Briewe uit Bagdad: Die duiwe

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe Vriende,

Nou die oggend “kaboem” dit weer net voor sesuur. Ek vat my kamera en bestyg die hoogste gebou hier in Al Mansoor-basis en hoor van die wagte hulle het weer een van ons konvooie probeer tref.

Die dag was net aan’t breek en ek staan en loer met my lang lens na Bagdad wat wakker word. En ek sien die groot groepe duiwe wat draai en draai. Só word ek en die duiwe maats, want elke keer as dit “kaboem”, dan styg hulle op en soek hulle ʼn vredevolle sitplek in hierdie stad van geweld. As dit nie die motorbomme is nie, is dit helikopters of vliegtuie wat die lug skeur net so bokant die gebou en dan draai die duiwe. Lyk my party dae draai hulle maar so die hele dag want vrede en stilte ken hierdie stad nie.

Een namiddag kuier ek by Hennie en sy span. Dis die “monster” wat boerewors maak in Bagdad. Ons braai vleis en ek sit-lê so agteroor in my stoel. Toe sien ek dit – doer bo in die lug die wit wolkies wat kom en gaan en ek wys vir Clement en hy vertel my dis mortiere wat so afgeskiet word. Die Amerikaners het klein vliegtuigies in die lug – goedjies wat sonder mens vlieg, maar die rekenaartjies in die “drone” bekyk die hele aarde met sy glasoog en as die mortier wegvlieg, dan skiet hy. Skynbaar keer op keer raak ook, want ek weet nie van mortiere wat juis skade maak nie. Toe hoor ek die “drones” draai dag en nag bokant ons en hou veral die basisse dop.

Dit raas só dat mens nie eers die “drones” hoor nie. Jy kyk net vir motorbomme of ouens met dik jasse aan maar opkyk, doen jy nie. Maar hulle is daar en dag en nag “drone” hulle. So die duiwe kry nie sitkans nie – die goed is skynbaar so maer dat die uitgeteerde katte van Bagdad nie eers vir hulle kans sien nie.

Maar nou wonder ek oor die kindertjies. Oor Agmed se Reen en Amed want kindertjies is mos maar soos duifies; hulle soek ook stilte en vrede. Kyk nou maar net al die ouens wat loop met ellendes en plae van die oorlog op die Grens of in Soweto en dit was nie eers so erg nie.

My hart breek vir die kindertjies van Irak – en vir die duiwe wat nie sitkans kry nie.

Bid vir Bagdad
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae