Chris Chameleon: As mens nie kan verstaan nie

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Dit gebeur soms dat mense vir jou iets sê soos: “Jy sal nie verstaan nie.”

Asof ek onnosel is. Asof my verbeelding perke het …

Ons het vir Jaco*, Cher en hul seuntjie Pirow op die plaas ontmoet. Hulle het sowat ʼn jaar gelede as gaste by ons bure ʼn bietjie kom oriënteer, nadat hulle pas uit die VSA geïmmigreer het. Jaco is ʼn Suid-Afrikaner van geboorte. Hy het vir Cher op ʼn kerkkamp ontmoet toe hulle albei nog bloedjonk was. Sy, ʼn Amerikaner, was op ʼn kerktoer in Suid-Afrika op besoek. Die tweetjies was vir mekaar uitgeknip, met ʼn swerm skoenlappers wat van meet af op hul mae neergedaal het.

Hulle het dit nooit só vir my vertel nie, maar ek glo hulle het dalk tydens die vele gebede om die beurt skelmpies vir mekaar geloer, net om dit ooit ʼn keer gelyk te doen tot die rooibakkies verleentheid van beide. En so het ʼn jongmensromanse gebot en gegroei tot ʼn huwelik.

ʼn Huwelik met vele uitdagings – om mee te begin, hulle het 16 000 km uit mekaar gewoon. Maar die liefde het gewen en hulle het deur swaarkry, aanpassings en opofferinge uiteindelik ʼn weg gevind. Hy het sy land en sy mense agtergelaat en met klein werkies vir hom ʼn heenkome in die VSA geskep. Sy was ʼn junior nasionale sportster, en soos dit maar in Amerika gaan, het sy ʼn uiters winsgewende toekoms in die vooruitsig gestaar. Maar haar toewyding tot haar idee van ʼn sinvolle lewe en die heilsaamheid van ʼn tradisionele gesinslewe, een waarin sy haar tot haar man en kinders met moederlike oorgawe kan toewy, sonder die noodsaak van ouerlike afwesigheid en die uitkontraktering van haar gesin se versorging, het haar die blink liggies van roem laat prysgee vir die eenvoudige kers van boekevat en skadufigure vir haar kroos.

Nou moes die kroos net kom.

Vreemd, die ding van kinders kry … ek het in my jare van rock en roll gesien hoe vele ná een aand van … kom ons sê maar ontoereikende diskresie, eensklaps per ongeluk ʼn kind verwek. Vir sommige gebeur dit ongewens en baie maklik, terwyl dit vir ander met ʼn brandende begeerte en onder ideale omstandighede jare lank ontwyk.

Vir Jaco en Cher was dit so. Hulle kon net eenvoudig nie ʼn kindjie kry nie. Jaar in en jaar uit het hulle probeer en gewag. En uiteindelik, ná veertien jaar, het die liewe Vader hulle gebede verhoor en is hulle geseën met die geboorte van Pirow.

Die dag toe ons hulle in die veld ontmoet het, het ons dadelik van hulle en van Pirow gehou. ʼn Besonder saggeaarde kind met groot, vriendelike bruin oë en net ʼn rapsie ouer as Lente, was Pirow vry van vele van die algemene worstelinge van kleuters en hy en ons Lente het dadelik oor die weg gekom.

Ons het vinnig agtergekom dat ons heelwat gemeen het met Jaco en Cher, vernaam betreffende sekere oortuigings in verband met gesondheid van siel en liggaam, gesin en beginsels wat hedendaags toenemend gekniehalter of eenvoudig prakties versper word. En so het ʼn vriendskap begin groei, met besoeke oor en weer en telefoniese groete, soos dit maar gaan.

ʼn Paar maande gelede het dit begin stil raak. Nie die stil van mense wat besig is nie. Nee, dit was ʼn ander soort stilte; die stilte waarvan ʼn mens op ʼn afstand kan aanvoel iets is nie pluis nie. Uiteindelik kom die nuus toe deur. Pirow is siek. Ons is nie seker waarvan nie, maar hy huil baie, asof hy pyn het, en hy, wat altyd ʼn baie sterk mannetjie was, verswak al hoe meer. Nog ʼn rukkie gaan verby en daar kom die diagnose: leukemie. Jaco en Cher doen wat hulle moet doen en van ons kant af begin ons doen wat ons kan doen: ons bid. Later het ons vir Pirow op ʼn paar gebedegroepe van mense wat hom nie eens ken nie, maar ’n groot klomp mense dra die gesin in hulle harte en dra hulle op in hul gebede.

Een ding van so ʼn ding is dat die gesin baie raad kry. Almal kan vertel van ʼn oom of tante wat dieselfde ervaring gehad het en wat die of daai gedoen het en jou wrintiewaar nou perdfris en gesond is. ʼn Ander ding is dat dit vir sommige ’n sepie word en dat hulle dalk lastig kan wees met die daaglikse versoeke na verwikkelinge. Ons was bewus hiervan en het daarom probeer om nie te veel te pla nie, een maal per week of selfs elke twee weke. Maar Jaco en Cher was besonder stil.

Ná ʼn maand het hulle laat weet dat hulle maar besluit het om in ootmoed en toewyding te onttrek van soveel dinge en mense as moontlik, en ons het dit verstaan en gerespekteer – die stryd waarin hulle gewikkel was, was enorm, oorweldigend. ʼn Ontsettende beproewing.

En twee weke gelede kom daar toe goeie nuus deur! Pirow begin tekens van herstel toon. Daar is hoop, Pirow begin beter eet, beter slaap en die vooruitsigte vir ʼn wonderwerk is daar. Ons huis slaak ʼn sug van verligting.

Nog ʼn week later klingel my foon weer ʼn boodskap-kennisgewing. Opgewonde kom sit Daniella by my en ons luister saam.

Pirow is die oggend om kwart oor vier in sy pappa se arms oorlede.

Ek verstaan nie. Ek kan nie verstaan nie. Ek wil nie verstaan nie.

*Nie hulle regte name nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Dis die swaar van die lewe. ‘n Mens het nie woorde nie; jou brein stol by “hoe is dit moontlik”? Tog gebeur onnoembare smart elke oomblik rondom ons; elkeen gaan van tyd tot tyd daardeur. Baie baie sterkte met die verwerkingsproses.

Chris

….God se wee is nie ons wee nie, sy gedagtes is nie ons gedagtes nie. Eintlik is min, indien enige van God se handelinge vir ons as mense verstaanbaar. Die lewe bly ‘n misterie en God enigmaties!

Jeanne

Hierdie onderwerp lyk aanvanklik nie dieselfde nie maar het my met baie diep vrae en brandende denke gehelp . Dalk vind iemand anders behulpsaam
https://www.desiringgod.org/articles/it-doesnt-make-sense