Chris Chameleon – Die groot noodgeval

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Die bloedstollende kreet eggo by die gang af en ruk my uit my rustige toestand, waar ek in die kamer vir ʼn wyle kom skoene uitskop het en op die bed ʼn uiltjie kom knip het. Die kreet bevat al die tekens van onmiddellike en dringende lewensbedreiging. Dis ernstig. Dit is ʼn noodgeval.

Ek spring op, dadelik en volkome voorbereid op die ergste en oorgehaal vir die felste. Ek beweeg vinnig in die rigting van die voorkamer vanwaar die kreet gekom het, maar drie treë buite die kamerdeur bedink ek my, huiwer ek in belang van wysheid. Ek is en bly maar ʼn Suid-Afrikaner en binne die konteks van my land se eiesoortige en helaas buitensporige norme begin my maag draai terwyl die bloed, die geweld, dalk die moord wat ek in die voorkamer gaan ontdek in my geestesoog voorspooksels maak.

Gryp ek ʼn wapen? Watter wapen? Ek is nie in my eie land nie en dit maak nie saak hoeveel onderbroeke ek aantrek nie, hoeveel broeke en kamerjasse ek daaroor gooi nie, ek voel broos, weerloos en kaal sonder my standaard Suid-Afrikaanse bewapening. Ek weet nie eens waar die krieketkolwe, knuppels of ander plaasvervangende noodweergery in hierdie huis is nie – ons gaan tuis by mense in Namibië en hoewel ek oudergewoonte die plek destyds met my binnekoms goed opgesom het en notas van sekere dinge gemaak het, is die tuisveldvoordeel steeds nie myne nie.

Die koppie tee wat ek gemaak het voor ek kamer toe is, is al koud en nutteloos – ek het al menige keer gedink dat ʼn vuurwarm drankie ʼn handige tydelike wapen kan wees, iets om die vyand op die agtervoet te plaas terwyl jy gryp na ʼn gedugter wapen met ʼn sekerder hergebruikwaarde.

Wat het ek in die weermag geleer? Wat het ek op veldskool geleer…, wag, nee, ek het veldskool in standerd vier gemis omdat ek draadjies moes kry en veldskool in standerd agt gemis omdat ek niemand kon/wou kry om my uitgebreide koerantroete oor te neem nie. Die nooddriloefeninge teen terrorisme waaraan ons af en toe onverwags onderwerp was op skool gedurende die 1980’s is nou te ver in die verlede om handig te wees en een van die instruksies was om onder ʼn lessenaar in te duik en skuiling te soek maar hier is dit nie ʼn opsie nie; dis my mense die en ek moet hulle beskerm. As daar ʼn lessenaar is, gebruik ek hom om die vyand mee te gooi, nie om onder te skuil totdat die voorligtingsonnie vir my sê ek moet nou vinnig, ordelik ontruim na die rugbyveld en daar op verdere instruksies wag nie.

Een ding wat ek wel kan doen is om agter die gordyn, net voor die voorkamer waar die gang op die buitestoep uitloop, te skuil en die vyand van agter te verras as dit/hy/hulle daar verbykom. Die ding is net, indien die bedreiging menslik van aard is, is dit helaas ʼn feit dat hulle selde alleen helder oordag toeslaan. Dit sal ten minste twee wees, dalk selfs ʼn bende van vier en dan sal ek ʼn beter kans staan as ek die gordyn oor my hou en maak of ek ʼn tokkelossie of ʼn spook is en kyk of ek hulle so kan verwilder. As dit ʼn slang is (ons is immers in Namibië), kan ek die gordyn afruk en op hom gooi, maar hy sal doodeenvoudig maklik daaronder weer kan uitseil. Indien dit ʼn rooikat is… wel, ek weet nie wat ʼn rooikat in ʼn gordyn sal doen nie, maar dit hoort ʼn bietjie tyd te wen as my mik goed is. Ek hoop dus vinnig, heimlik op ʼn rooikat.

Dalk moet ek hier by die glasdeur uitglip en met voorwerpe op verskillende plekke aan die vensters klop en op die dak gooi. Gideon het immers, toegerus met slegs geloof en die groot geraas van ʼn skamele driehonderd man die ganse leërskare van die Midianiete verwilder en oorwin.

Maar die tyd, die kosbare tyd stap aan en reeds vyf sekondes het verstryk sedert die gil. Ek besluit om vinnig om die hoek te loer, die omstandighede te assesseer en tot aksie oor te gaan. Maar eers, ʼn skietgebed. Bid vir insig, bid vir beskerming. Bid vir ʼn wonderwerk.

Vinnig, versigtig loer ek om die hoek.

Die wonderwerk is dat iemand die iPad voor die vasgenaelde kind weggeraap het.

 

*Chris Chameleon skryf maandeliks ‘n rubriek vir Maroela Media. Lees sy vorige rubrieke. -Red

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Rasper ·

Ek het self nou die aand so wakker geword. Iemand het geval/struikel oor my kinders se lego’s wat hulle nie opgetel het nie. Ek is deur die hele huis, maar gelukkig was dit niemand. Dalk ‘n spook… Maar nie te min. As die Afrikaner regtig weet in watter gemors ons hier is, in watter nood SA verkeer, sal mense nie so rustig wees nie. Planne sal gemaak word. Mense sal bereid wees om sekere van die luuksheid wat ons nou het op te gee, net om die komende donker tyd vry te spring. Maar, mense met ‘n Plan B en C, die media, en hulle “beleidsvormers”, probeer die heeltyd vir ons vertel dat die gil in die gang, ‘n kind is wie se Ipad weggevat is. Ek dink baie het gehoop dat gister se medium termyn begroting vir ons ‘n “kind sonder ‘n Ipad” sou wees. Deesdae kry ons al meer wat ons gevrees het in die donker gang.

Jo-Anne ·

Briljant Chris, ek is bly om te sien dis nie net ek wat hierdie dink patroon vol nie. En die alles in n kwessie van n paar sekonders…

Besemryer ·

Chris is absoluut die beste! Sy taalgebruik is soos soet heuning wat stadig drup van die lekkerte. Hy is volksbesit en die beste sanger in die heelal!

Susan ·

Chris, jy is net absoluut onverbeterlik. Ek het nou gelag dat die trane loop!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.