Chris Chameleon: Die gewag op reën

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Tannie Judy van die plaas langsaan het ʼn paar weke gelede gewaarsku: Moenie te skoon maak voor November nie. En nou verstaan ons hoekom. Die winde hier in die berge het opgesteek (alles kom mos deesdae later, selfs die Augustuswinde daag eers in Oktober op) en die asem van die meteorologiese draak in die weste blaas sy ongenaakbare warm vuur oor ons vlaktes. Soms steek hy die veld aan die brand, soos hy verlede maand hier op ons plaas gedoen het. Maar goeie bure het van oral om ons na die vlamme toe gejaag en die vuur sowat twee meter voor my huis en voertuie gestuit.

En nou waai die winde hier met ʼn geweld wat die swart suid-oos in die Kaap na ʼn klein katjie se nies laat lyk. Jy kan deur en venster maar seël soos jy wil, die as en stof kruip in en die huis lê onder ʼn fyn laag vaalswart stof.

Buite snak die natuur benoud.

My beeste kyk, ten spyte van hulle beterwete, verlangend na die giftige tulpe, wat hierdie tyd van die jaar die enigste groenigheid in die vaal veld is. Kalwers word een na die ander gebore en my koeie kry swaar. Ek ry die lusernbale waarvan ons verlede somer boskerkbanke vir die troue gemaak het, na die kuddetjie aan. Maar die wind stoot met so ʼn onverbiddelike geweld dat ek sukkel om dit so uit te sit dat my geld nie opwaarts, saam met die bo-grond van die plaas langsaan die lug ingesweep word en weggevoer word na wie weet waar nie.

Ek kom telkens huis toe met bloedrooi oë vol stof en dit lyk ook of ek die helfte van die buurman se landery saans uit my neus snuit.

Mens merk in die boere om ons dat daar harde bene gekou word. Dapper glimlagte veg teen die stryd om nie as grynse te vergestalt nie.

Ek kom reeds jare lank agter dat hierdie tyd van die jaar op die hoëveld vir my gepaard gaan met ʼn erge tekort aan slaap. Die spanning kom sit in my weefsel, wriemel sy tentakels om en deur my werwels en my gemoed word soos die van ʼn honger wildekat. Ek vermoed dat ek snags kners en my kake sowel as my kuite is soggens effe styf.

Ons liefdevolle huis, waarin vreedsame lankmoedigheid die normale gang van sake is, beleef ʼn verhoogde druk. Ná agt jaar saam het ek en my beminde al die voorspelbaarheid van hierdie patroon begin besef en bestuur ons ons verhouding in die lente met versigtigheid en lê ekstra klem op humor.

Die kat en die hond, twee boeties wat nie weet dat hulle nie uit dieselfde baarmoeder kom nie is nog te jonk om hierdie natuurpanning te verstaan en hulle speletjies en gestoeiery is geneig om meer dikwels in aggressie te ontaard in knorre en kappe wat normaalweg nie toegedien word nie.

Sessies in ons ateljee is dikwels vrugteloos, asof ons lewenslus en energie verdamp in die versengende, droë hitte. Ons bly moeg en handel en wandel word outomaties, meganies.

Gister was daar ʼn biddag vir reën.

Vanoggend gun my vrou my ewe geduldig een van my bars tirades: ‘Die weerberig het vanoggend gesê daar is ʼn 40% kans vir reën. 40%? Watse snert is dit? Dit gaan óf reën of nié reën nie! Dis altyd óf 100% óf 0% – enigiets tussenin is aktuariële gissings!’

Sy laat my uitpraat en toe sê sy, kalm, selfversekerd: ‘Vandag sal dit reën liefie.’

En laatoggend, van agter die berg buite die kombuisdeur, steek die vinnige skadu van ʼn mooi belofte op en kort daarna sug die wind effens oos en sak ʼn bui uit.

Die stof gaan lê.

Die brandgevaar verminder.

Die beeste se velle blink van die nat.

Die tulpe sal oor ʼn week verswelg word deur gesonde groenigheid.

Die lusernbale word ʼn bederfie in plaas van ʼn noodsaak.

Die boere se glimlagte gaan gemakliker onderhou word.

Ek sien uit na vannag se slapie.

Die elektrisiteit van die huisspanning word in die klammigheid geaard.

Die hond los die kat en kom lê langs my waar ek nou hier sit en skryf.

Die lied in my hart kom klink weer.

40% = 100%

Maar my oë sal nog die rooi ding doen soos ook die bui van my boeregemoed liggies, stil, uitsak.

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

jo ·

Dankie! Ons het gisteraand bokse gepak vir die droogtegebiede … so die pragtige woorde en raakvat Afrikaans is goeie tydsberekening!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.