Briewe uit Bagdad: Die Woord lóóp

Bagdad (Foto: Koos Greeff)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Ek en Skieter – hier van Vanrhyndorp se wêreld, is nog op inspeksie, toe bars die bom. Die ou Marble-hotel sidder eintlik en Skieter storm daar uit want hy is die hoof van sekuriteit op daai basis. Ek dwaal maar voort en later kom kry hy my in die kantoor en vertel van ʼn motorbom wat een van ons konvooie met sekondes gemis het. Maar van ons Irakese werkers is dood. Daar kom sit so ʼn verslaentheid in my hart. Die fone lui sonder ophou en mense vra uit oor hul geliefdes en almal lewe so omkyk-omkyk.

Ek sit worstel nog so toe dink ek daai oggend vroeg aan die Woord van die Heer in 1 Timoteus 2. Net daar klim ek op my laptoppie en skrywe die stuk oor sodat die Moslem-mense dit sal kan verstaan. Iets soos: “Broers, ek pleit by julle dat julle met alle ywer tot God die Genadige, die Almagtige sal bid; maar meer nog, dat julle by Hom, die Geseënde sal smeek vir genade en wysheid. Bid veral vir hulle wat in leierskapposisies is, dat hulle so sal regeer dat ons ʼn rustige en vredevolle land sal hê waar ons almal doelgerig en met eerbaarheid ons daaglikse taak sal volbring want dit is tot die lof en eer van God, die Barmhartige en Almagtige”. Loop lees maar self die gewone Afrikaans daar vanaf vers 1 tot 5.

Google help my om die lotjie te vertaal in Arabies en net daar kry die drukkertjie lewe en spoeg die papiere uit. En ek vat die pad met tape en gom en plak oral oor die stukkie Skrif – natuurlik sonder verwysings na die Bybel want ons is mos darem in ʼn Moslem-land.

Hier teen koffietyd stap ek weer so ʼn draai deur die basis en kry op ʼn paar plekke werkers wat saamdrom om die skrifte. Oor en oor vra hulle my waar kry ek die wysheid vandaan en ek vertel ʼn witleuentjie van ʼn man van God wat jare gelede in die “Boek van die Profete” dit geskrywe het. Tevrede stap hulle weg maar sommige vra my om dit vir hulle ook te druk want hulle wil dit vir hul huismense gaan gee. En so loop die Woord.

Nou doen ek dit dikwels– soos die nood druk en die wysheid kom. En ek staan verstom hoe dit vrede bring en hoop gee in ʼn land van haat en waansin. Gaan tog ʼn slaggie weer kerk toe en loop luister na die Woord. En los so bietjie die sirkusse op die TV.

Groete uit Bagdad
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dankbaar ·

Ja, die Woord staan vir ALTYD en die Here stuur dit uit om te laat gebeur… Mag hierdie Woord ook hier in Suid-Afrika begin uitgestuur word want rassehaat, afguns, menseregte (eie-ek), ens, ens het die mens se oë en ore verblind. Ongelukkig is luister nie genoeg nie, maar DOEN… Dankie, Koos, vir die lig wat jy daar gebring het, sien uit na nog sulke positiewe nuus-brokkies.

Rina Kotze ·

AMEN!

Doen so voort! Jy sal geseën word. Mag jou oes baie wees!

Koos1 ·

Wonderlik Koos. Sending 101.
Dankie dat jy bereid is om jou lewe in gevaar te stel om God se woord te versprei! Mag jy ryklik daarvoor geseën word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.