Briewe uit Bagdad: Die groot glas whisky

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Ek moet belei, ek was dronk. Vir die eerste keer in my lewe was ek regtig dronk. Kyk, ek het hier teen die Olifant groot geword en toe ek nog ʼn kannetjie was, het my pa my al van wyn geleer. Soos van respektabel wees want brandewyn het mos nie brieke nie – vra maar die manne met die kanne. Maar dit was bloedig warm hier in Bagdad en die onweer is gemeng met stof en rook en hang so onheilig oor die stad. En ek werk laat die speeksel droog sit in my mond.

Toe kry ek die uitnodiging om saam met die Nepalese wagte te kom eet. Strompel daar in en die manne braai Buffalo Wings en gooi my ʼn groot glas whisky op ys. Ek weet nie van whisky nie, want ons drink nie juis hardehout nie. Ek vat hom en slaan hom weg om my erge dors te les en net daar maak die Nepalese my groot glas weer vol.

Ons kuier ʼn hond uit ʼn bos en toe ek weer sien, is nommer twee ook leeg. Meteens begin my kop te draai en ek voel vreemd lighoofdig. Dag eers een of ander pestilensie het my bespring maar toe dring dit deur, whisky jou bog.

Net daar vat ek die tafel vas en sit dood en wag op die Buffalo Wings om te kom uithelp. Maar die whisky klou vir dood. Ek ryg die wings in en later druk die chillies darem die whisky so bietjie uit en net daar besluit ek die beste plek nou vir my is in die kooi. Ek is “Sir Jakob” en ek beter my soos ʼn Sir gedra.

Vat die hyser af tot die grondvloer en nou loop ek met kort treetjies tot by die ingang van die hotel. Doer skuins-oorkant die straat is my slaapplek en ek kyk steeds deur sulke wasige oge na die straat. En ek weet mense moniteer my, want alles word altyd gebekyk so ek beter reguit loop. Dus knyp ek my linkeroog styf toe en mik met die ander oog vir die ingang doer oorkant.

Vanaand was daar nie eers tyd vir ginnegaap met die wagte by die ingang nie – ek mompel net ietsie en storm die gang af. Toe ek bo-op die kooi val, maak ek my ander oog oop en pluk vir selfoontjie uit. Bel die vrou doer ver en vertel haar wat ek aangevang het, maar verseker haar ek is op my eie kooi en my skoene is uit en nou gaat ek slaap.

Het toe heel lekker geslaap ook. Maar dit weet ek nou – ek en groot glas whisky akkordeer nie!

Vrede daar in die Dal
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jaco ·

hierdie drinksessie kon enige plek in die wêreld plaasgevind het. ek kan nie sien wat dit met Bagdad te doen het nie.

Bloues ·

Koos, of dit nou whisky is wat jy erens anders kon drink of n geselsie met iemand anders wat jy erens anders kon hê, vir my is hierdie “briefies” van jou puik.
Baie van ons geniet dit doen so voort asb.

E ·

Ek geniet ook Koos se Briewe uit Bagdad. Hy skryf oor al sy wedervaringe terwyl hy in Bagdad woon en werk. Dit gaan nie oor die “drinksessie” nie, maar oor nog een ervaring wat hy het terwyl hy daar is. Ai, mense darem….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.