Chris Chameleon: Binne omstandighede groter as onsself

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Pietie het deur die ruigtes gebeur. Lang, slanke takke van ʼn vreemde soort flora het uit die aarde opgeskiet en tien, vyftien keer sy eie lengte bo sy kop die hoogtes ingekrul. Die weg was met slaggate besaai en klam. Die oppervlak was met ʼn ligte lagie soutneerslag bedek.

ʼn Vreemde landskap, inderdaad, maar Pietie het onvermoeid vorentoe beweeg, gestrewe na die uitvoering van sy taak. Daar was monde om te voer, ʼn huis om te bou en in stand te hou. Hy was in diens van sy gemeenskap, hulle welvaart is deur geslagte op geslagte tot in sy DNS gevestig. Sy bykans onverbiddelike werksetiek, sy dissipline, sy ontsag vir die reëls wat deur die loop van die ontelbare generasies wat hom voorafgegaan het, gevorm en vervolmaak is, dit alles het gelei tot die kollektiewe trots van hulle beskawing.

Dit het die ontsagwekkende omvang van hulle konstruksies moontlik gemaak. Dit het die presies gekalibreerde en wyd gediversifiseerde funksionering van hulle samelewing moontlik gemaak. Van onmin, afguns en struweling is daar geen sprake nie. Hulle koningin gee voortreflike leiding en hulle toewyding tot haar is onberispelik.

En daar was Pietie weer op ʼn sending. Sy funksie was dié van verkenner, hy moes voortdurend soek na nuwe moontlikhede vir die uitbreiding van hulle ryk, nuwe moontlikhede vir vestiging, nuwe voedselbronne en, natuurlik, altyd op die uitkyk vir bedreigings tot die ryk, om betyds die nuus na die koningin te bring en, indien nodig, die leër tot verdediging te mobiliseer.

En dit is hoe Pietie in hierdie vreemde, nuwe landskap met sy rankende stamme en slaggatbesaaide, soutbedekte oppervlakte beland het.

***

As mens is ons deur die gang van ons ontwikkeling ingerig om ten eerste op die onmiddellike te fokus, ʼn neiging wat verskerp word deur gevaar of onbekende omstandighede.

Ons sintuie is sodanig ingestel om die stimulering van ons omgewing in die hede in te neem en so gou as moontlik die data na ons breine te stuur vir, in die eerste plek, oorweging, daarvolgens die bepaling van gepaste reaksies en ten slotte die uitvoering van hierdie reaksies.

Jy leun op die stoofplaat, die liggaampies van Ruffini in jou senustelsel stuur die noodsein van weefselverterende hitte na jou brein. Jou brein vertolk dit as ʼn bedreiging, bepaal dat jy jou hand daar moet wegruk en stuur die bevel na jou spiere om jou hand weg te ruk (die lesers wat hulle biologie goed ken, sal weet dat wanneer die plaat vrek warm is, jou brein nie eens geraadpleeg sal word nie maar dat die reaksie deur middel van die sentrale korteks kortpad wat ons ʼn refleksboog noem, geaktiveer sal word, maar kom ons sê maar die stoofplaat in hierdie voorbeeld was net-net nie warm genoeg om die refleksboog te aktiveer nie).

En so lei ons primitiewe brein ons deur die lewe.

Êrens in ons verlede het ons die vermoë tot verbeelding ontwikkel. Ons breine kon skielik ʼn wêreld buite die onmiddellike voorstel. Ons kon ʼn wêreld bedink wat in die werklikheid glad nie bestaan nie en uitdrukking daaraan gee in sang of verhaalkuns of met pigmente van verskillende kleure verf as mitiese figure op grotwande. Ons breine kon skielik die nie-bestaande wêreld van die toekoms voorstel wat, ten spyte van die onvolmaaktheid daarvan, kon dien om ʼn toekoms van ons voorkeur te skep en ons te beywer vir ʼn bepaalde visie of ideologie.

Net soos wat ons nie almal ewe vinnig kan hardloop nie, net so kan ons nie almal ewe vernuftig die toekoms beplan en stelsels vir die verwesenliking daarvoor skep nie. Om dit deur middel van ʼn gelykenis te illustreer: as musikant kan ek musiek maak waarna mense luister, sonder dat hulle bewus is van die soms uiters komplekse werkinge wat hulle onmiddellike ervaring van die musiek moontlik gemaak het. Vir my is die musiek ʼn noukeurig uitgevoerde resultaat van verbeelding, haarfyn beplanning, komplekse stelsels van teorie en tegniek en vir die luisteraar dalk net ʼn deuntjie om in die kar op pad werk toe te luister. En so het elke ambag sy geheime, sy duistere werkinge, sy haarfyn beplanning wat agter die eenvoud van sy resultaat sit.

Tans verkeer bykans die ganse mensdom in die ervaring van ʼn resultaat van soortgelyke verfynde werkinge. Vir die doel van hierdie skrywe verwys ek spesifiek na die wisselwerkinge met betrekking tot die sogenaamde pandemie wat ons almal se lewens die afgelope maande ten diepste raak.

Ons weet nie werklik watter mate van verbeelding, uitvoering, tegniek en aanbieding daarby betrokke is nie, maar om alles te aanvaar bloot op grond van die verhaal soos deur die regering(s) verskaf, is myns insiens ʼn gevaarlike gebrek aan die gawe van die soort verbeelding wat geestelike sowel as vleeslike weerbaarheid bevorder.

***

Pietie kon nie verder sien as die onmiddellike wat sy beperkte sintuie hom toegelaat het nie. Hy kon nie meer objektief bo sy omstandighede uitstyg as wat sy beentjies op hulle langste hom toegelaat het nie. Sy verstand kon nie die groter omvang van waar hy hom bevind besef nie. Toe die enorme stomp, vir hom so dik soos die stam van ʼn stokou kremetartboom, skielik uit die hemel neerdaal en hom verbrysel en van die aarde afvee, was die feit dat die man wat in die veld sit bloot ontslae wou raak van die irriterende gekielie op sy harige voorarm, ʼn omvang van omstandighede buite die begrip van Pietie, die miertjie.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.