Briewe uit Bagdad: Al Mansoor-basis

Bagdad (Foto: Koos Greeff)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe Landsgenote,

Ons baas hier in Irak is nou nie juis luidsprekend nie; ook glad nie welsprekend nie.

“Sluipers” het ons sy soort destyds op Stellenbosch genoem. Het vir die CIA gewerk – seker dié dat hy so sluip. Hy mompel een aand op die selfoon dat hy my wil sien die volgende dag en dat hy ʼn span “monsters” (lyfwagte) gestuur het om my te kom haal. So daag ek vroegdag in Al Mansoor-basis op. Dis die hoofkwartier van ons maatskappy en dis pragtig met baie palmbome en groot huise so in die skaduwee van die reuse moskee wat ou Sadam daar begin bou het.

Daar hoor ek toe van probleme die hele Irak vol en dat hulle my Direkteur van Werke wil maak. Gee my ewe ʼn kamer in die “Wit Huis” – ʼn pragtige villa van vier verdiepings met watervalle en met marmer versier en ou Jakob voel heel belangrik. Ek vra darem vir ʼn paar dae genadetyd om die besigheid te bedink en die volgende paar dae dwaal ek op Al Mansoor rond en kyk die kat uit die boom uit.

Die plek is reusagtig. So 30 villas met enkele hotelle, gastehuise en werkswinkels tussen-in. Die hele lot is ook omring met hoë mure en oral sit wagte op dakke en bespied die omgewing. Ons is so 800 tot 900 siele wat hier woon en die grootbase van verskeie groot maatskappye tel onder ons kliënte.

Op my verkenningstog, loop ek my ou vriende raak. Dis nou die manne van 32 Bataljon van Buffalo en van die Boesman Bataljon van Omega – doer in die Caprivi van Namibië. Maar ook ʼn klomp Koevoete en KK Korps-manne van die Kaap. En ons kuier lekker – daar op die dakke van Al Mansoor.

Ek slaap van my kleindag al so sleg en dis nou erger. So ek dwaal rond en sit in wagtorings en praat oor die dae van lank gelede en beloer die misdadigers hier buite ons mure. Ons praat in soorte van tale en ek moet geheel my Zoeloe ook uithaal om met die manne van Zimbabwe te praat maar ons het een hartklop en dis vir Afrika. En ons dank die Heer vir die genade van vrede en hoop.

So loop en drink ek koffie en praat oor “ou dae” se dinge en wonder oor die “nuwe dae” se moeilikhede en snoei die rose. Ek skrop nes en vind my voete want ek is nou amper ʼn grootbaas in Irak.

Groetnis
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Kyk maar rond, oubaas Abraham van die Bybel het vandaar getrek. Bid baie sodat jy ook weer jou vaderland sal sien… Shalom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.