Briewe uit Bagdad: Katvroutjie

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. -Red

Elke oggend om 08:15 gaan Bravo-hek oop en dan kom “Katvroutjie” in. Die kompleks se katte staan op ʼn bondel met sterte in die lug en soek bietjie liefde. “Katvroutjie” groet hulle met groot omhaal en dan wals die prosessie die straat af na die Remal-hotel toe. Hier word ons beroof van ʼn liter melk en dan word die verwilderdes en verstotenes van Bagdad bietjie bederf. Bo van dakke af en uit vensters uit word die spektakel bespied en almal loop met so ʼn skewe glimlag op ons gesigte – minstens vir ʼn kort rukkie.

“Katvroutjie” se regte naam is Fatim en sy is ook die persoonlike sekretaresse van een van die Amerikaanse grootbase in die basis. Vir die 15 minute of so is Fatim rustig – praat net hard, maar die res van die dag woed sy. Hol heen en weer en raas op haar selfoon. Sy omsien niks en niemand en kry dinge gedoen in hierdie onbeholpe omgewing. Maar die voskop-vroutjie deel ook liefde en omgee uit. Dis nou vanaf grootbase tot by wagte op “hoogsitte” en niemand is te belangrik of te eenvoudig vir ʼn drukkie nie.

Sit netnou en skrywe toe storm “Katvroutjie” by my kantoor in. Die deur was eintlik toe maar sy hol by Morgan verby en ‘sidestep’ ook vir Grace en vind my in die agterste limiete van die kantoor. En toe sy om my lessenaar storm, toe sien ek hier’s moeilikheid want die trane stroom oor haar wange. Sy gryp my om die lyf en druk haar voskop hier onder my blad in en huil hartstogtelik. Ek staan stom en begin later haar kop vryf – die boskasie lyk in elke geval soos my Annemarie-kind s’n.

Sir Jakob,” stotter sy. “They bombed our church. They killed so many of my friends and Sir – the bodyparts and meat are plastered to the ceiling and walls. We can not even give them a real burial,” snik sy.

Dit tref my soos ʼn bom.

Hier sit ons lot buitelanders in die salige veiligheid van die kompleks. 24-uur wagte en honde en dik mure. Ons drink bier en kyk TV en gaan oefen in een van die drie gyms en verder kla ons oor die hitte en kos. Maar Fatim se vriende is nou brokstukke teen ʼn kerkmuur. En my hart breek en ek dink terug aan ons eie dae van waansin in Soweto en Crossroads en Ombalantu en Eenhana. En ek dank God vir Sy genade. Maar my hart breek vir “Katvroutjie” en haar mense.

Ek sukkel.
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

Eish ·

Ja, moet nooit iemand oordeel alvorens jy nie n myl in sy skoene geloop het nie né. Wat n absurde wêreld waarin ons leef.

Koos ·

Dankie Eish. Dit is voorwaar vreemd. En ek het regtig lief geword vir die mense daar.

Bloues ·

Koos , ek geniet jou skrywes en kan nie wag vir die volgende een nie. Doen so voort asseblief

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.