Briewe uit Bagdad: Die gevolg van eerlik wees

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Kort na die “wonder van Noona” bel die Sluiper my. Dis ons baas hier in Irak. Hy vra my uit oor kontrakte wat nie klaarkom nie en oor kontrakteurs wat nie betaal word nie. Ek probeer rustig mooi praat en verduidelik van standaarde wat nie nagekom word nie toe val hy my in die rede en vertel my dat ek die kontrakte sal afteken en die mense sal betaal.

Net daar druk hy op ʼn verkeerde knoppie. Ek steek viervoet vas en vra of hy miskien die projekte besoek het om inspeksie te doen. Ek wil sommer ook weet of hy bereid is om die Amerikaanse belastingbetalers te bedrieg deur projekte af te teken wat nie op standaard afgehandel is nie.

Die Sluiper raak aan’t skel en ek lag later kliphard want teken sal ek nie teken nie. Einde ten laaste vertel hy my dat ek hom geen ander keuse laat as om my te “fire” nie. Ek stem ewe met hom saam want een of ander dwaas moet sy naam op papier sit maar Jakob Greeff sal dit nie wees nie.

So verander my posisie van “direkteur” tot “ongewenste” binne ʼn halfuur.

Die volgende dag het ek my toerusting gaan teruggee en my ontslag gaan teken en nou sit ek hier op Abu Dhabi en wag vir ʼn vlug na Johannesburg. Ek is verdwaas en vuisvoos maar ook dankbaar. Ek het een keer my gewete verkrag en amper my siel verkoop vir ʼn politieke bestel. Ek doen dit waaragtig nie vir vuil gewin nie. Want die baas probeer met mooi praatjies en vae beloftes van baie geld maar hy verswyg van Kommissies van Ondersoek en mense wat in Amerikaanse tronke vrot en dit vir “gou-geld”.

Ek voel vanaand soos ou diaken Phillip. Dis nou die ene wat op pad was na Ethiopië toe kom vat die Gees hom meteens daar weg. Ek dag nog ek het werk in Irak maar hier sit ek nou op pad huis toe. Maar ek is ook dankbaar en vrede. Die paar maande hier was goed vir my. Ek is so bly ek kom van Afrika en ek ken van oorlog en vrede en van versoening en vergiffenis. Ek ken van God en weet van Sy genade. Ek weet van werk en swaarkry en raakvat en voorvat. Ek ken van eerbaar en opreg en liefde gee en liefde kry. En ek verkoop nie my siel vir boontjiesop nie. Daarvoor dank ek ook God.

Ek is op pad huis toe en sien julle gou en ek vertrou Hom vir nuwe avonture wat lê en wag.

Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Francie ·

Mooi so! Ek is trots op jou.
Die ironie van die hele spulletjie is dat jy verantwoordelik gehou word sou as iets later skeefloop.
Hierdie is net weer ‘n bewys dat die reguit en kortste pad die heel beste is. ‘n Mens kan immers nie die sëen van die Here verwag op oneerlike dade nie.
Moenie bekommerd wees oor die toekoms nie, daar word van jou optrede kennis geneem.

madels ·

Wat n wonderlike wonderlike bemoedigende storie. Dankie dat jy n man van karakter. Die Here kan baie doen met n man soos jy.

Koos ·

Dankie julle. Maklik was dit nie maar ek is dankbaar ek kon vasstaan. Ek sit nou op Strandfontein teen die Weskus en is saam met die Duitser en ons kyk uit na die toekoms

Jordaan ·

Sterkte daar en ek vertrou die pad vorentoe word gou duidelik. Dankie dat jy jou ervaring met ons gedeel het.

Estelle ·

Koos, ons het jou briewe so geniet, jy kan maar gerus vir ons verder skryf oor Strandfontein. Ons sal dit net so geniet!

Eish ·

Die briewe was die hoogtepunt vir my op MM. Baie dankie vir die deel en bowenal die standvastigheid in moeilike omstandighede. Welkom terug in die helhool.

Marix ·

Ek het ook jou briewe so geniet. Dankie Koos. ‘n Mens se hart bloei vir soveel mense met seer in die wereld.
Maranata!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.