Blessie sit die bal agterna

Argieffoto (Foto: kaylafratt/Pixabay)

Ons het ʼn baster skaaphond gehad wat vreeslik lief was vir ʼn bal. Enige bal, maar veral ʼn tennisbal. Doerdie jare speel man nog krieket met tennisballe anders slaat jy ruite stukkend en dan kry man slae van pa.

Ek en Nico speel ook krieket met ʼn hele span plaaskinders. En Blessie is by, want hy is ʼn uitstekende veldwerker. Jy moet hom net rustig hou anders byt hy ʼn tennisbal stukkend en moet man die ding lap met stokkies en gom. ʼn Ses dryfhou was altyd bo-oor die blomtuin binne in die wingerdland in en Blessie het daar veldwerk gedoen. Hy het ʼn goeie oog. Hy kyk net so eenmaal op om die trajek van die bal uit te werk, dan vlie hy weg laat die dorbank-klippers so spat soos hy die wingerd in hol om die bal te kry. Slag vir slag. Dag vir dag.

Ek is mos ietwat gestremd wanneer dit kom met handvaardigheid. So ek raak later moeg gekrieket. So het ek ook vir Blessie leer verneuk. Kry ek weer ʼn slag ʼn bal raakgevat, dan mik ek om vir die bouler te gooi. Intussen gooi ek sommer diekant toe. Of ek mik mooi wingerd se kant toe. Haal oor en gooi met mening maar maak nooit my hand oop nie. Blessie bedrieg homself en reken hy sien die bal trek en dan hol hy. Intussen laat val ek die bal iewers in die blomtuin en Blessie soek. Na ure kom hy verleë daar aan om eers sy dors te kom les. Intussen sit die bal salig tussen die Jakobregoppe.

Laat dink my aan die ou wat ek destyds kry op pad tussen Opuwo en Okangwati. Hy stap in die rigting van Opuwo en ek is op pad na Okangwati. Ewe opreg gooi hy sy duim in die lug en ek het so bietjie tyd op hande so ek trap briek. Vra die man uit wat hy nou eintlik wil maak want hy stap na Opuwo maar ryloop na Okangwati. “Nee,” reken hy. “Ek gaan”. Ek vra hom waarheen gaan hy. “Ek gaan enige plek toe.” So hy is op pad. Maak nie eintlik saak waarheen nie; solank hy net gaan.

Dit lyk my baie mens lewe vandag so. Op pad iewers heen. Of meestal net aan hol agter ʼn pot goud aan wat by een of ander reënboog se punt begrawe is. Dis een gewoel en een gelieg en die stof hang eintlik soos almal skynbaar aan’t woel is. Maar eintlik is hulle net op pad. Geen siel weet waarheen nie. Intussen speel die sinloosheid ons dooddors en loop hyg ons later na ons asems.

So het ons almal mos maar gemaak – selfs ons predikante. Ek onthou nog die dag doer in die verre tagtigerjare toe ek die Sondag vyf keer gepreek het in Tzaneen se omtes. Sommer so mak-mak alle kerke bepreek en vuisvoos die aand in die kooi geklim – ewe dankbaar vir my onverskrokkenheid. Ek glo oom Churchill het eenkeer beweer dat as hy ’n toespraak van twee ure moet hou, berei hy glad nie voor nie. Maar as hy twee minute moet praat, dan spandeer hy baie tyd aan die voordink. Of so iets.

Ek weet nou die lewe is anders en dit word nie bepaal deur sinlose stofmakery nie. Loop sit en drink jou koffie en bekyk die bedryf. Dan vat jy hom rustig met koersvaste oog en ʼn ysterhand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Yankee ·

Pragtig geskryf. My Charlie ook lief vir sy 12 groen balle. By ver die “slimste” honde spesie.

Sandy ·

Oulike storie, en die waarheid. Ons had ook op ‘n kol ‘n skaaphond Chester. Die hond kon ‘n tennisbal uitruik, maak nie saak waar dit was nie. Ons koop balle en hou dit in die kar of bakkie en haal net een uit sonder dat hy sien waar kom dit uit. Hy snuffel dit uit. Sou langs die kar sit of krap. ‘n Tennisbal, toe ons nou nie meer in die kar kon wegsteek nie, het bo in die kas bokant die yskas, tussen die muur en die kas ingerol. So sit Chester vir maande aanmekaar, elke aand en tjank voor die kas. Ons raak naderhand so vies, want ons het nou al op die stoel gestaan en niks gesien nie. Toe ek op die leer staan eendag om die kas te was, kom ek op die bal af, en staan verslae oor die hond se reuksin.

Hendrik ·

Hierdie verhaaltjie het my laat terugdink aan Jan Spies se storie oor die hond Waaksaam wat saam is veld toe om te gaan leeu jag. Waaksaam was net so lief vir klippe jaag. Toe die manne sukkel om die gekweste leeu uit die lang gras op te jaag, kan julle jul maar indink wat se gemene streep hulle arme Waaksaam getrek het.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.