Chris braai eerder as om groente ‘dood te maak’

chris

Chris Chameleon. Foto: Jaco Bothma.

’n Mens moet probeer om groener te wees. En nou praat ek nie van meer gereeld jouself oorlewer aan jaloesie of te hard aan jou eerste sigaret trek nie.

Ek bedoel ’n mens moet jou bes doen om in harmonie met die natuur te lewe, sodat jou verbruikersimpak klein is – loop asof jou voet met elke tree die aarde soen en laat net spore agter.

Toe ek in 1987 in standerd 8 (nou graad 10) was, (ek het gegoogle, ’n donkie word gemiddeld 15 jaar oud, dus, ons praat hier van twee donkies se jare gelede!) was ek in ’n stadium so ’n onhebbelike kind dat ek skoolsielkundige toe gestuur is. Hy was so ’n saai, bebrilde omie wat daar agter sy lessenaar vir my gesit en wag het. Hy het beduie dat ek moet sit in die stoel voor die lessenaar, teenoor hom. Dit was ’n sielkundige poets, want die stoel was daardie soort waarvan die spons ruim meegee om jou dan sowat 20 cm laer as wat jy gereken het uiteindelik tot ruste bring. Ek moes omtrent my rug regop hou om hom net-net bo die lessenaar raak te sien. Met dié dat ek goed op my plek gesit is, vra hy toe droogweg wat my probleem is. Ek besef toe dat ek nie die vaagste benul het wat my probleem is nie en blaker toe maar “ontbossing van die Amasone” uit.

Ek besef toe dat ek nie die vaagste benul het wat my probleem is nie en blaker toe maar “ontbossing van die Amasone” uit

Nou moet ek net noem, in daardie jare was die natuur nog nie heeltemal die gekoesterde vriend en beskermde ruimte wat ons hom vandag uitmaak nie. Nee, die natuur was toe nog ’n brutale monster wat getem en oorheers moet word, waarvan daar so baie is dat ’n mens maar na hartelus kan plunder vir menslike gewin. Of so iets. Ewentwil, hy het my lank en stip aangekyk en toe opgestaan, verby my gestap, die deur oopgemaak en vir my arme, diep bekommerde, aan-’n-snesie-vroetelende moeder in die ontvangslokaal gesê: “Mevrou, die kind makeer niks nie. Gee hom so af en toe ’n bietjie aandag.”

“Mevrou, die kind makeer niks nie. Gee hom so af en toe ’n bietjie aandag”

Nou ja, ek hou toe nogal van hierdie nuwe keuse en bemoei my sedertdien graag en toegewyd daarmee. In 1994 het ek skuins voor middernag by ’n Nuwejaarskonsert voor 5 000 mense by die River Club in Kaapstad die mense toegespreek oor ontbossing. En om ’n bietjie oemf aan die praatjie te verleen het ek, terwyl ek die praatjie oor die onbesonne afkap van bome lewer, my hare met ’n materiaalskêr tot groot vermaak van die gepeupel afgesny.

Uiteindelik is daar tussen 1987 en 2015 ’n totaal van sowat 40 miljoen hektaar van die Amasone vernietig en ek het vir ’n maand of twee met ’n kapsel gesit wat my lewenslange status as randfiguur sterk bevestig het. Ek kan dus redelik veilig aanneem dat daardie poging ten spyte van my beste bedoelings nie geslaag het nie.

Die ongemaklike gevolge van my aktivisme ontmoedig my egter nie en ek is en bly maar een van daardie mense wat tuis die toilet met badwater spoel

Die ongemaklike gevolge van my aktivisme ontmoedig my egter nie en ek is en bly maar een van daardie mense wat tuis die toilet met badwater spoel, die meeste van die huis se elektrisiteit met behulp van my goeie vriend, die Son, opwek en tuis probeer groente kweek (ek sê probeer, want ten spyte van my liefde vir die Amasone maak plante ’n punt daarvan om te vrek as ek aan hulle raak!).

Ek trek egter die streep by braaivleis. Moet net nie vir my sê ek mag nie braai nie. Want … e … want … ek wil nie groente doodmaak nie.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Chris ek deel jou liefde vir bome… mooier monumente kry mens nie, maar waarmee maak ons ons braaivleisvuurtjies? Dit bekommer mens nogal, want waar kry die handelaars die baie houtstompe wat mense daagliks verbrand, siende dat bome 20+ jaar neem om groot te word. Grondboontjie-doppe, houtsaagsels en mieliestronke, gekompakteer, werk goed maar dis skaars. Miskien kan meer boere stronke verwerk dan word die hele produk benut en ons bome uitgespaar.

Rudolf ·

Stronke, ook bekend as Westransvaal hardekool braai baie lekker.

Pendoring ·

Google in 1987 ?? Die man is voorwaar voor sy tyd siende dat Google eers in 1996 begin is…

Pendoring ·

Jammer, my fout. Hy het nie in ’87 ge-Google nie. Ek’t te vinnig gelees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.