Chris Chameleon: Die eerste boere­vereniging­vergadering

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Die bakkies staan in netjiese rye geparkeer. Daar is nie plekaanwysers nie, die orde word bepaal deur verstandhouding, gedeelde waardes en, les bes, kennis van hoe die son oor die komende paar ure gaan beweeg.

Ek sou nie sê ons is gespanne nie, maar wel versigtig. Sedert my vrou en ek besluit het om hierheen, na die platteland te verhuis, het ons die proses van inburgering by die gemeenskap omsigtig bestuur. Dit verg fyn kalibrering; hierdie dinge is soms nie so eenvoudig nie. Want as jy die kamer binnekom met ʼn swierige ‘Hallo boere! Ek is hier!’ dan gaan mense dink jy’s voor op die wa, aanstellerig. Maar hou jou jouself te skaars uit hoofde van jou beskeidenheid, kan die wind dalk gerugte deur die riete fluister dat jy vir jou deftig hou, dat jy dink jy’s te goed om met jou bure te meng.

Gesprek is reeds moeilik vir my – my verslawing aan hoogdrawendheid, my toewyding tot die waarde van woorde en my kennelik oordadig gemoduleerde Afrikaans het soms ʼn verstarrende uitwerking op werfgesprekke.

Dis ons eerste boereverenigingvergadering in die distrik. Die bywoning, so blyk dit uit die voorsitter se vermelding, is besonder goed. Die vergadering word met skriflesing en gebed geopen en geskied in sy geheel in Afrikaans. Die beeld van die boer as ʼn eenvoudige, effens plat, effens ongesofistikeerde en sondeurdrenkte grondwerskaffer in die hedendaagse bestel, is geyk. Die boere van vandag is ʼn kombinasie van wetenskaplikes, besigheidsmanne, arbeidsdeskundiges en logistieke bestuurders, om maar ʼn paar te noem.

En hier kom dit duidelik na vore. Die vergadering geskied ordelik, presies volgens agenda. Die atmosfeer is uiters professioneel, jy kon net sowel in ʼn korporasievergadering in ʼn wolkekrabber in Sandton gesit het.

Dis net die inhoud wat verskil.

Hier word gepraat van brandbestryding en ʼn mens kom agter hier bestaan ʼn goed gekoördineerde netwerk van voorafgesproke voorbrande, onder leiding van kundige, vrywillige brandbestryders. Die gevare is legio: stormsterkte winde teister hierdie gebied tydens die droogste maande, daar is min water en baie savanne en klein foutjies of opsetlike saakbeskadiging kan ganse plase ruïneer.

Hulle praat van paaie, ʼn saak wat, so lei ek af, met elke vergadering geopper word. Ons is almal bekend met die tanende infrastruktuur van die land, maar met hierdie boere sien ʼn mens dat hulle nie gaan lê nie. Daar word voortdurend druk op die amptenare geplaas, sekere roetes word uitgesonder in vir fokus geoormerk. Hierdie is verafgeleë paaie, met min verkeer daarop, wat by sommige mense die indruk skep dat dit minder belangrik is. Maar die eenvoudige wiskunde is dat die voedsel wat in ons distrik geproduseer word, uiteindelik deur letterlik miljoene mense verbruik word. Die skade aan voertuie, die gevolglik verhoogde insetkostes, raak miljoene. Maar hoe verduidelik jy dit aan iemand wat dit nie verstaan nie?

Om mense te kry om self hierdie paaie te ry, om hulle voedsel te kom haal, is helaas nie moontlik nie. Die boere spreek in alle erns af dat een van hulle die afgevaardigde op ʼn rit op hierdie paaie sal saamneem. (Ek sien uit om by die volgende vergadering te hoor hoe dit gegaan het: die gesant word vrolik met koffie en koeksisters getrakteer, en dan met ʼn robuuste bakkie op verpletterde paaie olik geskud…). Intussen sal daar hierdie oestyd weer, soos in die verlede, boere wees wat op eie onkoste gate vul en hier en daar selfs skraap, net om die saak aan te help.

Veiligheid word bespreek. Drie verteenwoordigers van die dorp se polisiestasie woon die vergadering by en rapportering word aangevra, insette gelewer. Dit is duidelik dat die boere die polisie ferm tot verantwoording van hulle dienste en pligte roep, maar dat hulle ook hulp, koördinering en ondersteuning bied. Die private sekuriteitnetwerk word opnuut ontleed, swakpunte aangespreek en verbetering word beplan.

Ons gebied is vir hidrobreking geoormerk en die aangewese regsverteenwoordiger gee terugvoering op die aksies wat op die vorige vergadering afgespreek is.

Sosiale aangeleenthede word genoem en ’n mens kry hier reeds ʼn goeie gevoel vir watter funksies ʼn sukses gaan wees en watter nie.

Selfs ek kry ʼn spreekbeurt om die situasie te verduidelik met die opveil van ons hotel op die dorp. Terwyl ek praat kom ek weer agter hoe my gesprekstyl, hoewel dit goed op die verhoog werk, nie heeltemal die kol tref in hierdie hoedanigheid nie. Asof die jare se vereensaming met boekekennis in ʼn Johannesburgse woonstel ʼn kokon tussen my en die mensdom gespin het, waardeur my woorde soms sukkel om welluidend na buite te klink.

Ses ure later is ons klaar. Die middag het vinnig verbygegaan en my beminde en ek het vasgenael gesit, asof in ʼn lang, epiese rolprent.

En nou is dit tyd vir braai. Maar ons het tussen klere, proviand en voorsiening vir die harige kinders tuis, nie goed voorberei vir die geselligheid nie. Ons verskoon onsself en stap terug kar toe.

My gedagtes is nog steeds besig met: “Hoe praat ek met mense? Hoe pak ek gesprekke aan?”

By die deur kom ʼn boer wat gou iets in sy bakkie gaan haal het, binne. Hy kyk my reguit in die oë, glimlag gemaklik en sê: “Dit was lekker om jou hier te sien. Welkom in die distrik. Kom drink koffie by ons, ons boer daar naby julle.”

Ons stap kar toe en my vrou, wat 80% van die tyd my gedagtes kan lees, sê hardop: “Dis hoe om te praat, Lief, dis hoe.”

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jozi

Ek sê altyd as jy sukkel om die regte woorde te kry, praat dan uit die hart uit.
Chris Chameleon is ‘n ou wat kan toor met my moedertaal. Welgedaan!

SUSAN

Ten minste praat hy suiwer afrikaans, nie mengsel van engels en afrkaans, bv. dis awesome
op die stage en al die songs, ek love die entertainment ens. doe so voort Chris C.

Deon

Ja dis lekker om te boer,en ons vergaderings is net so aangenaam…Chris welkom tussen die boere..