Chris Chameleon: Cowboy kom huis toe

Ek was so vyf of ses jaar oud toe die grootmense almal op oom JC-hulle se stoep gesit het, besig met een van daardie braais wat tussen Kersfees en Nuwejaar nie een keer opgehou het nie.

Heelhartig versonke in my cowboy-fase, het ek nêrens gegaan sonder my klapperrewolwer, sheriff-haakspeldster en my breëbandhoed nie. Skurke het agter elke klip geskuil en ek het ligvoets geloop, oorgehaal vir aksie terwyl ek met Eastwood-agtige skrefiesoë behaaglik geteug het aan die soetgoed sigarette wat in die 1970’s nog in elke kafee te koop was. Aan bondgenote was daar ʼn skreiende tekort. My neefs was almal veel ouer as ek en die grootmense gesellig in gesprekke gewikkel. Vriend en vyand moes in my verbeelding vergestalting vind.

Dit was gedurende een van hierdie gesellige grootmensgesprekke dat ek midde in hul stoepsittende kring kom staan het, my rewolwer omhoog gelig en drie knalskote afgevuur het. Hulle het stil geraak en my aangekyk. Ek het my keel skoongemaak en plegtig verklaar:

“Ughem… ek wil net sê, ek gaan nooit trou of kinders kry nie.”

Ek het geen idee hoekom ek dit gesê het nie, maar dit sou ʼn persoonlike profetiese rede word. Jaar in en jaar uit het ek my gemoedelik in my eie geselskap begewe. Op skool het verhoudings my ongemaklike tienerskap vermy asof ek ʼn puisie of ʼn pienabarre-en-stroop deurdrenkte toebroodjie teen tweede pouse was. Daar was so een of twee amper-amper kyse en verder niks nie.

Ná ʼn kortstondige weermagopleiding het dit makliker begin word. Maar toe kom die musiek en die toneelspel en ek ontaard byna oornag in wat ook al die manlike weergawe van ʼn skoenlapper sou wees. Hier en daar het ʼn aster my amper vasgetrek, het ek getalm en my verdiep in die moontlikheid van tot trou gesweerde toewyding, maar die glibberigheid van toerskedules en onophoudelike vlae van nuwe aanbiedinge het aan my geen vatplek gebied nie en ek het uiteindelik my veertigs betree met die plesierige hedonisme van slinks ervare enkellopendheid.

Slim vang toe uiteindelik sy baas en trou toe net duskant vyftig, na jare se uit-die-boom-kyk van die kat wat hom destyds reeds met die eerste oogopslag laat liefhê het.

Aan die begin van hierdie jaar kry ek toe ʼn bevlieging – kanselleer op drie ná alle vertonings en trek plaas toe, tel ʼn rondloperkat op, kry vir die eerste keer in my lewe ʼn hond, gaan in die berge op soek na misterie en begewe ons in ʼn leefstyl van oorgawe tot ons kuns en eenvoud in ʼn skuif wat tot ʼn paar maande gelede nog na ʼn onwaarskynlike droom sou lyk.

Intussen kalf my kudde teen die hange van sandsteen holkranse. Hulle sê die beste ding vir ʼn koei is haar baas se oë en ek kan dit onteenseglik bevestig. Sedert my hervestiging hier, naby my koeie, lyk hulle beter as in enige jaar vantevore.

Ek stap een middag in die veld in, gaan staan tussen hulle en tyd word van alle belang gestroop in die alomteenwoordige hede, die stilte van nou. Terwyl ek nie wonder waarom, wat, hoe en wie nie, word die antwoorde op al daardie vrae deur ʼn skraal Vrystaat bergbries in my nek gestreel. Daar kom geen sin nie, eerder, die onsin verdwyn en dit wat oorbly is dit wat is. Ek is byna te ingedagte om agter te kom dat vyf kalwers skugter, nuuskierig, aan my vingers kom proe. Ouer koeie staan herkouend en kyk diep deur my oë na die wêreld wat daar heel agter in my kop draai.

Ek stap terug huis toe. Tuisgekom, lê die hondjie se speelgoed, bene en stokkies van buite na binne gedra (hy het ʼn sterk versameldrang) oral oor die matte. My normaalgesproke netjiese huis, deur jare der jare se oujongkêrel verfyning gereguleer, word omvergewerp. Die tirannie van my onverbiddelike reëls, prosesse en stelsels buig die knie voor die aanslag van salig onbewuste, jeugdige onverskilligheid.

Die kombuisdeur agter, na die berg se kant toe, open en sy kom binnegestap. Die laatmiddagson straal ʼn kroon van heilsaamheid en onuitspreeklike skoonheid om haar gelaat. Sy kyk na my met daardie sagte, verwelkomende lig in haar groen oë wat my altyd beloon nadat ons weg van mekaar was, al was dit net ʼn paar uur. Mens praat minder, verstaan meer hier, alleen saam in die berge. Ons albei weet: dis tyd om solank ʼn cowboy-hoed, klapperrewolwer en sheriff-haakspeldster te gaan koop.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Heksie ·

Ek was nou daar … saam met jou op die plaas … awesome geskryf!

KarinB ·

Chris Chameleon toor met woorde. Hoop hul klein cowboy daag eersdaags op en is so talentvol en aantreklik soos die ouers

Lekker! ·

Ek was nou vir ‘n wyle meegevoer. Ek sommer lus en trou ook en kry ‘n hondjie. (het klaar ‘n katjie) en gaan bly iewers in die Vrystaat. Maar nou is ek in Gauteng en moet aangaan met my werk. Mooi Chris.

Dromer ·

Baie mooie skrywe Chris. Jy laat n mens op n verbeeldingstog gaan met jou beskrywing van jou lewe en die lewe daar op jou Vrystaatse plaas.

Marli ·

Wat ‘n pragtige rubriek -ek was meegevoer. Mag julle klein cowboy spoedig ‘n werklikheid wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.