Buster, die Great Dane en die groot stryery

Argieffoto (Foto: mtajmr/Pixabay)

Skoonmense het destyds so ʼn groot Deense hond gehad toe hulle nog op Mapumulo in Zoeloeland gewoon het. Hy laat skrik jou eintlik van oorvriendelikheid want stop jy daar, dan staan hy net so hoog soos jou kar se oop venster en steek hy sommer sy reuse gevreet daar in om jou te soengroet.

Hy was nie ʼn blaffer nie. So nou en dan los hy ʼn yslike “woef” wat meer soos ʼn verweg onweer klink. Natuurlik was hy ook nie ʼn bakleier nie, want hy was eenvoudig te vreesaanjaend vir Mapumulo se brakke en dus was dit nooit nodig om vuis te slaat nie.

Maar later van jare toe trek skoonmense ook na die sendingstasie en dis hier waar Buster sy groot sielsgenoot gekry het. Ingelse swaer het ʼn Jack Russel-reuntjie gehad. So ʼn regte dreunlyf mannetjie met stywe beentjies en regop stompstertjie wat reken hy is die grootbaas hier rond. Ek vermoed sy naam was “Rex”, maar in ieder geval vat hy smôrens die pad en loop haal vir Buster en dan inspekteer hulle die hele omtes om seker te maak daar het nie ʼn verwaande kat of verdwaalde muishond kom inwurm nie. Oral kry hulle te ete en smiddae slaap hulle sommer digby die hospitaal se kombuis vir ʼn middagversnapering. Donkeraand dwaal elke man rustig na sy eie woonplek en so gaat dit dag vir dag.

Toentertyd het ons nog nie Eskom gehad nie, so teen tienuur in die aand is dit ligte-uit en dan daal die heerlike stilte saam met die koel naglug van die Natalse Middellande neer op ons. Een nag word ek iewers in die voordag wakker van een verskriklike geraas. Ek dag eers dis die Antichris of ʼn ander bose gees wat so aangaan. Maar ek vlie darem daar uit my bed uit en hol na die kamervenster se kant. Ek pluk die gordyne daar oop en bespied die omgewing in die helder maanlig. Later besef ek maar die geraas kom sommer hier van digby my. Ek maak die venster versigtig oop, want netnou is dit een of ander boosheid wat wil spring. Toe ek my kop uitsteek sal ek sien Buster en Rex het stry gekry. Ek weet nie of dit oor ʼn vroumens of oor rugby of oor die politiek was nie, maar hulle twee stry sterk.

Rex staan viervoet sterk en kyk so skuins op. Sy bek is wyd gesper en hy blo vir Buster die pak slae van sy lewe. Hoe hy hom sal vat aan sy onder-been en hom sal omdop en hom dan aan sy nekvelle sal gryp en hom saf sal kou. Maar Buster staan vas. Hy gluur hier oor sy lang bek af na die grond se kant en diep uit sy binneste kom daar so ʼn stadige geroggel. Hy vertel vir Rex hy laat nie met hom speel nie. Hy is lank van draad maar as hy hier losruk dan stop geen Jack Russel hom nie. Maar Rex hou aan en aan met praat en my geskrou help ook niks nie. Later moes Buster moeg geraak het vir die niksseggende gedreigery. Ewe rustig tel hy sy agterbeen op en bespuit vir Rex totdat hy druipnat is. Dis so ʼn dik straal water amper soos die polisie se waterkarre, want hy spuit Rex se gegrom skoon uit hom uit. Toe stap Buster rustig stywe rug daar weg in die rigting van skoonmense se huis. En vir Rex los hy daar papnat en gedweë.

Dis toe dat ek geleer het mens moet jou bakleie reg kies. En as jy belowe dan moet jy kan maak ook en nie net by praat bly nie. Soms is dit ook beter om ʼn blaffer maar net nat te spuit en hom daar so te los, want eintlik is hy nie eers ʼn bekvol nie.

In ieder geval, Buster en Rex was die volgende dag weer groot vrinde en het hulle gewone rondes gegaan. Totdat een die ewigheid in is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

A3 ·

Klink vir my nogal bekend. Rex kan bly wees dat hulle desjare nie so baie twak met Eskom gehad het nie!!

Nettie ·

Ag, nou het ek my lag vir die dag gehad – briljant!!!!!!!!!!!!!!!!!

Petrus Heigers ·

Ek het dit so geniet! Ons het ‘n Labrador en ‘n Fox Terier kruis Jack Russel.
Hulle is net soos die twee.
Jy het ‘n besondere skryf stel wat lekker lees

Nieko ·

So ‘n verfrissende opregte storie. Het dit geniet en lekker ??

tracy ·

My pa het altyd die woord “segselwers” gebruik…..nou gebruik ek dit ……ook die woord >>myse-selwers…dit vat my jare terug

Miekie ·

Stem vir Hannah en al die ander elke dag so storie sal dit baie waardeer lekker gelag
Maak ‘n mens se dag sommer beter

JAN ·

Dankie Koos – so mooi.
Ons het ‘n klein model JR gehad ‘Asterix’
Sy groot liefde was Netta die Labrador langsaan.
Ons het dae se grootste lag gehad vir die twee se ware liefde.
XXX

Ciske ·

So ‘n lekker storie om te lees. Ons 80kg Great Dane genaamd Tank se beste maaitjie is ook Diesel die Jack Russel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.