Briewe uit Bagdad: ʼn Vriend in Sadam se ‘army’

Bagdad Foto: Koos Greeff

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Liewe vriende,

Ons woed om ʼn nuwe basis in die “International Zone” reg te kry – dis die area waar al die ambassades staan. En die mense soek 54 duim-TV-skerms want skynbaar is 48 duim te klein. Dan is die stoele van die eetkamer ook te eenvoudig en so sukkel ons voort. Hier werk dit anders. Ek kan nie by daai hekke uitloop sonder ses monsters (lyfwagte) wat my omring nie en dus word aankope ʼn nagmerrie. Maar ek het vir Amjed. Hy is so ʼn kort, donker, Irakie met ʼn groot glimlag wat altyd aan die hol is.

Amjed sluip die strate van Bagdad in en neem foto’s met sy selfoontjie en stuur dit vir my. So stuur ek hom van bakboord na stuurboord en weer terug deur blokkades en geweld want ons kliënte soek net die beste van alles. En Amjed hol net en mor niks nie.

Eendag maak ek hom sit en vra hom wie hy is. So hoor ek van ʼn man met ʼn graad in siviele ingenieurswese wat toe werk gekry het in oom Sadam se army. Wat toe later majoor was en mens geskiet het in opdrag. Nou sit hy ook sonder ordentlike werk en word hy rondgeskollie agter stoele en TV’s aan.

Met trane in sy oë bieg hy oor mense wat hom nie kan vergewe nie en hoe hy elke dag vrees vir sy lewe. Van dreigemente teen sy huismense en sleg slaap in die nag. Maar net daar staan hy op en vertrek hy met oorgawe op sy volgende sending die strate in, want ons kliënte soek waatlemoen vir aandete.

Ek word lief vir Amjed. Met sy blou Kia-lorrietjie en wit Nissan Hardbody, ry hy wavragte kos en water en toiletpapier en enige denkbare ding na die basisse in Bagdad. Hy werk dag en nag en glimlag altyd. Miljoene skuif hy maand vir maand en nooit vang ek hom uit met iets nie.

Later praat ons weer en hy praat van sy kinders en hul toekoms en van sy land en van drome en hoop dat daar eendag versoening sal kom en vrede en werk vir hom. En hy droom van vergiffenis – ook vir hom, een van Sadam se trawante.

Ek sê “Amen” hierop want ʼn goeie vyand is beter as ʼn slegte vriend – minstens weet jy waar jy staan. En goed is goed – of hy vriend of vyand is en Amjed is goed.

Hy is my vriend van Sadam se army.

Hou mooi
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ronell Ras ·

Dankie die briewe word terdee geniet.Werk ook tans in Bahdad en beslis korrek !!! Sit nou so lekker en lag en dink aan ons Ahmed,Mohammed,Sameer wat ons so rondstuur as persoonlikke “shoppers”.Die arme mans moet bontstaan as jy dalk sjampoo ,vrugte anders as groen appels soek , en dan met google en prente print tussen die bestellings deur om die taal misverstande te oorbrug.Dan daai opgewonde gevoel as hy bu die hek inkom met n sakkie.Dit voel soos Kersfees !!!Groete

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.