Briewe uit Bagdad: Afrika is nie vir sussies nie

Bagdad (Foto: Koos Greeff)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe Ver Vriende,

Dis bietjie koeler hier in Bagdad maar die spul woed voort. Nou die dag sit ek in my kantoor en hoor die “kaboem”. Skieter – die boertjie in beheer van die sekuriteit mompel ewe – “dis ʼn motorbom daai”. Sit drink nog so koffie, toe “kaboem” dit weer en toe val die “kaboeme” so kort na mekaar.

Die volgende oomblik gaat al die hekke oop. Ons het vier voertuighekke tot by Karada-basis. Gepantserde voertuie van alle soorte jaag ons basis in. Binne oomblikke staan daar 20 – 30 BBP’s en so 60 of wat “monsters” daar rond – dis nou die bodyguards. En ek hoor van ʼn groot vergadering met die minister van energiesake en toe die lot op pad is, ry hulle in ʼn lokval in. So kom jaag hulle vir lewe en dood na ons basis toe.

Ek tree vir Ached aan en sorg dat die BBP’s skoene iewers kan uitskop en Morgan – dis nou my Nissan-bakkietjie-vriend, om om te sien na die “monsters”. Loop pluk vir Rudy daar uit sy kooi uit en vertel hom om vir George te kom help kosmaak en ons werskaf.

Later hang die choppers oor Karada en daag die army met konvooie op maar “ons” mense is dik geëet en vredevol. Laat middag is ons weer alleen en ʼn soort dankbaarheid kom sit in my hart. Dit was lekker om skouer te skuur met ministers en ambassadeurs en dies meer maar dit was nog lekkerder om oor “monsters” te val wat in gange sit en slaap en met almal grappies te maak. En my span het geperform – soos daai outydse Big Six Ford-engines, net so ʼn diep geroggel in die pyp, maar verder moeitevry.

Vir die eerste keer voel dit vir my asof ek ʼn verskil gemaak het en asof dinge werk; asof hier tog meer vir my te doen is as om net geld huiswaarts te stuur. En ek besef dat ek iets vir die mense van Irak kan leer. Iets van vasvat en voorvat, iets van vry-wees en nie bang wees vir een of ander “Sheik” of “Iman” of ding nie, want as die bomme bars, is ons almal maar net vlees en bloed. Maar as ons saamstaan, kan ons van ʼn groot “kaboem” ʼn geleentheid maak van skoene uitskop en naby aan mekaar kom.

Die aand braai ons klompie Suid Afrikaners vleis bo-op die dak van die hotel en ons knak ʼn groenetjie en ons drink op ons land wat ver is. Afrika is mos nie vir sussies nie.

Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

susan ·

Koos Greeff kan ek asb vir jou kom werk-niks verveeldheid nie-net opwinding.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.