Boeke en leesmense

Argieffoto (Foto: Birgit Böllinger/Pixabay)

Iewers in my vroegste jare het oompie Thys my ʼn boek present gegee want hy was ʼn leesmens. Dit was die meesterlike storie van Fanie se veldskooldae geskryf deur PJ Schoeman. Ek kon eenvoudig nie genoeg kry van Fanie se eskapades doer in die vlaktes en bosse van Noord-Natal nie. Daarna volg Jetwa die buffelbul en toe ek by Jabula die Zoeloe kom, toe begin maak ek lyste van Zoeloewoorde en verbeel my ek kan ook daai taal praat. Seker dié dat ek jare later vir die Duitser loop soek het daar in die bosse van Natal.

Maar oom PJ het my gegryp. En ek weet die hogere geleerdes dink nie veel van hom nie en verbeel hulle mens moet val in een of ander diep denkende gat waar jy moet afdaal tot die swart nietigheid voordat jy waarlik uitgeleed word. Boonop moet jou karakters een of ander skewe siel wees wat voortsukkel in een sinnelose gesirkel om hom soos ʼn mot in ʼn vetkers te vernietig. Ek sukkel maar aan met Uit oerwoud en vlaktes en Temmers van die Noordweste. So loop dwaal ek in pandjieswinkels en annerlike stofplekke rond en sit daar op my platvlakte op soek na daai ou boeke.

Iewers kry ek toe Op ver paaie, ook van oom Schoeman, en kort daarna spoor ek vir Terug op die ver paaie ook op. En ek lees van die “Noordveld” in die woestynland van Suidwes en van Grootberg en Sesfontein en die eensame vlakte deuskant Purros. My hart loop ver.

Die afgelope paar dae kuier ons hier in die Grote Amerika, vanaf Washington al teen die kus op. Dis pragtig en dis skoon en mense bestuur ordentlik. Die treine loop en die Eskom is aan en die winkels is gestapel met allerlei begeerlikhede. Meteens het mens goed nodig wat kort van tevore nie eers bestaan het nie. Die kerke sit vol en die mense sing mooigoed saam met uitgeleerde kitaarspelers. Alles lyk so perfek maar ek verlang ver. Na eensame kameelperde kort anderkant Palmwag of hardegat dikkoppe wat jou wil rondjaag in Jacobsbaai se strate. En ek wonder oor Afrika. Daai plek ver oor die waters waar die donkerte skuil en dreig om mens plat te spring.

Toe onthou ek weer ver terug. Die Saterdagaand kort voor die 1ste April van 1989 toe ek daar in Oshakati teen ʼn blikhuis sit vleisbraai het. Dit was kort voordat Suid-Afrika die regering van Suidwes sou oorgee aan Untag en ek was ook daar om te help kyk. Met sononder kom daar so ʼn dik, swart wolk aangedryf vanuit Angola se kant en dreig om my vuurtjie te kom uitwis. En ek wonder toe of dit die voorloper van die toekoms was. Die volgende dag het ek by ds. Paulus se kerkie by Itali gepreek en net daarna moes ons jae laat dit bars om onder die Swapo-“vegters” uit te kom voordat hulle Oshakati kom omsingel het. En die manne veg mos amper met blote vuiste voordat hulle later van ure die Caspirs kon bewapen. Dae aan mekaar. En mens slaap sleg en vergeet van eet en lewe net so op ʼn dun draadjie. Maar ons is daardeur.

Arika is donker maar Afrika was ook al die jare die plek van drome en ver horisonne. Waar mens hoed oor die oog ver kon tuur. Soos in Kambro-kind van oom Venter. Tye van groot droogtes en groot nood ken ons. Ek verlang na die ou garde met hulle vaal hoedjies diep oor die oge getrek met ʼn dun kakiehempie en kniehoog sokkies in Wuppertallers.

Dis seker ook daarom dat ek maar hou by oom Schoeman en oom Venter en die groter geleerdes wat mompel oor die sinloosheid van die niksheid maar links los. Ek moet maar weer huis toe. Ek wil weer vleisbraai op ʼn mopaniehout se kole en luister na die jakkals se geroep.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Flemming ·

Koos, ek verstaan ‘n man wat daardie boeke lees. Probeer ook Jan J van der Post se stories van die Boesmans en die sand en die wind en die honger en die swaarkry in die woestyn. As jy dit nog nie gelees het nie, belowe ek jou, gaan jy dit nou geniet.

marco polo ·

Ai Koos, hoe laat jy my nou hier uit die Verre Ooste verlang na daai verdwaalde kameelperde op die stofvlaktes duskant Palmwag. En n mopanievuur terwyl die son water trek.

Stephan de S ·

Ai, Koos ek het ook op al daai boeke groot geword en al die plekke en dinge wat jy noem,deurgemaak. Wat n skat van herinʼneringe en mooigoed….dit sal altyd deel van my wese wees. Wens net ek kan al die ou plekke weer besoek. Is so dankbaar dat ek n magdom soet ervarings opgedoen het terwyl die bitteres net klein raak in vergetelheid. Dankie vir jou kosbare beskrywings. Groete vir die Duisters.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.