Benut dié tyd om jou ‘oorlogskip’ voor te berei

Lindie Strydom. Foto: Atterbury Trust

Deur Lindie Strydom

Die Normandie en Queen Mary was passasierskepe wat in 1935 en 1936 vir die eerste keer die seewaters ingevaar het.

Van die luukshede wat die ongeveer 2 000 passasiers kon geniet, was binnenshuise swembaddens, skoonheidsalonne, biblioteke en teaters, kleuterskole en hondehotelle, ’n musiekateljee, tennis- en muurbalbane en ’n dansklub en restaurante.

Die grootste vertrek op die Normandie was die eersteklas-eetkamer. Dit was langer as die Hall of Mirrors by Versailles en kon 700 mense by 157 tafels laat sit. Die skepe was gereeld in wedywering met mekaar oor wie die grootste en vinnigste was – tot die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het en hulle omskep moes word om troepe te vervoer. Die Normandie het ongelukkig aan die brand geslaan tydens die omskakeling en nog ʼn passasierskip, die Queen Elizabeth, is gestroop van alle luukshede nog voor die skip die eerste keer kon vaar.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Op die Queen Mary is duur skilderye en dekor verwyder en met ’n grys kleur doodgeverf. Altesaam 220 kratte is gevul met glas-, kristal- en breekware wat saam met 10 km tapytbedekking en enige ander onnodige ekstras uitgehaal is om plek te maak vir stapelbeddens. In Julie 1943 vaar die Queen Mary wat voorheen 2 000 van die rykste mense gehuisves het met ’n rekordgetal van 16 683 soldate en bemanning.

Oorlog het die skepe maar ook mense gestroop tot net die nodigste. En dis seker my grootste verwagting vir hierdie tyd van isolasie – ’n konfrontasie met en herinnering aan wat werklik nodig is terwyl ek omring is met soveel oorbodige en vanselfsprekende luukshede. Dit oorlaai nie net my kaste nie, maar ook my kop en hart, en laat my uit voeling met ander wat in hierdie tyd skoon lopende water en ’n koekie seep as luuksheid beskou.

Die meeste van ons gaan deels uit verveling, maar ook om die gevoel van beknoptheid af te skud, kaste begin regpak en van hierdie goed wat lewens, koppe en harte “stuff-ocate” uitgooi en minder maak.

Mag (nog) minder en “werklik nodig” deel wees van Covid-19 se nalatenskap in my lewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Vienna

Dankie Lindie !
So waar, ek het begin ‘skoon maak’ ha-ha
Lekker gevoel om te weet daar is tyd om
alles te doen wat ek vir so lank wou doen.