Chester Williams – Liefling van Nuweland en Suid-Afrika

Chester Williams op 10 Junie 1995 in aksie tydens die Sprinbokke se wedstryd teen Samoa. Foto: (AP Photo/Ross Setford, File)

Deur Pierre Massyn

Chester Williams, die liefling van Nuweland, die liefling van Suid-Afrika. Chester, die Bolander wat die rugbywêreld aan sy voete gehad het. Onse Chester, wie se gewildheid provinsiale grense oorskry het. Tydens die Wêreldbeker in 1995 het die skare plakkate rondgeswaai met lewensgrootte foto’s van Williams, met die woorde “Chester vir president!” Dit spreek boekdele van hierdie nederige speler met sy groot hart en dié glimlag wat die wêreld aan sy voete gehad het.

En nou het Chester weggeval – kort ná sy vleuelmaat in daardie epiese eindstryd teen die All Blacks in 1995, James Small, op 10 Julie vanjaar. Chester Williams was slegs 49 jaar oud en die vyfde lid van die 1995-Springbokspan wat gesterf het. Afrigter Kitch Christie (58) is in 1998 weens kanker dood, Ruben Kruger (39), flank is in 2010 weens breinkanker dood en Joost van der Westhuizen (45), skrumskakel, is in 2017 aan motorneuronsiekte dood.

Jy kon Chester Mornay Williams nie as ʼn bevoorregte rugbyspeler beskou nie. Hy het uit ʼn arm huis gekom en moes sy pad van Elsiesrivier Hoërskool na die hoogste sport oopveg. So gewild was hy in die Kaap dat daar dikwels gesê is Nuweland moet eerder na Chesterfield herdoop word.

Williams het sy grootste oomblik beleef op Ellispark op 24 Junie 1995 toe die Bokke Nieu-Seeland in die eindstryd om die William Webb Ellis-trofee verslaan het. Maar dit was so hittete of Chester het daardie bus verpas. Hy het ʼn besering opgedoen voor Suid-Afrika se openingswedstryd op Nuweland teen die wêreldkampioene, Australië, en Pieter Hendriks het die no. 11-trui daardie dag, 25 Mei 1995, in Kaapstad gedra. Hendriks het sy grootste oomblik in dié wedstryd beleef toe hy óm die Aussie-legende David Campese gehardloop het vir ʼn skitterende drie. Maar toe word Hendriks geskors ná die bakleitoets teen die Kanadese in die Baai en Chester kry sy kans in die kwarteindstryd teen Samoa op Ellispark op 10 Junie 1995 … en hy vier sy terugkeer in die Springboktrui met vier drieë.

Chester Williams was ʼn grote. Nie groot van postuur nie – hy was gewoonlik altyd kleiner as sy opponent – maar groot van karakter en groot van gees. Die een Chester-oomblik wat ʼn mens se aandag in die 1995 aangegryp het, was toe hy die All Black-regtervleuel Jeff “Blondie” Wilson, wat ook vir sy land krieket gespeel het, se pale vir hom ordentlik gelig het. Want verdediging en Joel Stranskry se regtervoet het gesorg dat Die Trofee sy staanplek in die land van biltong en wors kom kry. Chester was kort en bonkig en heeltemal vreesloos. Hy het die skaal op beswaarlik 84 kg weggetrap en was net 1,74 m in sy sokkies. Van sy tydgenote was net Shane Williams, die Walliese blits van 1,7 meter, kleiner as hy.

Afrika se Suidelikste Sportmuseum op Suiderstrand. Links voor hou Balie Swart die wêreldbeker was wat hy saam met Chester Williams gewen het.

Eendag woon ek ʼn Springbok-oefening op Loftus by en ek hou Chester Williams van die kantlyn af fyn dop. Dis toe dat dit my tref: Die man het dan nie kuite nie! Maar hoewel klein en oënskynlik sonder kuitspiere speel my linkervleuel met sy paar fris bobene 27 toetse in die groen-en-goud en druk 14 drieë. En aan sy toegewydheid, fiksheid en deursettingsvermoë kon niemand twyfel nie. Hy moes harder as die meeste ander spelers werk om sy kniebeserings te bowe te kom, wat hom in 1996/7 erg gepla het. Sy lewensverhaal dra nie om dowe neute die veelseggende titel: Chester – A Biography of Courage nie.

Dit bring my by hierdie monstruositeit in ons rugby: kwotas. In geen ander land ter wêreld is daar soveel flagrante politieke inmenging in sport – en talle ander gebiede – soos in Suid-Afrika nie. Dis ANC-beleid om minstens 50% “gekleurde” en “swart-etniese” spelers in ons spanne te hê – glo om ons spanne “verteenwoordigend” van die Reënboognasie te maak. Chester Williams het uit die Bruin gemeenskap gekom. Dit kan die ANC nie ʼn bloue duit skeel wat hulle aan ons sport doen deur hierdie nat kombers om ons spanne te hang nie. Moet ʼn swart of bruin speler dan, nadat hy gekies is, worstel met die kwelvraag: Is ek net in die span oor my velkeur? Of moet die verbleekte Afrikaan wat nie die span gehaal het nie, dan dink: Dis oor ek wit is?

Daar is geen manier dat Chester Williams nie op meriete gekies is nie. Dieselfde geld die Breyton Paulses en die Bryan Habanas wat die Bok-trui met eer gedra het. Nog net dié opmerking oor “kwotas”: Die Harlem Globetrotters van die VSA is met een of twee uitsonderinge na almal swart – Afro-Amerikaners. En die swart sektor van die Amerikaanse bevolking is net sowat 20% van die geheel!

Is die ‘Trotters dan nie verteenwoordigend van die VSA nie omdat die spelers swart is? Dit beteken net een van twee dinge, en dit is dat hulle op meriete vir die Globetrotters speel, óf dat wit spelers doodeenvoudig nie goed genoeg is nie. Chester Williams was gebore en bestem om ʼn Springbok te word al was hy nou pers. In die media word hy dikwels as die Swart Pêrel bestempel.

Volgens Pieter Hendriks, een van die hooffigure in die bakleitoets teen Kanada in die Baai op 3 Junie 1995, was Williams vir sy spanmaats ʼn inspirasie toe hy wel ná Hendriks se skorsing in die Bokspan ingesluit is. Behalwe vir sy prestasies in die Springboktrui – sy loopbaan het van 1993 tot die jaar 2000 gestrek – het Williams ook 63 wedstryde vir die Westelike Provinsie gespeel. Hy het die Goue Leeus en die Cats verteenwoordig en na sy speeldae bekendheid as afrigter verwerf. In 1998 het hy die Drienasies-trofee saam met sy geliefde Springbokspan gewen en in 1999 die Curriebeker saam met die Leeus. In 1994 was sy benoeming as Suid-Afrikaanse Rugbyspeler van die jaar niks minder as welverdiend nie.

Wat my van Chester sal bybly, is sy menslikheid. Nooit was hy te besig of te belangrik om aan die kleinste versoek van enigeen van sy derduisende ondersteuners te voldoen nie, of dit was vir ʼn foto hier of  ʼn handtekening daar. Ek het eerstehandse ondervinding van sy vriendelikheid. Een van my kosbaarste besittings het ʼn permanente tuiste gevind in Afrika se Suidelikste Sportmuseum op Suiderstrand. Daar staan:

GOD BLESS, PIERRE.

(geteken) CHESTER WILLIAMS.

Moenie verbaas wees as Chester Williams se voortydige afsterwe die Bokklas van 2019 só inspireer dat hulle die William Webb Ellis-trofee vir die derde keer huis toe bring nie.

  • Pierre Massyn is die skrywer van Springbok Rugby-vasvra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Pragtige huldeblyk aan ‘n groot, gróót held.
So hartseer, ai. Sterkte toegewens vir sy vrou en kinders.

Willem Oberholzer ·

Chessie jou yster ons gaan jou mis hoop jy gaan saam Liewe Jesus rugby speel. Rus in vrede ou groote

Jerry ·

Jy het menigte rugby ondersteuners groot plesier verskaf met n paar puik driee. Welgedaan Chessie. RIP!

Gatiep ·

Die hedendaagse spelers kan by hom leer hoe om n bal by n teenstander af te neem.

willem botha ·

Hy het vir die cats en transvaal gespeel met aftrede.

Apools ·

Fantastiese speler en mens maar ongelukkig vir Francois Pienaar in die publiek in die rug gesteek met aanmerkings oor rassisme nadat die 95 bokke die wereldbeker gewen het. Waarom het hy Dan in die span gebly ? Jaloesie is maar ‘n lelike ding. Bevraagteken sy integriteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.