Chris Chameleon: ‘Be-voor-reg’, die ongeskikte woord

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Soms is daar sulke klein dingetjies wat die mag het om ʼn mens so grensloos te irriteer dat jy die stuipe daarvan wil kry. Mens probeer uiteraard om hierdie dinge te vermy, maar hoe gemaak as dit heeltemal buite jou beheer is? Wanneer dit iemand anders se doen en late is, wanneer jy met jou hande gebind net kan staan en toekyk of luister.

My liefde vir tale, in die besonder my eie taal, lei soos meeste liefdes, meestal tot genot en vervulling. Maar sy kan soms ook so ʼn katterige wyf wees, wat my folter met sekere aspekte van haar wese.

Seker een van my mins gunstelingledemate van die multigefassetteerde lyf van my beminde taal is die woord ‘bevoorreg’.

Haat is ʼn sterk woord, en een wat ek probeer vermy, maar die gevoel wat ek vir die woord ‘bevoorreg’ het, lyk deksels baie daarna. Die woord maak ook dikwels sy verskyning tydens gebed, waar dit dan vir my die moeilikste is, omdat gewydheid en wrewel nie goed in een hart saamleef nie.

Dit is nou nie my begeerte om op hierdie gawe Dinsdag oordadig didakties te wees nie, maar gun my asseblief die kans om myself te verduidelik.

Wanneer ʼn mens die woord ‘bevoorreg’ in sy afsonderlike dele opdeel, kom die skurwe waarheid van een van die mees ongeskikte woorde in die Afrikaanse taal so helder te voorskyn soos ʼn dronk loodgieter wat ongewas ná sy dag se werk by ʼn deftige dinee opdaag en met kaal vingers by die versnaperinge inklim.

In die eerste plek het ons ‘be-’. Nou, hierdie ‘be-’ is die deel van die woord wat jou van jou persoonlike soewereiniteit ontneem. Want as jy ge-‘be-’ word, dan word dit aan jou gedoen. Jy doen dit nie self nie, die keuse is nie joune nie, jy word onderwerp aan die ‘be-’. Wie se ‘be-’? Hulle sê nie. Maar jy word ge-‘be-’ en wanneer hierdie ‘be-’ om jou nek gehang word vind jy skielik presies uit wat dit is: ʼn juk waaraan jy sal sleep om in die beoordelaar van jou ‘be-’geit se ideologiese landerye die ploegwerk te doen.

Maar laat ons dit nou nie daar laat nie, kom ons stap aan deur die stowwe, die jukke van ‘be-’ al drukkend ons skowwe!

Die volgende been van hierdie lelike taalgedrog is ‘voor’.

Aha! Voor! Voor kan net voor wees as daar ook agter is. Maar wag! In sy mees gereduseerde vorm is daar ten minste drie partye hier teenwoordig: 1) voor, 2) agter en 3) die een wat die oordeel daaroor vel. Sonder oordeel, van waar ook al, is daar tussen twee partye geen tyd en ruimtematige gronde vir hul status nie. Dus, as jy die B-woord self gebruik, stel jy jouself in die voorste posisie. As iemand anders die woord ten opsigte van jou gebruik, stel hulle jou in die voorste plek, maar eers nadat hulle hulleself aangestel het as die beoordelaar van hierdie hiërargie. Hiërargie is reeds in die alledaagse lewe ʼn netelige kwessie wat selfs die slimste omies met brille nie kan uitpluis of definitief kan omskryf nie, en kan maklik as ongeskik vertolk word. Om dit dan sommerso halfpad in ʼn woord in te druk is skoorsoek. (Met my gevoeligheid, in elk geval.)

Ten slotte: Reg.

Net toe ons dink ons is klaar met selfaangestelde beoordelaars en lukraak versonne hiërargieë, bars daar in die pylvak nóg ʼn aanspraakmaker op die aanstellerigste lidmaat van hierdie woord op die toneel. Wie se reg? Wie besluit daardie reg? Wie stel die regter aan? Wie het die reg om die regter aan te stel en is dit reg? Sou dit andersins dan verkeerd wees? Of ten onregte?

Dus:
‘be-’ – dit word aan jou gedoen
‘-voor-’ – jy word deur ʼn owerheid in ʼn hiërargie geplaas
‘-reg’ – ʼn onsigbare regter is aangestel om jou te beoordeel.

Die woord lyk meer vir my na ʼn beskuldiging as ʼn beskrywing.

Die woord het ook ʼn slaansak geword, waarmee gevoelens van afguns of verwronge ideologie daarin verwoord word om diegene wat hetsy vanweë hulle eie uitnemendheid, óf die uitnemendheid van hulle voorvaders óf, as jy wil, die noodlot self, hulleself in beter omstandighede bevind, skuldig te maak voor die mag, hiërargie en oordeel van hierdie geslepe woord. Die woord is ʼn strik waar die gebruikers daarvan hulleself of andere onderwerp aan allerlei voorbehoude en môre-se-probleme.

Die woord ontken verdienste.

Ek sal egter ʼn regte ou nee-Jannie wees as ek darem nie ʼn alternatief voorstel nie.

Goed dan: Seën.

En vir die wat nie glo in die geestelikheid of die mistiek wat die vergestalting van seën akkommodeer nie: Geluk.

Vir my, egter, is dit seën. Daarin word die uitvoerende almag (‘be-’), die owerheid (‘-voor-’) en die oordeel ‘-reg’) gemaklik saamgevat.

En mag jy, die leser, se dag geseënd wees, ten midde van die seëninge wat jou reeds toegereken is.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

DeVill ·

Ek het nie gedink ek sal dit ooit sê nie, maar ek dink ek begin weer so bietjie van jou hou na hierdie artikel!!
Net jammer jy nie ou Danie se naam genoem nie.

AB ·

Dankie Chris, puik stuk woordkuns! Jy’t die hart van die modewoord netjies ontleed… seën vir jou!

Rulene ·

Wat ‘n pragtige stuk beredenering!! Ek laaik jou seën en gryp dit met albei hande aan.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.