai hele plek kon nie die vraggie skrikmaak nie. Manalleen oor-voorsien ons die hele Suid Afrika aan eiervrug en later dink ons al aan uitvoer na Griekeland of iewers. Die agente op die markte hol geheel weg as ons iewers kom inry. Later van tyd het ons maar die vrot brinjals omgeruil met vars gepluktes maar in ieder geval het ons nie veel verkoop nie.

Dis toe dat Nico my eendag roep en vertel ons is nou bankrot geoes. Die plaas moes maar gaan. Dit het ek geleer toe, “vinnig geld is vrot geld”. Ons stap nou maar so rustig aan en bly weg van manne in slap motorkarre wat jou die hemel en Weskus kom blo.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

OWO ·

Julle moes net julle huiswerk beter gedoen toe julle met Landbou Tegniese Dienste beraadslaag het.(Terloops hulle was op eerste wereld standaard gewees.My pa was self ‘n landbou navorser daar en het produkte van internasionale standaard ontwikkel)Daar was landbou ekonome wat mens kon inlig, of sulke produkte in aanvraag was, in SA of nie.Boerdery is nie speletjies nie,soos my pa altyd vertel het.

humor ·

Wees tog maar getroos jy is nie enigste een nie. Jy is ook nie die eerste en laaste een nie, maar wees verseker al is jy ook hoe versigtig dit is ook nie die laaste keer wat jy dit sal oorkom nie.

Andreas ·

Die Afrikaner voel ook so, bankrot ge-oes deur die ANC regering.

Esme ·

Hartseer storie, maar mooi vertel, dat so n pers groente mens nou kan bankrot kan oes..

Ben ·

Een van die lewenslesse wat ek geleer is – “Haastige Hond verbrand sy mond” – Wanneer enige persoon na jou toe kom met ‘n haastige transaksie, werkie of enige iets dan weet jy dat die Duiwel agter die storie is. Dan steek jy vierkantig vas. Die haastigheid is so ontwerp dat jy nie tyd het om die slag gate korrupsie raak te kan sien nie. Hoe haastiger hulle is hoe stadiger is ek.

JAN ·

Tabak boerdery in besonder het die hele volk verwoes. Almal Bankrot en almal siek.
Misdaad teen die mensdom sedert 50 jaar gelede. Ontsaglike ramp.

Julle ken die storie – kry tog net ‘n beter produk asseblief.
Dankie Koos – uiters kosbaar – mooiste storie… ai.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.