Bid vir “boring”

(Foto: Verskaf/Johnell Prinsloo)

Het jy al gebid vir “boring”? Een van my baie goeie vriendinne het onlangs vir my gesê sy bid vir my dat my lewe ʼn bietjie “boring” kan raak. Dit was vir my een van die dankbaarste oomblikke ooit.

Nie net het dit vir my ongelooflik baie beteken dat ʼn vriendin vir my bid nie, maar ook dat sy (selfs oor ʼn afstand, want ons kry min tyd vir kuier) kan sien dat ek so ʼn bietjie sukkel. Dit is eintlik so mooi dat ander mense so aan jou kan dink en dan sommer kan inspring met gebed ook.

Ek dink wat my nog meer verwonder het, is dat ek toe self besef het hoe ek na ʼn bietjie verveligheid verlang – ek wil amper sover gaan as om dit met NP van Wyk Louw se “gemoedelike lokale realisme” te vergelyk: Laat my voortleef in alledaagse eenvoud, verromantiseer met ʼn tikkie skoonheid en roetine wat ongehinderd ritme raak.

Dit klink idillies! (Ek het die definisie effe aangepas vir my eie persoonlike omstandighede.)

Ek vermoed waarna ek werklik smag, is rustigheid. Dit maak die onvoorsiene en onbeplande minder uitdagend en reaksies minder angstig.

Tog voel ek of die lewe die afgelope paar jaar nogal met my (ons) weggehardloop het. Dit is asof die ratte in Maart 2020 aangepas is en daarna nooit weer na ʼn gemoedelike spoed teruggeskuif is nie. Elke mamma wat ek by die skool teëkom, sê vir my dieselfde ding. Tussen huiswerk, werk en aktiwiteite deur het hierdie eerste kwartaal (en ook die vakansie!) verbygesnel.

Johnell Prinsloo (Foto: Verskaf)

My buurvrou oorkant die straat vertel my hoe haar matriekdogter nie meer tyd het vir hokkie tussen al die akademie nie, dat sy hompe huiswerk vir die vakansie gekry het en dat sy sommige oggende nog voor die skoolklok lui reeds by die skool moet wees om assesserings te doen.

By verskeie ander ouers en personeellede het ek ook gehoor hoe matrikulante soms reeds voor 07:00 moet inklok vir toetsperiodes.

Vir wie haal ons ons hoed eerste af? Onderwysers wat hul eie en hulle gesinne se tyd opoffer vir die toekoms van hul leerders? Ons as ouers wat bankvas agter ons kinders staan en ondersteun, lei en taxi ry? Ons kinders, wat maar net 17 of 18 jaar oud is en teen hierdie enorme pas moet presteer?

Ek wil graag my hand opsteek en sê ek sien vir enige uitdaging kans, maar as ek regtig eerlik moet wees, is ek nie so doodseker of ek soos hierdie kinders sou kon funksioneer nie. Ek kan nie onthou dat die tempo so vinnig was of die aktiwiteite so veel en veeleisend nie. Ek kan wel onthou dat vakansies my eie was, en indien ek ʼn oomblik agter die boeke sou deurbring was dit ʼn verantwoordelike gier wat my beetgepak het eerder as ʼn sperdatum wat met die einde van die vakansie saam nader kruip.

Maar miskien onthou ek verkeerd.

Ek glo ons almal kan doen met ʼn bietjie “boring” in ons lewens. ʼn Dag sonder drama, ʼn gejaag, onvoorsiene dinge soos spinnekopbyte of hospitaalopnames en spertye wat in mekaar invloei. ʼn Tyd vir ʼn bietjie koffie drink en koerant lees, vir wonder wat om volgende te doen, en vanaand rustig, sonder steuring, saam met die huismense om die tafel te sit en eet. En hierdie vervelige bestaan kan gerus dan oorvloei na ander dinge ook…

… Soos “boring” op die pad… rustig binne die spoedgrens sonder dat ʼn rooi lig angs veroorsaak of die rye karre voor ʼn mens jou in koue sweet laat uitslaan omdat nog ʼn minuut teen ʼn slakkepas verbysnel.

… Of ʼn bietjie boring in vriendskappe… doodgewone braais met doodgewone braaibroodjies en doodgewone melktert, en om die naweek af te sluit (en met alle respek) doodgewone kerk waar ek met oorgawe kan luister en wees, “Sondagskool”, middagete en ʼn lekker kaas-, tamatie- en uiebroodjie op die plaatrooster wanneer die 20:00-fliek begin.

My vriendin het my oortuig: ek bid vir “boring”!

Meer oor die skrywer: Johnell Prinsloo

Johnell Prinsloo is 'n onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.