Briewe uit Bagdad: Om hoop te gee

Bagdad (Foto: Koos Greeff)

Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avonture met Maroela-lesers deel. Lees sy vorige briewe. –Red

Vriende,

Nou die dag dra ons weer gemors van die dakke af en daar agter in ʼn vergeet-hoekie tel ek ʼn skildery op. Die ding is met modder besmeer en mens niks kan sien nie maar ek sleep hom kantoor toe en tree vir Sarkie aan. Hy is die outjie wat die kantore skoonmaak. Later kom ʼn mens se hand te voorskyn wat uit water uitkom en na ʼn takkie gryp – lyk soos iemand wat verdrink en nou krampagtig gryp na iets.

Agmed – die apteker kom toe hier in en staar lank na die skildery. Later draai hy heel ernstig na my en sê dis hoe hy baie dae voel. Net daar druk ek die kantoordeur toe en maak hom sit. Agmed vertel dat hy groot geword het in Sadam se tuisdorp en dat hy “bevoorreg” was en laat leer is. Maar toe kom die Amerikaners en bom Sadam die ewigheid in en toe word die “bevoorregtes” die “benadeeldes”. Nou sit hy sonder werk en moet hy bokse en blikke regpak as stoorman om aan die lewe te bly. Hy praat van Noona – sy vroutjie wat kanker het en van Reen en Agmed Junior wat klein is en bang is vir bomme. Van sukkel om deur beheerpunte te kom en van ure se ondervraging. Kom hulle by die hospitaal moet Noona vir ure in ʼn ry sit net om te hoor dat daar nie medisyne is nie of die dokter te besig is want ander mense se bene is afgeskiet.

My hart breek vir Agmed. En ek dink terug aan die jare van Crossroads en Soweto en die bomme en slapelose nagte. Ek herinner my hoe dit was met ʼn R1 op die vloer langs jou bed en ʼn Parabellum op die bedkassie en ʼn walkie-talkie wat heelnag staan en loer. Hoe kan ons ooit dankbaar genoeg wees vir vrede? Hoe kan ons ooit vir oom Mandela bedank dat hy nie so gek was soos Juliussie is nie.

So vertel ek vir Agmed van oom Mandela en van vrede en van “regstellende aksie” wat weer eendag reggestel word want hoe moet hy dit nou help dat hy en Sadam uit dieselfde dorp kom. Ek maak hom hoop – soos ons sal sê.

Mooi lewe daar teen die Olifant. Sê tog dankie.
Koos

*Koos Greeff het ʼn tyd lank in Bagdad spandeer. Hy gaan oor die volgende paar weke sy avontuur met Maroela-lesers deel. Lees alle Briewe uit Bagdad op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Magriet ·

Koos, moet asb nie dink dat hier vrede in hierdie mooi en droewe land van ons is nie. Ons wat op plase bly en werk, moet elke dag wapens aan ons sy hê en ook as ons gaan slaap! Ons kinders kan nie eers meer alleen buite speel soos voor 1994. Partykeer wonder ek wat doen ons nog hier.

Andre ·

Koos, jy leef in ‘n groot illusie van wat hier in SA aan die gang is. En wie was verantwoordelik vir die “jare van Crossroads en Soweto”? Verwittig ons asseblief.

Kom Ons Boks ·

Moordsyfers per kapita soos per nuutste VN verslag:
Irak – 8.0
Suid Afrika – 34.27

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.