Begroot vir finansiële sukses in 2019

Ronel Jooste (Foto: Verskaf)

Deur Ronel Jooste

Die heerlike Desembervakansie is verby en vir baie mense is Januarie ’n lang maand met baie uitgawes. Januarie is egter ook die tyd vir ’n nuwe begin en nuwe doelwitte. Verseker die ideale tyd om jou finansies vir 2019 in orde te kry. ’n Goeie tyd om die regte grondslag te lê om in ’n groot mate finansiële stabiliteit vir jou en jou gesin te kan skep en te kan volhou deur die jaar.

In Februarie elke jaar wag almal in spanning vir die minister van finansies om sy nasionale begroting bekend te maak. Die groot korporatiewe maatskappye wêreldwyd spandeer ook maande elke jaar om hul begrotings op te stel. As lande en groot maatskappye wat biljoene rande het om te spandeer, begrotings so belangrik ag, dan laat dit ’n mens wonder hoekom daar so baie individue is wat nie begrotings gebruik vir hul persoonlike finansies nie?

Sal jy toelaat dat iemand jou huis bou sonder ’n sterk fondasie? So waarom dan jou reis tot persoonlike welvaart aanpak sonder ’n begroting? ’n Effektiewe begroting verskaf ’n sterk fondasie as dit by persoonlike finansies kom, ongeag wat jou finansiële doelwitte of posisie is.

’n Begroting help:

  • om te beplan vir die toekoms;
  • om jou inkomstes en uitgawes te analiseer en te verstaan;
  • om jou uitgawes beter te bestuur;
  • om potensiële spaargeleenthede te identifiseer; en
  • om voorsiening te maak vir onvoorsiene gebeure.

Dit is geensins effektief om ’n begroting net in jou kop te hê nie. Skryf dit neer of stel ’n elektroniese begroting op. Stel ’n maandelikse begroting op vir ’n jaar vooruit. Doen egter ook vooruitskattings van wat jou planne is vir die volgende twee tot vyf jaar en vyf tot tien jaar. Die vooruitskatting sal jou help bepaal of daar groot gebeure of uitgawes gaan opduik gedurende die volgende paar jare waarvoor jy nou al moet begin spaar, byvoorbeeld ’n motor wat vervang moet word of ’n kind wat universiteit toe moet gaan.

Begroot vir beide jou inkomste en uitgawes, dit help jou om te bepaal of jy meer spandeer as wat jy verdien. Dit is belangrik om ’n gedeelte vir spaar of beleggings in jou begroting in te sluit; dit sal jou dwing om maandeliks geld te spaar en dit nie te spandeer nie.

Begroot ook vir onvoorsiene uitgawes. In baie gevalle is dit die rekenaar wat skielik breek en vervang moet word of die hond wat skielik veearts toe moet gaan, wat jou maandelikse finansiële welstand ’n lelike knou kan gee. As daar wel onvoorsiene uitgawes opduik, het jy voorsiening gemaak daarvoor in jou begroting en jy hoef nie rond te skarrel om geld in die hande te probeer kry nie. As daar geen onvoorsiene gebeure opduik gedurende die maand nie, het jy die geld beskikbaar om te spaar en ’n noodfonds op te bou. Met ’n noodfonds kan jy voorsiening maak vir enige groot onvoorsiene uitgawes wat in die toekoms mag opduik.

Nog ’n paar belangrike punte om doeltreffend te begroot:

  • Begroot in detail deur beide kontantuitgawes en uitgawes op jou bankstaat in ag te neem;
  • Maak voorsiening vir daardie klein uitgawes wat gou ophoop, byvoorbeeld ’n koppie koffie as jy by die vulstasie wag of daardie tydskrif by die betaalpunt;
  • Neem inflasie en jaarlikse verhogings in ag;
  • Indien jy skuld het, maak seker jy begroot vir moontlike stygings in die rentekoers; en
  • Begroot ook vir eenmalige uitgawes soos kinderpartytjies, Kersfeesgeskenke, hernuwing van lisensies, skoolklere, skryfbehoeftes, ensovoorts.

Moenie die belangrike rol wat ’n begroting in jou finansiële welstand speel, gering ag nie. Stel vandag nog ’n begroting op as jy nie reeds een het nie. As jy ’n begroting het, hou daarby.

Mag jou begroting jou help om finansiële sukses in 2019 te behaal!

  •  Ronel Jooste is ’n CA(SA), finansiële konsultant, spreker en outeur. Ronel en Solidariteit Helpende Hand pak vanjaar ’n veldtog aan wat Suid-Afrikaners help met begrotings en finansiële kundigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

a3 ·

die kruks van begroting is om jou lewensstandaard met 35% te verlaag, jou spaarfondse 35% van inkomste voor belasting te “spaar” en moontlik voor ouderdom 80 te kan aftree. pasop vir die begrip “spaar”!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.