Briewe uit Bagdad: ʼn Engel is van ver af gestuur

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende

Agmed, die stoorman wat eintlik apteker is, kom die oggend my kantoor in. Sy gesig is verslae en sy oë sit vol hartseer. Hy vra of hy af kan kry, want sy twee kleintjies is alleen by die huis want sy vrou Noona is al vir drie dae in ʼn koma. Ek kyk hom stom aan en vind uit dat sy drie jaar gelede haar baarmoeder moes laat verwyder omdat sy kanker gekry het. Maar nou bloei sy onophoudelik en is haar bloeddruk net duskant niks.

Net daar klim ons op die laptoppie en Skype vir Annemarie by Karl Bremer-hospitaal. Sy luister Agmed se storie uit en hoor van mediese dienste wat in duie gestort het en hartklop en temperatuur wat net bokant fataal is. Rustig maar direk lig sy hom in dat, menslik gesproke, Noona geen kans het nie. Toe ons die laptoppie toemaak, gryp Agmed my om die lyf en begin bitterlik te ween. Verslae staan ek daar met die groot Irakkie snikkend teen my.

En meteens verstaan ek hoekom ek die vorige aand gelees het van die vrou wat aan bloedvloeiing gelei het en hoe Jesus haar genees het. Onverantwoordelike geloof spring in my hart op en net daar bid ek vir Noona en pleit by God vir kleintjies wat alleen sit by die huis met ʼn half-dood ma. Ek vertel vir Agmed dat ek sy geloof respekteer maar dat ek ʼn Christen is en boonop ʼn “priester” ook is. En dat my God belowe dat Hy ons gebede hoor. Hy kom later tot ruste en ek stuur hom huis toe.

Na ʼn halfuur bel hy my en skreeu dit uit dat Noona wakker geword het en nou-net ʼn hele bord kos geëet het. Oor en oor praat hy van “engele” en “boodskappers van God” en “gestuurdes” maar ek staan stom want ek ken my eie ongeloof. Die volgende dag is hy vroeg daar en vertel dat sy opgestaan het en met die kinders speel. Ek probeer hom beteuel met: “lewe een dag op ʼn slag” en “wees dankbaar vir elke dag van genade” maar Agmed verklaar onvoorwaardelik van ’n God wat ʼn engel van ver af gestuur het om vir sy Noona te bid. En so bly dit tot vandag toe nog.

Ek is steeds bietjie verdwaas en soos ene wat na die magtige skouspel van ʼn sonondergang kyk. Verwonderd oor winde en wolke en kleur en grootsheid. Só is my God en só werk Hy sonder mense se toedoen – ook hier in Irak.

Ek is dankbaar
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koos ·

Dankie Dankbaar. Dis om van te tjank. Noona is regtig genees en dit gaan goed met hulle almal.

Maria ·

Dankie Koos vir hierdie getuienis. God is die Wonderwerker. Ek sien uit na die volgende brief.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.