Briewe uit Bagdad: Die groot verlange

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Dis warm en die stof-rook hang so ʼn dik bank oor Bagdad. En vandag verlang ek na baie mense. Dis nou van Pappa wat my baie vroeg in my lewe leer sweis het tot Jan wat al vir jare vir my werk en nog nooit ʼn grinder gebreek het nie. Om nie eers van Pieter te praat nie – hy wat jou sitkamer kan verf sonder om spatsels op die mat te kry of ou Hendrik wat ʼn natgepleisterde muur met ʼn troffel kan “staal” totdat die muur blink asof dit gepoleer is. Maar kom ek vertel.

Ons het sulke reusekompressors bo-op die Remal-hotel se dak. Die goed moet ons lawe in hierdie hel-hool. Die vorige bestuurder het twee maande gelede meer as R300 000 gespandeer om die vier kompressors te laat herstel. Op ons Sabbatdag – Vrydag, kalf die hele lot en die hotel oorverhit en die BBP’s ook! Ek het iewers ʼn helder oranje overall gekry en ek spring daarin en storm die kompressors. Na ure se gesukkel en baie oproepe daag die kontrakteur heel rustig hier op. Hy is gedas so hy bel ʼn paar pêlle, maar almal wat opdaag is ook gedas. Na ure kom hier ʼn ene Ali aan – hy het darem ʼn overall aan en ʼn paar spanners by hom. Maar die ander sewe is nog almal hier en elke ou praat onophoudelik op sy selfoon. Almal het twee foontjies en party ouens selfs drie en praat letterlik met almal gelyk en net ek en Ali probeer werk.

Later kry ons die flenters bearings daar uit en nou haal Ali met groot omhaal die nuwe bearings uit en ek sien die goed is in Duitsland vervaardig. Ek ken toevallig so iets en weet die kompressors kom uit Amerika en dat die metings van hierdie twee lande verskil soos duime van sentimeters.  Ek vertel dit vir Ali en heel vermakerig bring hy sy antwoord op hierdie probleempie te voorskyn – ʼn slypsteen! Ek praat nou van daai platklip-soort – daais waarop ons voorsate hulle Josef Rodgersse verrinneweer het. Met groot omhaal begin slyp Ali die bearings reg en moker hulle met ʼn hamer daar op die krukas vas en skroewe die lot toe – my teenstribbel help niks nie.

Ek dood so amper aan my hart. Dis toe laat ek so terugverlang en sommer vir oom Jan Dromme ook.  “Selbstverständlich” reken die Duitsers – die kompressors loop toe vir presies agt ure voor hulle weer kalf!

Ek worstel steeds.
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet Snot ·

‘n Onmiddelike antwoord is ver beter as ‘n oplossing wat gaan hou. Môre maak ons weer reg.
Verskillende wêreldsienings.
Het nou lekker vir jou gesmile, Koos.

Kaspaas ·

Dankie Koos, nou weet Ek ook hoekom sekere motor vervaardigers “Kompressor” naam plaatjies op hulle produkte plaas, in stede van “Turbo”.
hahahehe

Hannah ·

O aarde Koos… ek haal my hoed af vir jou! Sien uit na die volgende brief!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.