Begin die nuwe jaar met ’n nuwe (ou) vriend

Jenny is by die DBV aangeneem

Dalk voel jou huis vir jou effe leeg ná die Kersvakansie en oorweeg jy om ’n nuwe vierbeenvriend aan te skaf. Dit is hoe 2017 vir my begin het en ongeveer vyf maande nadat my Jack Russell Milly dood is – ’n huis sonder ’n hond was net nie meer “tuis” vir my nie.

Laat ek net eers bieg. Van katte weet ek bitter min. Ons het maar altyd honde gehad. Dis nie dat ek nie van katte hou nie, ek weet eenvoudig net nie genoeg van hulle nie. Ek glo egter dat wat ek hier oor honde skryf, net so op katte van toepassing sal wees. Katteliefhebbers moet maar self oordeel.

Niemand kan ontken hoe oulik ’n babahondjie of -katjie is nie. Daardie skattige gesiggie, die onskuldige grootoog-ontdekking van die wêreld, die skok as die outjie die eerste keer nies, of by is wanneer die wasmasjien begin dreun…

Met dit in gedagte het ek begin rondsoek vir ’n babahondjie, en per toeval beland ek toe op die Facebook-blad van die Suid-Afrikaanse “Adopt a senior dog”.

’n Nuwe wêreld het oopgegaan en ek het besef hoeveel dierbare, pragtige diere verdoem is tot ’n lewe in hokke (of erger…) bloot omdat mense eerder ’n babadiertjie sal aanneem as een wat al volwasse is.  Dit het my oortuig om ’n ouer hondjie aan te neem en ek geniet elke dag saam met my baie energieke huismaat, Jenny.

Alana se baie energieke huismaat Jenny

Jenny het oor my pad gekom deur die Tshwane DBV – ek het haar foto die eerste keer gesien toe sy nog by Waltloo was. Ná sy na Centurion verskuif is, het ek haar daar aangeneem. Ten tye van die aanneming was sy volgens hulle skatting nege. Vandag is sy dus om en by twaalf, maar besonder energiek en baie lief vir stap. Ek is steeds dankbaar dat die DBV haar vir meer as vyf maande gehuisves het tot ons paaie gekruis het en ek haar kon aanneem.

My ervaring met Jenny was baie goed – sy is ’n wonderlike hond. Sy is baie intelligent, hou daarvan om tyd saam met my deur te bring sonder om heeltyd aandag te soek en het uitstekende huismaniere. Ek besef ook dit gaan nie met alle ouer diere die geval wees nie, maar hulle kan wel nuwe gedrag aanleer. Baie liefde en geduld is al wat nodig is.

Waarom sal ek in die toekoms altyd weer ’n volwasse, ouer hond aanneem?

  • My behoefte is aan ’n geselskapsdier, nie ’n hond om mee te teel nie.
  • Met ’n volwasse dier, weet jy wat jy kry. Die hond se voorkoms en grootte is seker. As jy ’n hok koop, kyk jy net of hy deur die veiligheidshek kan in en uit, of as jy wil weet hoeveel slaapplek nodig gaan wees, kan jy dit presies bepaal. Daar is geen verrassings met ’n kastige rasegte bulhond wat skielik ’n lang snoet kry soos hy ouer word, of ’n miniatuurhondjie wat skielik in ’n beer ontaard nie.
  • Instellings wat aannemings hanteer, kan help om te verseker dat die hond se geaardheid by jou lewenswyse gaan inpas – gaan hy of sy met jou ander troeteldiere en huismense oor die weg kom? Is hy of sy kindervriendelik? Teen die tyd wat die diere vir aanneming aangebied word, is die inligting gewoonlik al bekend.
  • Ouer diere het gewoonlik effens minder energie en avontuurlus. Jonger honde gaan dalk jou tuin opgrawe, maar afhangend van die ras, nie ’n ouer hond nie. Wyle Milly was op haar dag ’n ywerige grawer, maar Jenny het nog nooit ’n enkele gat gegrawe nie. As jy bowendien ’n kleiner erf het, of lang ure weg van die huis af werk, sal die ouer dier veel rustiger as ’n jong hondjie wees.
  • ’n Tragiese feit – ’n ouer aanneemhond het baie lae verwagtings van jou. Hulle is dikwels al mishandel en verstoot, so die geringste bietjie liefde word enorm baie waardeer en met oneindige lojaliteit en liefde beantwoord. Dit hou jou ook nederig.
  • Dikwels het die honde al die een of ander opleiding gehad – hulle weet waarskynlik hoe om aan ’n leiband te stap en het goeie huismaniere.
  • As jy ouer is, is dit verantwoordelik om somme te maak. Iemand wat 75 is, moet dink dat die kans dat hy of sy ’n hond vir die volgende 15 jaar gaan kan versorg, nie te hoog is nie, maar vir die volgende vyf jaar is dit wel baie moontlik. Nugtere feite, maar wel iets om in gedagte te hou.
  • Dan is daar ook interessante opsies – daar is byvoorbeeld ’n organisasie, Frosty Face Foster Programme, wat ouer worshonde in pleegsorg by gesonde bejaardes plaas en selfs hul veeartskoste subsidieer. So het die bejaarde dan geselskap, maar as hy of sy nie meer in staat is om die diertjie te versorg nie, het dit wel ’n heenkome.

Daar is wel ook nadele aan die aanneem van ’n ouer hond:

  • Hulle het dikwels al swaar tye beleef wat beteken hulle sal besmoontlik gesondheidsprobleme hê. Mediese skemas vir diere is ’n hedendaagse oplossing vir welgestelde troeteldiereienaars, maar die fondse aanvaar net nuwe kliënte tot op ’n sekere ouderdom. Jenny was byvoorbeeld reeds te oud. Finansieel gaan ’n ouer dier dalk groter uitdagings aan jou sak stel. My raad is soek ’n billike, goeie veearts.
  • Omdat hulle al slegte ervarings gehad het, reageer aanneemhonde soms onvoorspelbaar. Hanteer hulle aanvanklik met ’n oormaat geduld en vind uit wat hulle laat skrik – bepaalde woorde (“stout” is een woord wat jy nooit voor Jenny kan noem nie, sy tjank en kruip dadelik weg as sy dit hoor), voorwerpe (my ouers het ’n boerboel aangeneem wat vreeslik bang vir ’n tuinslang was omdat sy dikwels deur haar vorige eienaars daarmee geslaan is), of mense (my buurman se aanneemhondjie kruip weg vir vroue – haar vorige eienares het haar erg mishandel). Hulle mag selfs vreemde gedrag toon. Jenny het oral in die huis kos weggesteek tot sy besef het ek gaan haar elke dag voer.
  • Jy weet jou tyd saam met hulle gaan waarskynlik kort wees en die afskeid hartseer. Om daardie rede moet jy elke oomblik ten volle geniet!

Daar is baie webwerwe waar jy kan gaan snuffel as jy ’n bepaalde ras of grootte hond wil vind. Doen moeite en gaan kyk rond, ondersteun diereskuilings en neem aan eerder as om te koop.

Mag 2020 vir jou en jou viervoetige vriende ’n jaar vol pret en liefde wees.

Meer oor die skrywer: Alana Bailey

Alana Bailey is lid van die Afrikaanse Taalraad en adjunk uitvoerende hoof van AfriForum (verantwoordelik vir internasionale skakeling, taal en kultuur).

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Midnight se Ma ·

Ek stem so baie saam. Neem eerder aan as om ‘n ‘baba’ te koop. My ou aanneem windhond is nou al 9 jaar deel van ons huis (die eerste hond ooit wat ek aangeneem het; voor haar was dit altyd klein baba’tjies wat ek geglo het beter sou wees omdat net ek hulle sou grootmaak). Maar vandag kan ek met eerlikheid sê, my DBV ‘special’ is die hond wat my nog die meeste vreugde en liefde gegee het. Ek is van nou af net ‘n aanneem-ouer. Met haar lang bene, en haar skerp snoet, het sy my hele idee van honde en liefde heeltemal verander. ‘n Windhond is in elk geval net pure liefde.

Hê dié diere lief wat dit nodig het, anders lê daar ‘n eensame, hartelose lewe vir hulle voor.

Diertjie ·

Ons het ook n 8 jarige yorkie aangeneem wat n plesier!!! Adopet don’t shop!

Nika ·

Ek stem 100% saam, as jy eerder aaneem as koop dan gaan daar ook minder ‘breeders’ wat net geld maak uit baba hondjies wees.

amazing ·

AG dankie vir die wonderlike artikel, ek is so aangedaan nou, Alana het dit nou so mooi uitgespel, ag te pragtig, sy het my hart onder haar pen se punt!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.