Chris Chameleon: Blou fieterjoelvlooie en kakiegeklede kisduiweltjies

Chris Chameleon (Foto verskaf)

Dis ʼn gevoel wat ek op skool goed geken het. Maar dan word ʼn mens ʼn volwassene – jy moet werk, jy mag bestuur, jy kan drink, jy sal belasting betaal… en die gevoel word al hoe meer ongewoon. Behalwe nou, in hierdie oomblik, ʼn oomblik wat ons almal maar al te goed ken, waarin daardie gevoel wat op skool so bekend was voor jou kom staan en jou aan die korthare gryp – die Psalm 10-oomblik wanneer die staatsdienaar uit die bos spring soos ʼn prefek wat in die matriekbadkamers luidrugtig, smalend uit die toilethokkie gebars kom om die rokers aan te keer vir die skandewandeling oor die vierkant heen, reguit hoof se kantoor toe.

In my priller jeug (ek gebruik altyd die vergrotende trap, want ek is immers nog steeds jonk!) het ek meestal rede tot kommer gehad as die kakiegeklede kisduiweltjie uitgepeul het. Want in daardie jare as armlastig sukkelende musikant was my voertuig dikwels onpadwaardig (wéét meneer hoeveel kos nuwe bande?), was ek dikwels laat (ek moes jaag meneer, my werk hang daarvan af) en/of onder die invloed van een of ander ding, al was daardie ding slegs my skuldige gewete.

Die draaipunt het gekom op die dag van die 2009-verkiesing, ek sal dit nooit vergeet nie. Ek was vanuit Stellenbosch onderweg toe ʼn polisievoertuig met vier insittendes, elk netjies in uniform uitgevat, my verbygesteek het. Daar was nog een verkeerslig voor ʼn mens geheel en al uit die dorp is en by daardie (rooi) verkeerslig het ek op my toeter gelê en die polisievoertuig streng beveel om af te trek. Dit het hulle gedoen en die bestuurder het met ʼn boekie vol wapperende pienk bladsye verbouereerd eerste uit die voertuig geklim en na my toe gekom. Ek het losgetrek met die eerste sarsie:

“Meneer! Ek het daar agter presies 60 km/h gery en julle het my verbygesteek. Dit was ʼn sestig sone en julle het die spoedgrens oorskry!”
“Hoe weet jy ons is nie op pad na ʼn noodgeval toe nie?”
“As julle op pad na ʼn noodgeval is, dan skakel julle die sirene aan om die padgebruikers te waarsku. Hoe moet daar van ons verwag word om die wet na te kom as die dienaars van die gereg dit nie eens doen nie?”
“Ja maar ons het maar ons redes hoekom ons dinge doen.”

Ek het besef dat niks verder hoef te gaan nie en bied toe ʼn uitkoms:
“Het julle darem al gestem vandag?”
“Ja-nee, ons het. Nou maar toe, mooi ry.”
“Dag, mooi ry!”

My passasier was stomgeslaan:
“Chris, I can’t believe you just did that!”
“Neither can I.”

Dit was die dag toe ek besef het ek is nou amptelik ʼn grootmens. Ek het sommer al begin uitsien na ʼn bejaarde wees! As ek op bykans 40 sulke streke kon waag, wie weet watter wonderlike wêreld van lisensies tot die aanspreek van staatsdienaars ek op byna 80 sal hê!

O ja, lisensies… terug na die hede.

Die kakiegeklede kisduiweltjie is in hierdie geval ʼn blou fieterjoelvlooi, want ek is in die Oos-Kaap. En nee, ek het nie ʼn wettige bestuurslisensie nie.

Ek het wel ʼn deksels goeie verskoning, en ek hét hom al met sukses gebruik:

“My lisensie is saam met my beursie gesteel, kyk, hier is my verklaring, deur die polisie op Verkykerskop geteken en gestempel. Maar meneer, ek woon 60 km op ʼn haglike grondpad van Harrismith af, die naaste plek waar ek vir ʼn lisensie kan aansoek doen. Ek was reeds ses keer daar, telkens sonder sukses. Óf die plek is ‘offline’, óf die plek is om 11 uur soggens reeds gesluit, óf die ry is so lank dat ek nie geholpe kan raak voor sluitingstyd nie, óf die krag is af… as u die nuus dophou sal u gemerk het dat Harrismith dikwels onder die mees disfunksionele, haglike munisipaliteite in die land gereken word. Die onkoste in geld en tyd, om soveel keer sonder sukses uit te ry om my lisensie te kry is enorm en ek is al skoon raadop meneer, wat moet ʼn mens dan doen?”

Hierdie rympie ken ek al goed. My agtergrond in die vermaaklikheidswese weet hoe om dit met die regte pouses, infleksies en crescendo’s te lewer vir maksimum effek en die resultaat het my nog nie in die steek gelaat nie.

Maar… hierdie blou fieterjoelvlooi is ʼn ander soort nar. Hy is duidelik ervare, want sy instink sê vir hom dat hier ʼn goeie storie kom, gerugsteun deur die waarheid (en die waarheid dra altyd gewig) en die enigste manier om hier sy sin te kry is om nie te luister nie. Ek kom nie eens verby die eerste sin nie. Hy wil eenvoudig nie luister nie, hy val my in die rede, berispe my as ek wil deurdruk en dreig later met ernstiger gevolge as ek hardnekkig my sê probeer inkry.

Kortom, ek verloor. Sy boete geskryf, val ek weer in die pad, die keer met my vrou agter die stuur (sy het darem haar lisensie).

Ek vloek en skel al die pad huis toe oor die onreg van ʼn regering wat jou beboet vir dinge waarvan hulle onbekwaamheid jou verhoed om die nodige te doen om nie beboet te word nie.

En dan onthou ek die prefek wat smalend, luidrugtig uit die toilethokkie gebars het. En ek wonder hoe hy nou sy brood verdien, en ek herinner my aan die gawe hand wat die roulettetafel van die lewe my toebedeel het, en ek besef dat ek oor twintig jaar ook maar hieroor sal kan lag, en my vrou is mooi en my kind is lieflik en my beeste is vet en… ek gaan ʼn rubriek hieroor skryf om met die vergoeding die dekselse boete te betaal.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.