Briewe uit Bagdad: Die tuiskoms

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hier is die laaste brief in sy reeks oor sy avonture. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Ek is nou tuis teen die Doring hier in die hoek van die Nardousberge en dit gaan goed. Vroulief was al te bly om my te sien en die kleinspan so effens en die klein-kleinspan amper soveel soos hulle “Oma”.

Kort voor my wegjaag uit Irak koop ek vir my ʼn dolk by ʼn antiekehandelaar in Bagdad. So ʼn mooi kromme met ʼn Damaskus-lem en met kameelbeen versier. Toe ek in die ry staan, vat die sekuriteitsmense my dolk af – dit nog bo-op die baklei met ou Sluiper. My arme hart het amper loop staan. Maar een van die “monsters” (lyfwagte) skreeu doer van oorkant af in die boere se taal ek moenie worry nie – hy sal my mes kry en vir my laat aanstuur. Ek hoor maar so ongelowig.

Nou dit dag sit ons hier toe bel ʼn koerier my en so wragtig – hier kom my dolk. Nou sit ek met die kromding in my hande en wonder oor Irak.

Toe lui die foon doer in my kantoor. Dis ʼn sekere Annie en sy bel uit die grote Amerika. Ek sit so half ongelowig vir haar en luister maar sy val sommer met die deur in die huis. Vertel my so ewe dat hulle al ʼn lang tyd die onheilige gewoeker van ou Sluiper moniteer en dat hulle nou keelvol is vir hom en die maatskappy se boewery. En nou wil sy weet hoekom is ek daar weg en wat staan daar in my e-posse want sy kan nie Afrikaans lees nie. Toe val ek amper van my stoel af.

So amper het ek my siel verkoop vir geld doer in Irak en hier sit die Grootbroer vir ons en loer!

Het toe maar ewe gedwee my skrywetjies vertaal en my ander dokumente aangestuur. Hoor later die ouens het hulle rieme behoorlik vas geloop.

En die “Hand-skildery” sit hier teen my muur en loer vir my. Ou Morgan skrywe steeds in Arabies vir my en ek maak tekens terug en skynbaar is Sadi besig en Fatim is oukei.

Nou die dag kuier ons en die span daar by Bagdad-eetplek op die Knersvlakte anderkant Vanrhynsdorp. En ek kry die groot verlange oor my en bel net daar vir Agmed. Noona lewe en dit gaan goed met haar en die kleinspan. Hy is steeds stoorman maar vir ʼn ander groep Amerikaners en daar is ietwat hoop in sy hart en hy noem my steeds ʼn engel.

Ek is dankbaar. Ek, ʼn boerklong van die Olifant wat op my dae rondgedwaal het in plakkerskampe en selfs in die bos ʼn paar draaitjies gaan maak het. En wat geglo het Ingels is die taal van die Antichris en dat Afrika stop by die Limpopo.

Nou het ek vriende in Irak en ons praat Ingels met mekaar. En ek is amper lief vir hulle en wens selfs ek kon daar ʼn draai loop maak. En ek is nie meer bang vir Afrika nie en ook nie vir Ingels nie. Ek ken my plek en hier jae jy my nie uit nie.

Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Eish ·

Koosman, kyk nou net hoe draai so n wiel!
Ek dink dit is dalk n goeie idee om minstens so een keer n maand vir onse klompie wat ook nou goed geheg geraak het aan jouse wedervarings tog maar te laat weet wat jy aanvang in die helhool om te oorleef. Dit smaak my tog jy is net so ordinêr soos die lesers en ons kry maar min te lese van gewone mense se wedervarings in die stryd om oorlewing.

Koos ·

Dankie Eish. Ek het nogal so n plan. Lyk my Maroela gaan akkoord so hopenlik vroeg in die nuwe jaar sal ek wegval met n reeksie stories oor safaris. Want dis waarmee ek my nou besig gehou het. Staan sterk en veg voort

Marilize ·

Ek self kon nie wag dat oom Koos se brief elke week op Maroela Media verskyn het nie. Lekker gelees en sommer saam die verlange en alles aangevoel! Dankie vir die deel oom

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.