Briewe uit Bagdad: Arbeid adel

Bagdad (Foto: Koos Greeff)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende

Klippe kou is ʼn wonderlike ding want hy leer jou planne maak en met jou voorvoete werk. Ek het ʼn teorie rondom die klomp verdruktes van Sadam.

Die Tigrus- en Eufraatriviere loop hierdeur en hulle laat die Olifant soos ʼn vulletjie lyk. Verder is dit warm en amper windstil meeste tyd van die jaar. So die ouens sit elkeen onder sy dadelboom en eet sy paar vye en granate en vang vis as die lus te groot raak. Elke nou en dan verdrink daar ʼn skaap of bok ook en dan het hulle sommer vleis. Maar van ware werk ken hulle nie – dis nou my teorie.

En toe kom grawe BP of Shell olie hier raak en die lot word ryk – soos skatryk. In hierdie flentersland loop daar meer Mercedese en BMW’s – almal hier SUV’s, as wat daar Isuzus in die hele Namakwaland is. En hulle kry mense van oral oor om vir hulle te werk. Uit Tunisië en Algerië kom die gewone arbeiders, die kokke is uit die Filippyne uit, die polisiemanne en spietkoppe uit Indonesië en die doktors en bankiers uit Europa. So was dit onder ou Sadam en so sukkel dit nog aan. Maar werk kan hulle nie juis nie.

Sommer met die intrapslag het ek onraad gemerk en vir my ʼn overall laat kom. Elke oggend tussen 9 en 10 het ons een of ander projek. Dan trek ek my overalltjie aan en kommandeer die hele lot op en ons maak skoon en pak reg. En ons ry lorrievragte gemors hier uit en die ystersmouse staan letterlik tou by Bravo-hek om te kom kwansel. Maar dis meer as dit – hier staan ʼn lorrievrag brandblussers en hope yskaste, aircons, stoele, lessenaars en annerlike goeters wat nog dienlik is maar niemand maak reg nie.

En die stoorkamer sit vol gloeilampe want niemand maak die stukkende straatligte reg nie. Die helfte van die toilette werk ook nie lekker nie want dis makliker om “Buite orde” te skryf as om ʼn eenvoudige seël te vervang.

So vertel my hoofhuishoudster my dat ons een BBP-kamer nou al vir drie maande oop staan want hulle wag vir ʼn verwer om die plek te kom verf. Tree toe sommer vir Mohammed Mohammed (dis sy naam en van) daar aan – en ons twee draf die kamertjie kaf in een voormiddag.

So – ek het ʼn selfhelp-projek hier aan die gang. Ons verf en pleister, sweis en meganiek en die stof draai oor Karada.

Wees gegroet.
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oudste ·

Roer hulle poeiers Koos. Ons hier vanaf die Suidpunt se planne raak mos nooit op nie en ons hande staan mos nie stil nie. Sterkte en mooi loop.

Chrisella ·

Wat ‘n interessante reeks, baie dankie! Ons Suid-Afrikaners is fantastiese mense, nie bang om planne te maak en self te werk nie.

Ben Raubenheimer ·

Wat ‘n interessante reeks, baie dankie! Ons Afrikaners is fantastiese mense, nie bang om planne te maak en self te werk nie. Over geset synde, ‘n Boer maak ‘n plan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.