Beskerm jou foto’s en papierherinneringe só

Foto bloot ter illustrasie (Foto: Angelo Giordano via Pixabay)

Die meeste mense besit ou voorwerpe van papier, soos boeke en foto’s, waaroor hulle sentimenteel voel. Hoewel so ʼn voorwerp dalk nie veel in finansiële terme werd is nie, wil ʼn mens dit graag bewaar en nie vir die nageslag laat verlore gaan nie.

Die term “bewaring” sluit twee duidelik onderskeibare prosesse in, naamlik konservering en restourasie. Restourasie hou etiese implikasies in en behoort deur kundiges onderneem te word. Dit behels die herstel van ʼn ou voorwerp tot so na as moontlik aan sy oorspronklike toestand en voorkoms. Deur konservering word die agteruitgang van die voorwerp beperk of vertraag. Dit kan deur die eienaar van ʼn voorwerp self gedoen word. Kennis van die aspekte wat die agteruitgang van papier veroorsaak, is dikwels al wat nodig is om te keer dat kosbare boeke, briewe, waterverfskilderye en foto’s tot niet gaan.

Eienskappe inherent aan papier self veroorsaak dat bepaalde faktore in die omgewing waar voorwerpe geberg of uitgestal word, ʼn nadelige uitwerking daarop het. Deur slegs die belangrikste vier omgewingsfaktore (blootstelling aan lig; vog en temperatuur; lugbesoedeling en infestering deur insekte) te bestuur, kan die agteruitgang van papiervoorwerpe dikwels baie suksesvol beperk word.

Hoe papier begin het

Die beginsel waarvolgens papier vandag nog vervaardig word, is in 105 n.C. deur die Sjinese wewer Ts’ai Lun ontwikkel. Tot in daardie stadium is geweefde tekstiel, diervelle, plantmateriaal en potskerwe gebruik om op te skryf. Lun wou nie sy afvalstukkies materiaal en rafels weggooi nie en het dit fyn gemaak en met water gemeng. Daarna het hy dit eweredig oor ʼn bamboesskerm (ʼn soort sif) versprei om droog te word en so het hy ʼn growwe soort skryfoppervlakte geskep.

Europese papiermakers het later die proses verfyn en begin om die papier in ʼn warm gelatienoplossing te doop om te keer dat die ink vloei wanneer daarop geskryf word. Hierdie proses word planering genoem, word vandag nog gedoen en bepaal ook die hardheid van die skryfoppervlakte.

Die aanvraag na papier het bly toeneem en teen die vroeë 1800’s was daar wêreldwyd ʼn tekort aan lapflenters. ʼn Papiermaker in Maine, Augustus Stanwood, het die plan gekry om mummies uit Egipte in te voer en die lappe waarmee hulle toegedraai was, af te rol en fyn te maak. Hy het ʼn growwe soort bruinpapier daarvan gemaak wat deur kruideniers gebruik is om kos in toe te draai! ʼn Ernstige cholera-epidemie het ʼn einde aan sy plan gemaak en die soektog na iets goedkoper as lap vir die maak van papier het voortgeduur. Die eerste meule vir die fynmaal van hout is in 1867 naby Stockbridge in Amerika geopen en sedertdien word die meeste papier van, onder meer, houtvesels gemaak.

Papier wat slegs uit houtvesels bestaan, is nie sterk nie omdat die vesels baie kort is en groot hoeveelhede lignien (die bindmateriaal in bome) bevat. Lignien vorm mettertyd ʼn suur wat veroorsaak dat die papier verbrokkel. Tans word die beste papier van katoenvesels en gesuiwerde houtstof (ʼn tipe sellulose) gemaak. Daar word ook vandag papier vervaardig met ʼn “ingeboude” alkaliese middel wat as buffer dien en opbouende suur neutraliseer. Die chemikalieë wat gebruik word om papier spierwit te maak of te kleur verswak ook dikwels die struktuur daarvan en beperk dus die lewensduur verder.

Nie alle ou foto’s het ʼn papierbasis nie en gevolglik is die bewaring van ou foto’s ʼn studieveld op sy eie. Tog kan foto’s waarvan die beeld wel op ʼn papierbasis vasgelê is, by die konserveringsriglyne wat vir papier geld, baat.

Beskerming teen lig

Foto’s en papier is baie sensitief vir lig. Dit kan verbleik, verkleur en verbrokkel omdat die ultravioletstrale in lig letterlik klein gaatjies in die struktuur van die papier veroorsaak. Fluoorligte (buisligte) straal ook UV-strale uit. Die uitwerking van UV-strale kan ongelukkig ook voortgaan, selfs nadat die voorwerp uit die lig verwyder is.

Papiervoorwerpe behoort dus nooit in direkte sonlig of vir lang tye in helder verligte omgewings gestoor of uitgestal te word nie. ʼn Praktiese oplossing is dus om nooit boekrakke of geraamde foto’s en papierkunswerke direk teenoor ʼn groot venster te plaas of op te hang nie. Daar bestaan gelukkig vandag spesiale produkte wat vir raamwerk gebruik kan word en wat nie UV-strale deurlaat nie, byvoorbeeld pleksieglas.

Beskerming teen lugbesoedeling

Nie net blootstelling aan lig is ʼn omgewingsfaktor wat bestuur kan word nie, maar ook lugbesoedeling. Swaeldioksied in die lug word in papier opgeneem en in swaelsuur omgeskakel wat dan veroorsaak dat die papier verkleur en verbrokkel. ʼn Mikroklimaat kan vir voorwerpe geskep word deur dit in suurvrye kartonhouers te stoor.

Moet nooit lugdigte houers gebruik om ou voorwerpe permanent in te stoor nie, omdat goeie ventilasie ook ʼn bergingsvereiste vir die meeste materiale is. Deur foto’s, waterverfskilderye en selfs briewe met suurvrye monteerkarton en gom te raam, word daar vir hierdie voorwerpe ook ʼn veilige mikroklimaat geskep.

Hanteer altyd papiervoorwerpe met skoon hande of sagte katoenhandskoene omdat die suur in ʼn mens se vel ook deur die papier opgeneem kan word. Hou ʼn voorwerp altyd met albei hande vas en verskuif dit naby ʼn stabiele oppervlakte soos ʼn tafelblad of plat skinkbord. As daar verbrokkeling plaasgevind het, kan die gewig van ʼn voorwerp die papier maklik laat breek of skeur. Gebruik ook slegs ʼn potlood om die noodsaaklikste aantekeninge agterop ou papiervoorwerpe te maak en onthou dat die struktuur van die papier waarskynlik so swak is dat dit nooit weer uitgevee sal kan word nie.

Beskerming teen vog en temperatuur

Alle materiaal van organiese oorsprong bevat vog en is sensitief vir uitdroging. Daarom kan groot temperatuurwisselings en humiditeitskommelings in die omgewing waar papiervoorwerpe gestoor word, skadelik wees. Die lug mag nie te droog wees nie, maar ook nie te vogtig nie, want die sure in die papier reageer makliker in vogtige toestande en skimmel kan die papier makliker aanval.

Skimmel groei in sirkelvormige kolle en is grys, stowwerige vlekke. Dit kan deur goeie ventilasie voorkom word. Raammetodes moet ook vir genoeg lugsirkulasie rondom ʼn voorwerp voorsiening maak, byvoorbeeld spasiehouers tussen die voorwerp en die glas.

Die ideale temperatuur waarteen papier en foto’s gestoor behoort te word, is teen ongeveer 20 oC. ʼn Relatiewe humiditeitsvlak van tussen 30 en 40% word aanbeveel.

Die meeste mense het nie die vermoë om hierdie toestande tuis te toets nie, maar kan die volgende drie riglyne vir papierbewaring onthou: koel, droog en genoeg vars lug. Moenie foto’s en papiervoorwerpe teen buitemure ophang waar daar ʼn moontlikheid bestaan dat daar vog in die muur kan opbou nie. Ideale boekrakke en kaste behoort effens van die grond af gelig te wees ingeval ʼn vertrek oorstroom. Dis ook nie ʼn goeie idee om foto’s en sketse bokant ʼn kaggel of naby verwarmers op te hang of te bêre nie. Behalwe dat hitte die voorwerpe kan laat uitdroog, pak residu van die vuur ook saam op boeke en ongeraamde voorwerpe.

Silikon-kristalle kan gebruik word om vog in die lug van ʼn baie vogtige omgewing te absorbeer. Dit kan geplaas word naby aan ʼn voorwerp waarvoor daar reeds ʼn mikroklimaat geskep is, maar moet nie aan die voorwerp raak nie omdat dit dan weer vog kan verplaas op die voorwerp. Moet nooit rys of ander organiese materiale gebruik om vog te absorbeer nie, want dit is juis lokmiddels vir die laaste omgewingsfaktor wat nadelig op papiererfstukke kan inwerk, naamlik insekte.

Beskerming teen insekte

Hou gereeld inspeksie van kosbare papiervoorwerpe en wees op die uitkyk vir: lewendige insekte, dooie insekte, vlerke, doppe, eiers, eierdoppe, insekspinsels, boorsels, mis en die nabyheid van spinnekoppe en spinnerakke. Vreemde reuke en die klank van insekte is ook aanduiders daarvan dat iets nie pluis is nie.

Die meeste insekte verkies donker, vogtige en warm plekke. Hou dus kaste en boekrakke droog, koel, skoon en vry van stof en koskrummels. Deur gereeld rondom voorwerpe skoon te maak verbeter die lugsirkulasie ook. Strooi boorsuur of Engelsesout as voorkoming agter in kaste en rakke eerder as mottegif en ander chemiese insekweerders wat gasse afgee wat ook skadelik vir voorwerpe is.

Maak altyd seker dat nuwe of vreemde voorwerpe (soos houtmeubels en mandjies) wat in ʼn huis ingebring word, onbesmet is omdat die meeste insekte verskillende soorte materiale sal vreet en maklik van een voorwerp na ʼn ander kan versprei.

Soorte insekte wat gewoonlik papier beskadig:

  • Klopkewers – maak kronkelende tonnels, gewoonlik vanaf die middel van ʼn boek en laat boorsels en mis in die tonnels agter;
  • Houtpoeiertorre – donkerrooi tot swart kewers met lang voelers en harde vlerke wat gate in boeke en ander organiese materiaal maak;
  • Boekwurms – larwes van sekere kewers wat tonnels vreet regdeur die omslag en blaaie van boeke;
  • Boekluise – klein insekte met groot koppe in verhouding tot die lyf wat gewoonlik volg op skimmel en ander infestasies, hulle maak veelvuldige klein gaatjies in die papier;
  • Kakkerlakke – hierdie bekende naginsekte met ʼn kenmerkende reuk wat in warm, donker plekke leef, vreet die oppervlak van papier en foto’s en maak komma-vormige merke op voorwerpe;
  • Vismotte – grys insekte sonder vlerke met drie stertagtige aanhangsels, vreet ook die oppervlaklaag van papier en foto’s; en
  • Termiete – klein geel-wit insekte wat gewoonlik in hout en onder die grond woon en diep gaatjies in papier kan vreet.

Beskadigde papiervoorwerpe (wat nie uit lae saamgestel is soos foto’s nie) kan afgestof, in absorberende materiaal toegedraai en in plastiekhouers verseël word om vir twee weke gevries te word. Dit laat enige oorblywende insekte doodgaan. Laat die voorwerp daarna in die houer totdat dit heeltemal ontvries is. As die aanvanklike skade baie groot is of dit lyk of die insekte nog nie dood is na bevriesing nie, is dit tyd om die hulp van ʼn professionele restoureerder in te roep.

Onthou dat die liefdevolle hantering en gebruik van papiervoorwerpe deel is van die bewaring daarvan. Erfstukke het net bestaansreg as die eienaar daarvan dit kan waardeer en geniet. Moenie bang wees om gereeld ou boeke te lees of vir ander mense te wys nie en stal gerus ou familiefoto’s en waterverfskilderye uit!

  • Inligting vir die artikel is verskaf deur dr. Jeanette van Rensburg, BA-dosent in geskiedenis by die APA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.