Chris Chameleon: Die kanniedood en die liefde

Argieffoto (Foto: Pexels, Pixabay)

Bye en hommelbye zoem met ʼn verbete drang om lewe en nogmaals lewe op hierdie vroeë lente-oggend in 2091, terwyl die wisteria flankeer in haar pers fleur soos ek lanklaas gesien het. In die liggroen agtergrond sien hierdie oë nie meer individuele spriete nie, maar die jeugdigheid van die grasperk wat versigtig om my uit sy winterslaap ontwaak is onmisbaar, verkwikkend.

En die voëls … die voëls. Toe ons destyds in 2017 hier ingetrek het, het die astrante janfrederikkie kwalik ʼn maand of twee geneem om ons te bevriend op die manier wat janfrederikkies dit maar doen: altyd reg vir ʼn geselsie, of ʼn mens nou drie-uur in die oggend tuis kom of vier-uur opstaan, of nuuskierig kom kyk wat ons maak wanneer ons in die groentetuin skoffel.

Daardie janfrederikkie se twaalfde agterkleinseun groet ons nou nog met dieselfde entoesiasme, het al ʼn byna genetiese familiariteit met ons ontwikkel. Die kakelaars, hoep-hoepe, duiwe, vinke, houtkappers en mossies het ook gekom en gegaan, maar selfs in hulle gesindhede merk ek die oorerflike gerustheid.

Tydens my stadige wandeling deur die tuin onthou ek hoe dit van ʼn uitdaging in my jeug, tot ʼn trots in my middeljare ontwikkel het en later die vreugde van ʼn fyn gekoördineerde, in vele opsigte selfversorgende simbiose op my oudag geword het. Die 65 jaar-oue perskeboom, wat ek self geplant het, bloei met die belofte van vanjaar se konfyt en ingelegde nageregte.

ʼn Entoesiastiese onkruidjie steek kop uit langs die paadjie deur die vrugteboord. Instinktief wil ek die moeisame afbuig vir die uittrek aandurf … Maar dan bedink ek my. Dis nie die moeite vir my rug of knie nie, dis nie ʼn laksheid wat die tweede slapie wil inlui nie. Dis ʼn nuwe gevoel, ʼn gevoel van deernis vir hierdie kruidjie en sy soort waarteen ek my lewe lank geveg het. ʼn Gevoel van bewondering vir hul kanniedood strewe, die skoonheid wat ook in hulle blommetjies delikaat en skugter gedy. ʼn Spontane vreugde wel in my op en spring uit my mond; die klingel van ʼn hees klepeltjie.

Voor my wink die koelte van die prieel. Met die geduld wat die jare uiteindelik afdwing op diegene wat dit nie aanvanklik aanleer nie en met die waardering vir die klein dingetjies onderweg wat die inperk van reikwydte en beweeglikheid eers vriendelik, maar later ferm op die oues afdwing, skuifel ek na die gerief van my uitskop tuinstoel. Ek probeer om nie neer te plof nie, weier doelbewus die steun wat die inspanning wil vergesel. Ons het destyds, toe dit nog ʼn makliker gewoonte was om aan te leer, ons voorgeneem om nie te plof nie en nie te steun nie.

Die klank van die koppie op die skinkbord kondig haar koms aan. Uit die hoek van my wasige oog sien ek haar in ʼn pienk en liggroen blommerok naderkom. Sy is nog te ver vir my om haar glimlag te sien, maar ek voel dit. Ek voel die bekende vreugde en waardering in haar sagte kyk. Vir ʼn honderd lyk sy goed, bloedjonk, om die waarheid te sê, nie ʼn dag ouer as tagtig nie. Destyds was die 20 jaar verskil tussen ons groot, maar die wiskunde van groot getalle het dit met elke verbygaande jaar verder gekrimp.

“Lief?”
“Dankie, lief.”

Sy sit die koppie langs my neer, stap om en kom sit in die stoel, dig langs myne. Haar fyn hand ontvang myne, ons doen dit altyd so. Ek neem nie my beker nie. Die silwer son breek deur ʼn oopte in die prieel en val op ons.

En dan word alles stil: die voëls, die verkeer, die buurt. Ek draai my kop effe kant toe en kyk in die oë van haar wat die liefde in my lewe … wat die liefde … wat … sy straal! Heerlik!

Ons hande hou ineens gelykertyd stywer vas.

ʼn Bries, die roering … En ons laat gaan.

 

Lees alle vorige rubrieke deur Chris Chameleon op Maroela Media.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.