Chris Chameleon: Die Duifdogtertjie

Argieffoto (Foto: Capri23auto, Pixabay)

Ek het nie kinders nie. Gegewe die wyse waarop ek in my sturm und drang- jeukerige rockjare die 1990’s verwyl het, is dit eintlik ʼn klein wonderwerkie. Maar die behoefte tot ʼn kroos spook by my soos dit seker maar gespook het by diegene wat hulle uiteindelik wel tot die verwekking van nasate gewend het.

In die afwesigheid van my eie kinders is ek geneig om my te wend tot ʼn wye verskeidenheid skepseltjies wat aan die uiting van behoefte tot vaderlikheid kan voldoen: ander mense se kinders, honde, my groentetuin, my beeste en ja, selfs my liede, waarvan laasgenoemde gereeld en getrou volgens die Genesis-banvloekbelofte ‘in pyn en leed’ verwek word.

En voëls.

Elke oggend en elke aand sit ek en my beminde saad en/of vrugte uit vir die voëls in ons voorstedelike tuin. Hoep-hoepe, kakelaars, tiptolle, tortelduiwe, kwêvoëls, janfrederikke, mossies, vinke, kuifkophoutkappers, rooikophoutkappers, suikerbekkies en af en toe ʼn paar ander, kom gooi almal daagliks ʼn draai.

So gebeur dit toe die afgelope week dat ʼn onnosele tortelduif in die venster vasvlieg. Ons het haar gehoor, dit het seer geklink. Die volgende dag merk ons dat daar ʼn tortelduif met deurmekaar vere en ʼn babalaas-agtige uitdrukking op die werf rondhang. Toe dit skemer word, sien ons haar nog steeds. Die meisiekind het nie lekker gelyk nie en ons doen toe wat ʼn mens weet jy nie moet doen nie: ons neem haar op (sy het lomp probeer wegvlieg, maar haar balans was uit en sy was ook redelik swak) en sit haar in ʼn mandjie en maak haar toe.

Ons het geloer hoe sy die saad wat ons vir haar gegee het, gretig verorber het. Na die ete het sy begin bewe, soos ʼn mens ook doen wat aan ʼn bietjie ontbering ly en dan eet. Al die energie gaan spysvertering toe en daar bly nie veel oor om die lyfie warm te hou nie. Ons sit die mandjie toe maar op die spaarkamerbed met die elektriese kombers aan.

Die volgende oggend het sy nogal beter gelyk, nie so in haarself opgekrop nie en sy het versigtig, nuuskierig na ons gekyk. Ons moes ʼn middagoptrede gaan uitvoer en sit haar toe maar in ʼn sonkolletjie in die voorkamer om aan te sterk. Die optrede het goed gegaan en ons is van daar na ʼn gunstelingplekkie toe vir ʼn laatmiddagsnapsie. Ons het nie lank gebly nie, want ons was onrustig, gedagtes by die duif.

Net nadat die son gesak het, kom ons weer by die huis aan. Met groot opgewondenheid is ons reguit mandjie toe om te kyk hoe dit met haar gaan.

En dis toe dat ons harte breek.

Haar lyfie was nog slap en nog nie heeltemal so koud soos die kille, vroeglente-aand nie.

Dis vreemd. Ek jag, slag soms ʼn dier, maak af en toe ʼn muis in die plaashuis dood en doen al hierdie dinge met inbegrip van die natuurlike orde, die verganklikheid van die lewe. Maar nou kom hierdie simpel duif en krap my lewe om. Ek is kwaad dat ek nie vroeër tuis was nie, ek is kwaad dat ek haar nie vroeër die vorige dag ingeneem het nie. Maar ek stop net voor ʼn gehuilery; dit los ek vir my beminde wat haarself die aand toe sommer in ʼn hoofpyn inween.
Dit was drie dae gelede. Vanoggend sien ek toe weer, vir die derde dag in ʼn ry, ʼn duif wat sedertdien in die silwerskraal oggendlig meestal op die werf rondhang, voor die ander kom dan en weier om weer saam met hulle weg te vlieg. En skielik onthou ek wat ʼn Hollandse oom eenkeer vir my vertel het, dat duiwe lewenslank paar, altyd, getrou tot die dood, dieselfde maatjie hou.

En toe skiet my gemoed vol.

Lees gerus Chris Chameleon se rubriek elke maand op Maroela Media.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Snuffels ·

Chris, so pragtig mooi die Duifdogtertjie, ek het ook ‘n paar spesiale geveerde vriendjies, selfs ook ‘n gestremde Tarentaaldogterjie, wat elke oggend my kom roep vir ‘n handjievol pitte. Baie mooi oorvertel en geskryf deur jou.

HK ·

Ai dis hartseer. Mooi naam, “Duifdogtertjie”. Net so terloops, dis mos glad nie te laat vir jou en jou beminde om n kindjie te he nie. Ander ouens gaan daarvoor in hul 50’s.

amvi ·

Ai tog nou het ek aan die huil gegaan. Dit is regtig so ‘n mooi hartseer ware storie.

Elmarie van Dalen ·

Puik geskryf Chris. Kon die duif in my Gedagtes sien. So hartseer storie

Wilma ·

So ‘n bek moet jem kry oor die mooi manier wat jy woorde inspan en jou taalgebruik maar die storie is hartseer….. huil amper saam met jou geliefde.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.