Brian Lochore – 1970 en daarna

Deur Pierre Massyn

In die ongedateerde foto hardloop die All Black Brian Lochore op die veld tydens ‘n wedstryd teen Suid-Afrika. Foto: (NZ Herald via AP)

ʼn Reus het geval.

Sir Brian Lochore het ons op die ouderdom van 78 ontval. Lochore was in 1963 die eerste keer vir Nieu-Seeland as agsteman gekies en speel 18 toetse vir sy land. Hy word ʼn legende in sy eie leeftyd en word ook tot ridder geslaan vir sy dienste aan sport, en rugby in die besonder.

Ek het sy naam die eerste keer in 1970 in standerd 9 in Windhoek gehoor. Ons was Suidwesters, maar ons span was die Springbokke, en soos duisende jong Suid-Afrikaanse seuns, het ek gedroom oor die Land van die Silwervaring en die epiese stryde tussen die draers van die Groen en Goud en die All Blacks. Ons het boeke soos Die silwervaring deur ID du Plessis en Topsy Smith se Hendrik Hoffman- Springboksenter, eenvoudig verslind. En nou was hulle hier – die knewels van Nieu-Seeland, onder die aanvoering van Brian Lochore.

Toe Lochore en sy span daardie dag in 1970 op Jan Smuts voet van die straler afklim, was hulle onbetwisbaar die beste span ter wêreld. Die laaste keer toe hulle verloor het, was toe Tiny Naude dáárdie skop in die derde toets op die modderveld van Christchurch in 1965 in die doodsnikke oorgeklits het. Sedert daardie neerlaag het die manne in swart 17 agtereenvolgende oorwinnings ingeryg – ʼn rekord wat eers in 1997/’98 deur Suid-Afrika geëwenaar is, soos beskryf in Gary Teichmann se outobiografie, For the Record.

Nieu-Seeland het in 1970 na Suid-Afrika gekom met net een doel voor oë: om ʼn ontwykende reeks in Suid-Afrika te wen. Die legendariese Colin Meads (Pinetree) wie se das (van die 1970-toer) in Afrika se Suidelikste sportmuseum pryk, vertel in Colin Meads – All Black, dat daardie ideaal sy lewensdroom was. Suid-Afrika het in 1969-’70 deur die Verenigde Koningryk gaan toer, as jy dit ʼn toer kon noem. Peter Hain, oudleerling van Pretoria Boys High, het op ʼn massale skaal betogings gereël, wedstryde ontwrig en die “toer” in ʼn nagmerrie laat ontaard. Dawie de Villiers se span het twee toetse verloor en twee gelykop gespeel.

Volgens hul eie standaarde, het die Springbokke nie goed gespeel nie. Hulle kon nie behoorlik oefen nie, hulle moes in die grootste geheimhouding van die een venue tot die volgende reis om betogings te ontwyk en daar is ure lank voor hul hotelle gelawaai, sodat hulle ook slaap ingeboet het. Swak skeidregtersbeslissings het ook hul rol gespeel. Teen Engeland druk De Villiers duidelik die bal dood, maar John Pullin – die haker wat sy rieme in 1968 op die Leeu-toer teen Gys Pitzer styfgeloop het – val op die bal ná De Villiers die bal doodgedruk het en die Ier Kevin Kelleher ken die “drie” aan Engeland toe.

Teen Wallis is Suid-Afrika voor met speeltyd verstreke, maar die Engelse skeidsregter Larry Lamb wil nie die eindfluitjie blaas nie en Gareth Edwards druk die gelykmakende druk in die tiende minuut van beseringstyd, soos dit toe genoem is. In die heel laaste wedstryd teen die Barbarians – volgepak met toetsspelers van die vier Britse tuisunies – wys die Bokke wat hulle kan doen en die weergalose Jan Ellis van Windhoek Wanderers* druk twee skitterdrieë.

Die All Blacks-toer skop af en in die voorafgaande provinsiale wedstryde vee Nieu-Seeland alle teenstand voor hulle weg en hulle staan ook nie drieë af nie, totdat Dawie vir Transvaal die eerste keer agter die doellyn gaan kuier. Min mense gee Suid-Afrika in ʼn kans in die eerste toets, hoewel ons toe gesoute toetsspelers soos De Villiers, Ellis, Mannetjies Roux, Hannes Marais, Syd Nomis en die nimlike Frik du Preez in ons geledere het. ʼn Rankerige Vrystater wat wilde perde inbreek vir plesier, neem sy plek as Mannetjies se sentermaat in. Voor hierdie toets verby was, sou die All Blacks wéét wie hierdie Shimla was. Die naam Joggie Jansen van Reitz Kamerwonings sou vir die res van die reeks vrees by die Swarttruie inboesem, nes dié van daardie ander Bok-plettervatter van die 1949-reeks, Ryk van Schoor.

Dat Suid-Afrika die toets met 17-6 gewen het, word in Nieu-Seeland as ʼn “nasionale ramp” bestempel. Wayne Cottrell was nooit weer dieselfde sedert Joggie Jansen die All Black so geloop het dat hy nie weet of hy hom op Loftus Versveld of Eden Park bevind nie. Radiokommentator Gerhard Viviers se beskrywing van Syd Nomis se onderskepdrie (al wat hy toe kon uitkry), “Siddie, Siddie, Siddie!”, word oornag volksbesit.

Suid-Afrika wen die reeks met 3-1. Neil Steyn laat ʼn boek met die veelbetekenende titel Weer Wêreldkampioene die lig sien.

En Lochore? Hoewel die verloorreeks in 1970 sy grootste rugbyteleurstelling was, was hy kaptein in 18 toetse en voer hy die All Blacks altesaam 46 keer aan en word welverdiend tot die Internasionale Rugbyroemsaal toegelaat.

Met hom as afrigter, wen Nieu-Seeland die eerste Wêreldbeker-rugbytoernooi in 1987 (in Suid-Afrika se afwesigheid) en dit nadat die Bokke net die jaar vantevore (1986) met die Kiwi’s klaargespeel het; die kern van Nieu-Seeland se 1987-wenspan het bestaan uit spelers in die 1986-reeks wat Suid-Afrika onder Naas Botha met 3-1 gewen het.

Ek het Brian Lochore net een keer in lewende lywe gesien, en dit was nie as speler nie, maar as bestuurder en mentor vir die All Blacks.

Op 6 Augustus 2005 bevind ek my op Nuweland. Twee groot kêrels wat in enige geselskap gesag sou afdwing, beur tussen die massas verby my na hul sitplekke. Hulle dra swart kleurbaadjies, silwervaring op die sak. Die een is Colin Meads, wie se arm in 1970 deur Skip Henderson van Oos-Transvaal afgeskop is. Die ander een is die 1970-kaptein. Twee van die grootstes van alle tye.

Lochore in 2017 by die begrafnis van sir John Graham in Auckland, Nieu-Seeland. Foto: (Jason Oxenham/NZ Herald via AP)

Lochore se gedagtes moes teruggaan het na die tweede toets in 1970 op daardie einste veld, toe die spelers met soveel woede onder mekaar ingeklim het, dat Dawie de Villiers by homself gedink het, “Vandag sterf hier iemand”.

Daar word getrap en gegroet. Dawie word in die rug geskop en Piet Greyling kraak sy ribbes. All Black-heelagter Fergie McCormick stamp Syd Nomis se voortande uit. ʼn Bebloede Piston van Wyk word van die veld gelei om deur Robbie Barnard vervang te word vir sy eerste en enigste toets.

Vorentoe na 2005. Die spreekwoordelike kruitdampe staan soos die twee rugbyreuse mekaar toetakel. Schalk Burger en Jerry Collins tref mekaar met die geweld van twee aanstomende olifantbulle, en jy kan die bene tot op die pawiljoen hoor klap. Reg voor ons bars Victor Matfield deur ʼn lynstaan en onthoof byna die All Black-skrumskakel Byron Kelleher.

Hy word deur Piri Weepu vervang – sy eerste toets. Toe Kelleher hoenderkop die veld verlaat, spot die skare hom oor sy verhouding met ʼn Amerikaanse pornoster Ashley Spalding, met die silwerdoeknaam Kaylani Lei…

Die hare waai behoorlik soos Bakkies Botha en Ali Williams mekaar in die losskrums karnuffel. Nou onderskep Jean de Villiers die bal en lê vir 60 tree rieme neer vir sy drie wat Percy Montgomery, gebore op Walvisbaai, verdoel. Eindtelling: Suid-Afrika 22, Nieu-Seeland 16. Dit kon nie aangenaam gewees het vir die twee strydrosse met hul All Black-baadjies hier agter my nie. Suid-Afrika is hul aartsvyand, maar dit gaan gepaard met die grootste respek. Net soos ons, haat Nieu-Seeland dit om te verloor, veral in die grootste rugbywedywering ter wêreld.

Brian James Lochore is op 3 September 1940 op Masterton in die Land van die Lang Wit Wolk gebore. Die beeld van hierdie groot speler wat is in my geheue afgeëts is, bly dié van ʼn verslae en verslane kaptein in dieselfde foto waar Dawie de Villiers skouerhoog van Ellispark gedra word ná die Bokke die reeks in die titaniese vierde toets op Ellispark met 20-17 beklink het.

Twee kapteins, twee reuse van Die Spel. **

  • Pierre Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-Vasvra. Hy was in die tagtigerjare klubkaptein van Wanderers-manshokkie in Windhoek.

Voetnote

* Almal wat die dag op 4 Julie in 1970 in die Suidwesstadion was toe die Biltongboere teen die Kiwi’s kragte gemeet het, sal tot vandag toe hoog en laag sweer Jan Ellis het sy drie gedruk, wat die eerste teen die toerspan sou wees. Die “drie” is egter nie toegelaat nie. Lochore het nie in hierdie wedstryd gespeel nie. Chris Laidlaw wat op Loftus deur Frik du Preez katswink geloop is, was kaptein.

** In 1965 in Nieu-Seeland was Lochore aan die wenkant, maar nie as kaptein nie. Wilson Whineray, wat die reeks in 1960 teen Avril Malan se span in Suid-Afrika verloor het, was kaptein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Timon ·

Ai, nou verlang ek terug na die ou “Suidwes Afrika”!
Ek het as laerskool kind saam met my pa na ‘n wedstryd op die Suidwes stadion gekyk. Dit was Suidwes-Afrika teen ‘n toerspan. Wat wel uitgestaan het, Jan Ellis het gespeel en daar is altyd gese dat almal wil teen Jan Ellis speel en wil hom of tekkel of “de moer in maak”. Dit was ook so daardie dag en ‘n spesifieke speler tart ou Jan die heel tyd. Na ‘n skrum (daar was doodse stilte) klap Jan Ellis die ou so hard jy hoor dit weergalm in die hoof paviljoen.
Nodeloos om te se, daar was net ‘n strafskop toegeken teen Jan Ellis, geen rooi kaarte!

dries ·

Dankie Pierre.
Ek onthou tot vandag elke bok en kiwi van 1970 reeds. Die reeks het ‘n baie goot indruk op my gemaak as kannetjie van net 11 jaar oud. McCormick se stywe arm op Nuweland se sopnat veld. (Nomis se tande) Manne soos Gerald Turner, Williams, Fitzpatrick, Meads, die groentjie Gerald Hunter (wat later groot naam as vleuel gemaak het vir die All Blacks). Jou artikel vat my vêr terug na ons grootword dae op ‘n hoëveldse plaas, om die FMpie gehurk luister ons na Gerhard Viviers. (spiekeries). Ons het altyd voor die wedstryd die battery ‘n rukkie lank in die son gesit om seker te maak dit hou die hele wedstryd. Maar ek dink nog die beste bokspan ooit was die 71 toer na Australië waar ons onoorwonne teruggekeer het. Nouja, lekker gelees en ek gaan dit nou weer lees!

JohanL ·

Dries, ja ek dink ook terug aan 1970 toe daar op ‘n toets-Saterdag-oggend op radio “Vat hom Dawie – vat hom laag” gespeel is. As 7-jarige kind was ons op vakansie in Oos-Transvaal en kon ons die Woensdagmiddag nie radio-ontvangs kry in die oord waar ons was nie. My Pa het spesiaal ‘n ent uitgery na ‘n hoogere punt om die All Blacks vs Noordwes-Kaap wedstryd op motorradio te luister waar my oom gespeel het (ja Herklaas Engelbrecht se troepe). Op dieselfde vakansie bevind ons onsself ‘n week of wat later in Johannesburg en die All Blacks speel teen Transvaal. En raai wat – my Pa gaan kyk saam met familie die wedstryd sonder om my saam te vat. Tot vandag toe baie vies daaroor :)

Ek dink egter die 1981 Bokke wat in Nieu-Seeland getoer het was die beste span (saam met natuurlik 1937 se Bokke). Onder bitter moeilike omstandighede is die Bokke onoorwonne teen alle provinsiale spanne en verloor die reeks 1-2 na ‘n patetiese lagwekkende Clive Norling beslissing in die sg “Meelbom-toets”. As student kon ek darem al daardie toetse op TV sien :) :) :)

Jan Kruger ·

Was daar in 1970 op Loftus se ou noordelike paviljoen. Joggie se plettervat, Dawie se drie en vele ander hoogtepunte! Baie dankbaar kon dit beleef!!

Frans C ·

Die wedstryd van Oos Transvaal teen die All Blacks was seker een van die vuilste wedstryde wat ek bygewoon het,Onder vandag se reêls sou daar meer rooikaarte as punte gewees het.

dries ·

Hallo johanL. Ek dink jy vat dalk raak met die 81 bokke. Met manne soos Serfontein, Louw.. Dis was ongelukkig in my ‘oorlogjare’. Die 85 bokke teen die kavaliers was ook baie sterk. Ek dink aan Domkrag, Kobus Burger, Jaco Reinach, Naas..Gerber. Ek hoop ons sal weer daar kom met die nuwe bedelings en dinge.. ek hoop so.

JohanL ·

Dries, ek stem dat die 86 Bokke teen NZ Kavaliers waarskynlik een van die beste indien nie die beste agterlyn ooit gehad het.

Swartwolf ·

’81 en ’86 se Bok spanne teen die AB’s in NZ en Kavaliers in SA was van die beste ooit. En die agterlyn was ongelooflik, Serfontein, Naas, du Plessis, Gerber, Mordt, Germishuys, Pienaar, met Heunis en Krantz wat ook kon speel. Wonder hoe vandag se kwota wonders sou gevaar het op daai ’81 betogertoer ? Daai derde toets – Mordt se 3 driee.

Werner ·

Dries, dit was Bruce Hunter en Gerald Kemper. Jan Ellis was my held. Piet Visagie n baie bruikbare losskakel. Net 17 Bokke in die hele reeks van 4 toetse gebruik.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.