Briewe uit Bagdad: Die werkers en die proviand

Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy eerste brief. -Red

Liewe vriende,

Die situasie hier is maar haglik want Bagdad se kragsituasie laat Eskom na ʼn piekniek lyk.

Minstens vier keer elke dag sit ons sonder krag en dan is dit hol en engines start. En ek praat van monster-goeters en dis ʼn gerook en geroggel en dan het ons weer lig. Ek verstaan nou ook hoekom daar twee aircons in my kamer is, want dis maklik 30 grade teen dagbreek!

Ek het ʼn interessante lot wat vir my werk. Grace is die sekretaresse en sy kom uit die Filippyne. Sy staan net so tuinhekkie-hoog en lyk niks ouer as 14 jaar nie. Morgan is in beheer van instandhouding. Hy is ʼn blas Iraki en kom van Basra se omgewing. Hy laat dink my aan ʼn Nissan 1400-bakkie met ʼn 2-ton vrag op – ek vrees hy stort enige oomblik ineen. Dan is daar Hassam – die lorriedrywer wat nou die dag vir Ali, sy broer die stoorman, geklap het en toe storm hulle my kantoor in. Gelukkig kom Agmed daar in. Hy is so ʼn lang Iraki wat eintlik ʼn apteker is maar nie werk kan kry nie, nou is hy bestuurder oor die kombuis. Met wysheid en baie geduld kry hy toe vir Hassan en Ali van mekaar se kele af.

Dan is daar Sadi wat my laat dink aan my korporaal toe ek troepie was. So kort en netjies en niks is vir hom ʼn probleem nie. Hy klouter op hysbakke rond en vind los drade op die onmoontlikste plekke. En moenie vir Mohammed vergeet wat die tafeltenniskampioen is nie en wat in vrye tyd ook hoof is van die wasserye.

Meer as 150 mense en van minstens sewe bevolkingsgroepe met eie taal en kultuur. “Sir Jakob” maak lyste van name en plak dit orals by ingange en probeer net oorlewe in die chaos.

Ons proviand kom met ʼn container uit Holland, ons gebottelde water en drinkgoed uit Libanon en as jy iets anders soek, dan word Sadi aangetree. Hy is die enigste ou met ʼn selfoon wat foto’s kan neem. Hy verklee in “civvies” met ʼn klompie dollars in die sak en dan gaan bespeur hy die markte van Bagdad. Neem foto’s en kibbel oor pryse en dan “smokkel” hy die goedjies terug na die basis. Om ʼn gewone gloeilamp te kry word sommer ʼn dag se werk! Maar Sadi kan. Kry selfs Sultanadruiwe vir my want ek is mos darem ʼn kanaal-aap.

Maar ons veg voort. Soek darem nou koelte!
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.