Briewe uit Bagdad: Die ‘demob’

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Ek kry opdrag om die een basis te gaan “demob”. Die oumanne weet wat dit is, maar vir gewone mense beteken dit om die plek te loop sluit. Dis slegte nuus daai, want dis toemaak, wegry en mense in die pad steek. Ek kry eers teen middagete ʼn konvooi bymekaar en so kort ná tweeuur daag ek daar op met die span monsters. Ons is honger en dors en stap soos een man die eetsaal in. Die kliënte rus almal so dis net ons lot werkers.

Soos een man staan die lotjie van die basis op en maak ʼn rytjie en groet ons vrolik. Toe begin sing hulle en klap ritmies hande. Ek verstaan net iets van “Jacob” ook. Maar my hart breek. Ek is die draer van slegte nuus en hier word ek so verwelkom. Die span gryp my om die nek en soen my met sulke harde baarde hier op my wange. Gelukkig is die laaste ene darem so ʼn mooi vroutjie – en sy ruik nog lekker ook!

Ek kon myself nie keer nie, moes maar omdraai en wegstap want die trane vloei oor my wange. In hierdie land van rykdom; van baie swart goud, sit meer as 80% van die mense sonder werk. Die regering deel uit en die Rooi Kruis en algar stuur pakkies maar daar is min dinge so sleg soos om sonder werk te sit en van “rystaan” te lewe. “All Pay” maak mens slegter as sleg en laat voel jou minder as nikswerd want die wet van die Heer is in ons almal se harte geskrywe: “Deur die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien”. Ek weet want ek is ook mens.

En nou sit Sankie en die drie Ali’s en die mooie Zanab en ou tannie Norat sonder werk. Ek hoor van mense wat siek is en kinders wat honger is, en oumense wat nie meer kan loop nie en huise sonder water en krag, van wanhoop. Ek pleit en worstel met God en slaap so sleg dat ek ʼn voorskrif uit Suid Afrika moet laat kom en slaappille moet insmokkel. Maar “Demob” is my taak en my hel. Ek die draer van die doodstyding.

So verlang ek meer en meer na die Evangelie en die voorreg van “Draer van Goeie Nuus” wees. Mag God my genadig wees. Bid vir my want ons is amper klaar met die “Demob”.

Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louis ·

Koos, ek huil saam met jou. Ek wens ek was daar. Om te hol soos Amjed, vrede uit te deel en saam met jou die Evangelie te leef tussen daai volksvreemdes. Sterkte my vriend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.