Briewe uit Bagdad: Die eerste aand

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. -Red

Liewe vriende,

Daar kom ek toe Karada aan en ʼn hele skare staan daar om my welkom te heet. Dis nou “Big Steve” wat hoof is van die sekuriteit, kapt. Amber uit Nepal wat oor die wagte is, Damien uit die VSA wat een van die base is en sommer ʼn hoop mense. Groet my vriendelik en begelei my na my kamer. Dis op die boonste vloer van die Remal Hotel en Damien help my om ontslae te raak van my staaldak en koeëlvaste baadjie. Dis ʼn heel mooi kamer met twee lugverkoelers en ʼn lekker groot TV met satellietverbinding. Ek pluk sommer die gordyne oop en Damien val amper oor die bed in ʼn poging om my te stop. Toe hoor ek van skerpskutters en sluipmoordenaars wat op loer lê vir ons.

Daarna is ons die eetvertrek in. Larry en George uit die Filippyne is die hoofkokke en tree hulle span aan om my nog meer welkom te laat voel. Daarna is dit ons gaste en met die groetslag vertel mnr. Azzis my dat “Koos” ʼn vreeslike woord in Arabies is. Ek word net daar en dan herdoop tot “Jakob” en ons gaan verder met die groetery.

Die aand val ek doodmoeg in die kooi en het darem net genoeg krag om vir Vroulief ʼn SMS te stuur. Iewers in die nag word ek wakker van ʼn gedonder. Wonder wat gaan nou aan dat ons in die winter in Namakwaland onweer het. Meteens dring dit tot my deur dat ek in Bagdad is en dis geen onweer daai nie! Gooi my staaldak op en beklim die trap tot bo-op die dak van die hotel.

Iewers in die donkerte praat ʼn stem met my: “Sir Jakob. You do not need to worry.” Vallend oor pype en drade vind ek die stem. In ʼn klein hokkie sit een van die Nepalese wagte met sy masjiengeweer en met ʼn verkyker teen die oge vasgedruk. Die radio gons sonder ophou en ek herken kaptein Amber en ook vir Big Steve en hoor ouens wat uit iewers uit die skemerte antwoord gee. Almal bevestig dat ons oukei is. ʼn Vrede daal op my neer want wat menslik gedoen kan word, word gedoen. Nou kan ek maar net oorgee en aangaan met my eie lewe want ander ouens doen hulle plig.

Was teen 06:00 al op en só begin my eerste volle dag as bestuurder van Karada-kompleks in Bagdad.

Geniet die koelte daar in Namakwaland!
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jurie ·

Lekker gelag “Sir Jakob” !
Dit is ook my bedroee lot om so oral in die wereld aan te doen en soos daar by jou weet mens nie aldag vir wie jy onsigbaar moet wees en wie vriend of vyand is nie. Dit gaan maar soos dit gaan daar in SA en elders nie veel beter nie. Die wereld is wel vrot !
Sien uit na die volgende episode !

Jurie ·

Magtie Koos ek sien nou eers die ander briewe en kry toe so lekker lag oor jou Abu Dhabi storie, ek moes so paar maande gelede ‘n aansluitvlug kry huistoe daar vanaf Sri Lanka en na ‘n sandstorm was ons so halfuur laat die middag hier by 5nm. Kry toe 3 ete kaartjies en ‘n slaapplek kaartjie tot more se vlug dieselfde tyd, gedink ek kan darem by ‘n hotel slaap maar groot was my verbasing toe ek die hotel sien, so skoolsaal vol groterige swart “doodkiste” met ‘n oopskuif deksel. Al wat daar in is, is ‘n harde spons om op te slaap en ‘n USB konneksie as jy ‘n foon het wat ‘n liggie dalk het. As hy toe is dan is dit pikswart en benoud,as jy hom effe oopskuif is die gesnork van buite onhoudbaar, dit was erg en wonder of jou bankie slaap nie ‘n beter opsie sou wees nie. As jy weer daar kom gaan op met die roltrap tot heelbo en gaan bekyk die affere en wees bly jy het nie ‘n vlug gemis nie !

Piet Skiet ·

Jan-nee. “Koos” is ‘n baie kru naam daar. Jou ervaring herinner nogal baie aan my grens-ervaring, sonder die hotelkamer en satelliet-TV. Mens moenie oorlog romatiseer nie maar ai, die reuk van kordiet, klap-en knel van geweervuur, adrenalien, stof en sweet….

Koos ·

Dankie Piet. Die bosoorlog ervarings het my baie gehelp in die tydjie daar in Irak. Staan sterk

Louis C Prinsloo ·

Baie dankie vir die verhale Mnr. Koos/Jakob ahahaha.
Ek weet oorlog en soortgelyke gevalle is nie speletjies nie, tog sien ek altyd uit om S.A veilig te hou waar en soos kan, al droom ek soms so groot om die wêreld veiliger te maak vir my eie en ander se nageslagde. Punt wat werklik wil maak- Ek verlang na ‘n wêreld wat in vrede met mekaar saam werk, saam werk om korupsies en ander misdade stop te sit en saam werk tot behoud van mens se gesondheid in gees en natuur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.