Briewe uit Bagdad: Die ‘Monsters’ van Irak

Bagdad (Foto: Koos Greeff)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Nou die dag bestel ek ʼn Leatherman-tooltjie oor die pos en toe ek na die straatadres uitvra, gee die ouens my ʼn Afrikaanse naam vir daai deel van Bagdad. Iets soos “Joubertsdal” en ek verwonder my hieroor.

Net ná die Amerikaners oom Sadam die vlaktes in gejaag het, daal die onheil in volle swang oor Irak neer. Sunni vermoor Sjiïet en almal pak die Armeniërs en bestorm die Turkmene. Min of meer soos ʼn kroeggeveg. Een of ander ryk Irakie besef hulle het beskerming nodig en laat kom vir “Joubert” al die pad uit Suid Afrika uit. Joubert kry die spul daar beveilig en rig ʼn straatkomitee op – ons het mos genoeg daarvan geleer destyds in Soweto. Hy kry die inwoners om verantwoordelikheid te neem vir hulle straat en die span staan wag en vat mekaar se hande – Sunni, Sjiïet, Armeniër en Turkmeen. Die boewe boef en die rowers roof maar in daai wyk is daar vrede en gemeensaamheid. En só kry die wyk die naam van Joubertsdal.

Ek leer ken vir “Smiley”, wat ʼn medalje vir dapperheid ontvang het en vir Skieter, wat vir die Blou Bulle rugby gespeel het en vir Shawn van die KK Korps wat in Angola verdwaal het. En vir Klein-Jannie, wat so groot soos Pierre Spies is en vir Marius wat lag dat Bagdad se mure skud en Hennie wat boerewors maak in Bagdad. Dis die “Monsters” van Irak. Die manne wat elke dag van hulle lewens die dood in die oë kyk om konvooie te ry en buitelanders te beveilig. Ek hoor ook van ministers in Irak en ander BBP’s van die buiteland wat weier om met enige ander bodyguards te werk as Suid Afrikaners. Volgens hulle is dit die enigste bodyguards wat bereid is om in die spervuur in te staan en hulle lewens neer te lê vir hulle kliënte.

Maar ek hoor ook van die “Bagdad-vier”: Andre Durant, Callie Scheepers, Hardus Greeff en Johann Enslin wat op die oggend van 10 Desember 2006 net noord van Bagdad by ʼn polisieblokkade ontvoer is en nooit weer gesien is nie. En van geliefdes wat steeds hoop en bid.

Mens lees in die Bybel van die onbekende God wat iemand probeer vereer het. Hier lewe ons klomp in Irak en doen oor die algemeen wonderlike werk. Maar ek glo nie iemand sal die “Monsters” ooit vereer of erken nie. Miskien moet ons eendag daar op Maskam maar ʼn beeldjie oprig vir die onbekende “Monsters van Irak”.

Dit gaan goed met my.
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephen ·

Dis lekker om van die Suid Afrikaners so te lees. Ek self 2004-2006 en dan 2015 tot huidiglik in Irak. Die Boere is legendes en almal praat nog van hulle. Lekker dag.

Koos ·

Sterkte my maat. Doen julle goeie werk en groete aan die manne

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.