Briewe uit Bagdad: Die blyplek

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. -Red

Liewe vriende,

Bagdad is ʼn reuse plek – ek skat so groot soos die Kaapse Skiereiland of amper. Maar daar stop dit, want dis plat en dis lelik. Reg in die middel is die oudste en verwaarloosde gedeelte wat bekend staan as Karada. Hier woon so tussen 400 000 en 500 000 mense en die meeste is Christene en behoort tot die Armeniese bevolkingsgroep. Ou Saddam was nou nie juis lief vir hulle nie – “agtergeblewenes”, net soos hier by ons. En nou suig hulle ook weer aan die agterste speentjie want die Christendom is redelik onderdruk in daai geweste. So hier woon hulle op mekaar in gehuggies en verwaarloosde geboue – ek hoor Hillbrow lyk deesdae ook só. En die rommel lê op die strate en die drek vloei oor die paaie en dis stof en dis miserabel.

In die hartjie van Karada het die Amerikaners vyf hotelle en vier groot huise en nog ʼn paar oop erwe gehuur. Die spulletjie het hulle omring met betonmure van so amper vier meter hoog met dubbele staalhekke by die ingange. Bo-op elke hogere plek is waghokke gebou en hier sit Nepalese- of Sri Lankese soldate dag en nag en bespied die spulletjie. Verder is daar kameras en ander elektroniese goeters wat die plek moet veilig hou. En dan is daar ook nog honde. K9 is die maatskappy en hulle kom hier iewers vandaan want die ouens praat Afrikaans en die honde verstaan dit ook!

Bagdad (Foto: Koos Greeff, verskaf aan Maroela Media)

Irak is maar redelik vodde en die Amerikaners besef dat geld alleen nie die gemors sal regmaak nie. So almal word opgelei en heropgelei. Dis nou van verpleegsters af tot by regters want ou Saddam was maar korrup en sy trawante het seker maar in sy voetspore gevolg. Maar omdat “civvies” kroonwild is en dit te gevaarlik is om vrylik rond te beweeg, kom die “studente” nou na ons toe. Amper soos: “As die berg nie na Mohammed wil kom nie, dan kom Mohammed maar na die berg”.

Ons basis is dus ʼn blyplek vir die “civvie”-opleiers van alle soorte en van oral oor wat op ‘n korttermynkontrak die mense van Irak moet leer. Hier woon hulle in die veilige vesting en elke dag kom besoek die studente ons en kry kos en opleiding.

So – hier is ek nou in Karada-basis by my woonplek vir die volgende paar weke.

Mooi week vir julle. Ek verlang.
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk ·

Ek geniet hierdie briewe van Koos erg! Wag in spanning vir die volgende een.
Dankie dat jy deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.