Bou ʼn gemeenskap waar kinders welkom is

Deur Suzette Oosthuizen

(Foto: Maroela Media)

Kinderbeskerming is inderdaad ʼn belangrike onderwerp, en dit is prysenswaardig dat Suid-Afrika van 29 Mei tot 5 Junie Kinderbeskermingsweek vier.

Miskien is “vier” die verkeerde woord gedagtig aan koerantopskrifte oor kinderhandel, kindermoord, kindermishandeling, kinderontvoering en kinderpornografie. Miskien moet ons liewer praat van “hier”. Hier is dit elkeen se verantwoordelikheid, hier in elke gemeenskap, hier en nou. Eers dan kan ons suksesvol kinderbeskerming vier.

Die doel van Nasionale Kinderbeskermingsweek is om gemeenskappe bewus te maak van kinders se regte soos vervat in die Grondwet.

Solidariteit Helpende Hand speel ʼn rol van onskatbare waarde om kinders in die gemeenskap te beskerm – onder andere deur middel van maatskaplike werkers wat netwerk met skole en statutêre gesinsorganisasies in gemeenskappe en met die versorging in hul voorskoolse en nasorgsentrums. Solidariteit Helpende Hand se toewyding aan die veiligheid en welstand van kinders blyk duidelik uit hul aksies en die impak van streeksorganiseerders en vrywilligers in die gemeenskap.

Een van die belangrikste aspekte hiervan is samewerking met netwerkvennote en die databasisse wat geskep word sodat gemeenskappe hul uitdagings self die hoof kan bied. Navorsing, behoeftebepalings en gemeenskapsanalises is van die kernaspekte wat deurlopend aandag geniet.

Samewerking met vennote in die gemeenskap is noodsaaklik om kinders in risikosituasies te help en om gesinne wat hulp benodig te verwys en te ondersteun. Hoe beter en sterker die verhoudings in ʼn gemeenskap is, hoe meer doeltreffend is kommunikasie en samewerking om kinders in die gemeenskap te beskerm.

Deur saam te werk, kan ons ʼn groter invloed uitoefen op kinders se lewens. Ons kan hulpbronne en inligting deel, uitdagings saam aanpak en kinders se omstandighede met gesamentlike gemeenskapsprojekte verbeter.

Solidariteit Helpende Hand bied aan ongeveer 400 kinders voorskoolse en nasorgdienste by die Helpende Hand Ons Plekke. ʼn Ons Plek is ʼn veilige en stimulerende omgewing waar kinders nie net opvoeding en versorging ontvang nie, maar ook ondersteuning vir hul emosionele, sosiale en fisiese ontwikkeling. Die sentrums word deur ervare personeel bedryf wat spesifiek opgelei is om kinders te ondersteun en hul behoeftes te identifiseer. By elke Ons Plek kan kinders speel, leer en groei onder toesig van kundige personeel. Ouerleidinggroepe word aangebied om ouers beter toe te rus rakende uitdagings wat ouerskap meebring.

Een ouer, Angelique, het haar dankbaarheid oor die naskoolsentrum so verwoord:

“My kind is veilig en gelukkig by Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek. Ek waardeer die onderwys en sorg wat hulle bied, en ek kan sien hoe my kind groei en ontwikkel. Die omgee-drukkies, boodskappe van vertroosting en motivering, hulp en vordering met skoolwerk en opbouende gesprekke het van my kind ʼn baie beter mensie gemaak vandat sy by Ons Plek is. Sy het nie meer uitbarstings nie en het meer begin kommunikeer en lag. Julle is die beste stukkie van ons dag! Dit gee my gemoedsrus om te weet dat julle daar is om te help en om in my kind se behoeftes te voorsien en haar veiligheid te verseker.”

Suzette Oosthuizen (Foto: Verskaf)

Goed opgeleide en gekwalifiseerde personeel by die Ons Sentrum in Pretoria-Noord verskaf terapeutiese dienste aan ongeveer 75 getraumatiseerde kinders per week, waar kinders gehelp word om hul verlede te verwerk en hulle toekoms aan te gryp.

Daarbenewens bied die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut ook opleiding aan in versorging, wat studente toerus om nie net met bejaardes nie, maar ook met kinders met gestremdhede te kan werk.

Solidariteit Helpende Hand se betrokkenheid by kinders het ʼn positiewe impak op die gemeenskap as geheel. Deur kinders te beskerm en ondersteun, dra die organisasie by tot die skep van ʼn veilige en gesonde gemeenskap. Gesinne, waarvan kinders deel is, vorm die hoeksteen van ʼn gesonde gemeenskap.

Deur met skole, kerke, organisasies en vrywilligers in ons gemeenskappe saam te werk, kan ons ʼn beter toekoms vir ons kinders in die gemeenskap bou. Solidariteit Helpende Hand is trots om ʼn rol te speel in die lewe van kinders, want hulle is die fakkeldraers na môre.

Gee jou hand en raak deel van ʼn kind se opvoeding, onderrig en ontwikkeling. Saam kan ons vir ons kinders voorspoed in ʼn vry, veilige omgewing in Suid-Afrika verseker.

  • Suzette Oosthuizen is Solidariteit Helpende Hand se hoof van sentrums en nasionale takke.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.