Briewe uit Bagdad: Die afskeid

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Hierdie is sy eerste brief. -Red

Liewe vriende

Ek ry safari doer ver in Namibië en ek is alleen en verlang na Vroulief. Maar so kamp ons die aand by ou Jantjie Rhyn se plaas “Fonteine” doer anderkant Bergsig teen die Skedelkuspark. En dis mooi en lekker en ons is alleen op daai hoogland met net die mooi ou fonteintjie wat rustig kabbel tot in die poeletjies wat Jantjie daar gebou het. Die nag kan ek g’n stuk slaap nie. Dag eers dis die hiënas wat my so tempteer maar later kom die verborge dieptes van my onrus te voorskyn, en dit is geld. Daai wortel van alle kwaad. Ek weet nie of die wêreld so verander het sedert oom Salomo se tyd nie, want ek is nou nie juis iemand wat geld begeer nie maar die geldduiwel pla my ook – veral as ek my skuld moet betaal.

Dis nou jare dat ek en Vroulief safari’s ry en so het ons die span deur die skool en sommige darem ook deur Stellenbosch gekry. Maar nou droog die fonteintjie op. Ons lewe yl maar darem nie so yl nie. So, ek slaap sleg en worstel met die geld en hiënas wat nie wil ophou roep nie – behoorlik twee karperde van onheil.

Maar iewers so teen drieuur se kant ruk ek nog ʼn keer wakker. Dag eers dis hiëna se kind wat foeter hier om my kamp, maar dis doodstil. Lê so op my rug en kyk die sterre – want Vroulief is ver en as ek alleen safari ry, slaap ek sommer so bloots. Ek praat met Vader doer bo en vertel Hom van my swaarkry. En daar kom val ʼn gedagte in my binneste: “Hoekom gaan werk jy nie in Afghanistan of Irak nie?” Het gehoor die boere verdien goeie geld daar.

Twee maande later sit ek en vroulief die laatmiddag in die winterson en geniet ʼn gloeiwyntjie wat ons self gebrou het. Dis vredevol en salig hier op De Brug en ons sit en luister na die fisante se gekibbel en die gedreun van die water soos die Doringrivier voortstorm en sy laaste jeugdigheid uitwoed voor hy met die Olifantsrivier saamloop by Boontjiegat. Ons is dankbaar en geniet die laatmiddag-saligheid. Ons lewens is vol met vyf kinders en 10 kleinkinders en so nou en dan kry ons darem ʼn skapie daar uit die Hantam uit – so ons mage is ook vol.

Maar die bankbestuurder grom en die selfoontjie piep elke nou en dan met nog ʼn dreigement. En ons is nie meer lus vir hierdie soort ding nie want ons is nou in daai stadium dat ons die kleinkinders wil geniet en basta verder. Ons wil bederf en rondry en die laaste van die sonnetjie geniet voordat die donkerte van rêrig oudwees toesak. Maar die wêreld se beursie is leeg met die “kredietkrisis” en veral vir ons ouens wat in die safari-bedryf is, knyp dit behoorlik.  So sit en bepraat ons die dinge met die gloeiwyntjie in die hand en die Weste-sonnetjie in ons oë.

Die enigste vinnige uitkoms is nou na Irak om die spul Amerikaners te loop help daar om hulle gemors uit te sorteer. Want ek ken van oorlog en Vroulief ken van alleen-sit met ʼn kleinspan.  Destyds was dit nog sonder internet en selfone en kon ons net somtyds op die “rooifoon” vanuit Oshikati met mekaar praat en dan was dit soos ou Lucas Maree sing van die gekraak op die telefoon en die langafstandliefde. Ons weet van ver wees en alleenslaap en worry… maar nou staan die boepie al ver en is die hare al witter so ons wonder maar oor die ver wees en alleenslaap, maar die bankbestuurder grom.

Kyk – as ʼn mens ʼn ding wil doen, dan moet jy dit doen en nie sit handjiesvou nie. Ek het daai Vrydag “ja” gesê en die Maandag toe land die visum hier op De Brug – sommer so met die internet gekom. En nou is daar nie meer omdraai-tyd nie. Destyds het ons “Oumanne” mos die hangsnor of “droopy” gedra – ek meen, ʼn “Ouman” was van hogere rang as ʼn generaal. Maar nou is ek ouer en gryser en besluit toe sommer dis nou tyd vir ʼn baard. Die Irakkies is mos lief vir die “groeisels” aan hul kake dus sal ek nou maar inval en saamsmelt en boonop is ek ook nie lief vir skeer nie en nou is Vroulief mos ver.

Die volgende Sondag sit ons hele lot in die kerk op Klawer en die gemeente sing ʼn knop in jou keel in en weer uit ook en ek en Vroulief hou maar styf hande vas. Dis groettyd en Marcel is in trane en bid ernstig om genade en bewaring en my hart klop hier onder my kiewe en Vroulief is bang. Die middag braai ons vir oulaas en kuier dat Brand-se-Berg se bo’jane antwoord gee. Vroulief pak noukeurig en ek worstel in my kantoor met leesgoed vir die langpad en die span loop hier rond en deel drukkies uit en maak moed. Dis vreugdevol en die trane loop dikwels oor my wange as ek die saligheid geniet. Maar gaan moet ek gaan.

Donkeraand sit ek vir oulaas op die stoep en groet vir ou “Kardousberg” wat voor die maan staan. En ek salueer vir ou “Oskop” wat wagstaan oor die plaas en fluister terug vir die rivier se uitbundige gejol hier onder oor die keerwal. Vra ook mooi vir genade om die salighede weer te mag geniet. En toe is dit slaaptyd want môre voordag is die Kaap toe vir die groot vliegery.

Mooi loop
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

MCH ·

Ag, maar dis sooo mooi geskryf. Ek sien vreeslik uit na die reeks!

Jonathan Van Der Berg ·

Baie baie mooi geskryf . Sien uit om meer te lees

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.