Chris Chameleon: Die Kersfees-konsternasie

Chris Chameleon (Foto: Facebook)

Dit was weer die mees wonderlike tyd van die jaar. Die liggies oor die hoofstraat van Worcester het dit aangekondig met vrolike uitbeeldings van huppelende rendiere, Kersfeesbome en, natuurlik, ʼn vet oom met ʼn wit baard in ʼn rooi pak en ʼn sak vol geskenkies op die rug.

Soos baie ander families op die dorp, was die familie Du Plessis ook in rep en roer. Selfs die patriarg, De Wet Du Plessis, se onverbiddelik stugge uitdrukking het tekens van ʼn seisoenale versagting getoon. Sy tere eggenote, Eldrie, en hulle drie dogtertjies Nihanné, Eldrélet en Doné-Marie het die huis versier met hulle keuses uit die beste wat die plaaslike kruidenierswarewinkel uit China kon invoer.

Dit was ʼn goeie jaar, pa De Wet het ʼn goeie kontrak by die Touwsrivier CPV-sonkragprojek losgeslaan en die dogtertjies het ma Eldrie al hoor sê “dis Pappa wat die Kersfeesliggies op die dorp aangeskakel het”.

De Wet is korrek. Jy kan hom ten alle tye deur ʼn ring trek. Sy kleding, naels, snor, trouens, sy ganse bestaan, is die lewende vergestalting van puntenerigheid en nougesette dissipline. Dit is deur sy wil (en moeder Eldrie se toedoen) dat die beskeie hoërmiddelklaswoning elke dag soos ʼn skouhuis vertoon, dat alles skoon en netjies is (vergeet van troeteldiere, hulle kwalifiseer nie vir die higiënestandaarde van huis Du Plessis nie!). Die dogtertjies is lief vir hulle pa, maar dis ʼn versigtige liefde waarin die sagte aanslag van hul moeder die huislike sfeer deur deug en ondeug in fyn balans hou.

Omdat die dogtertjies onderskeidelik drie, vyf en sewe jaar oud is, het De Wet besluit om vanjaar te investeer in ʼn Kersvader. Die uitrusting is al in Oktober op ʼn spesiale aanbieding aangeskaf en moes goed weggesteek word. Die beskikbaarheid van Kersvaders op Kersaand is redelik beperk, maar De Wet kon ʼn gewillige (en uiters dankbaar vir die astronomiese R350 fooi vir maar ʼn uur se werk) Sinterklaas kontrakteer in die vorm van Terence September, wat die tydjie sou afknyp om by sy baas se huis te gaan Krismisvader speel.

Op presies die afgesproke tyd het die kindertjies, klaar gebad, haartjies gekam en ogies blink by die boom gewag.

Ma Eldrie het by die voordeur uitgeloer en met ʼn opgewonde “Hier kom hy!” die kinders byna die stuipe van opgewondenheid laat kry en jou wrintiewaar, daar stap Kersfeesvader met ʼn groot sak presente by die voordeur in!

“Hou hou hou! Hoe gannit met die kinnetjies vanaand?” bulder Kersvader.

(De Wet het vir Terence vooraf laat weet om maar so min as moontlik te sê, vir die wat Terence se aksent meer Kaaps as Noordpools klink, maar intussen bekommer hy hom oor groter dinge: Terence het so ʼn skewe trappie na links gegee, en dit met sy regtervoet – iets lyk nie reg daar nie…)

“Is julle tanne skoon? La’k sien, wys bietjie la’k sien?”

Opgewonde gryns Nihanné en Eldrélet om hulle onberispelike tandhigiëne te vertoon, maar die sewejarige, agterdogtige Doné-Marie wil hardop fluisterend by haar ma weet: “Mamma, hoekom is Kersvader dan so bruin Mamma?”

Krismisvader het goed gehoor, steek sy hand onder sy mus in, krap sy kop, lig sy regterbeen en sit hom drie keer telkens anders neer en trek los met: “Oooo nie hjel dis te warm hier my kind. Da by ôs sneeu dit hieldag. Toe ek vanmiddag mit my slie hier by die berg afkom skroei ek vir my in ʼn ‘tan’ in!”

Pa De Wet keur glad nie die taalgebruik goed nie en bekommer hom intussen nóg meer oor die toenemend meer spastiese lyftaal van die Noordpoolgas, maar merk hoe die kinders inkoop op die verhaal en gee nog ʼn bietjie skiet.

“Julle wil sieker presente hê?”

“Jaaaaa!”

En met die duik hy met sy kop en voorams by die groot sak in.

“Kom ons kyk wat het ons hie… voetsek jou moe…”

“Ughem!” kug De Wet kliphard voor al die woorde by die sak kan uitpeul.

Santa steek sy kop by die sak uit en kyk De Wet reguit in die oë, lank genoeg vir De Wet om te sien dat iets drasties hier skeefloop. Die uitdrukking onder daardie rooi hoed is een van smekende, gepynigde desperaatheid.

“Eh, ek het hier ʼn ou ietsie vir…”

Kersvader begin nou so te wriemel dat die wit kussing wat om sy maag gebind is voor by sy baadjie begin uitpeul.

“…ietsie vir… klein Nihanné! Jiieeet wat de..!” en met dié spring hy sewe voet na regs in die rigting van die koffietafeltjie. Sy voet vang ʼn hoek en hy slaan neer, uitgestrek op die koffietafeltjie terwyl die geskenkie uit sy greep val, sierlik deur die lug trek en met ʼn gekletter teen die boekrak val.

De Wet het genoeg gehad en staan vinnig op.

“Ek dink Santa het ander afsprake,” en terwyl hy die reeds protesterende Terence hardhandig oplig en by die voordeur uitboender bars die kinders in ʼn bitterlike geween los.

Eldrie neem die leisels oor en probeer tyd wen: “Ai my liefies, kom hier by Mamma, ai ai… Vader Kersfees het siek geword van die baie son op die berg; Pappa gaan net gou kyk of hy nie dokter toe moet gaan nie.”

Intussen skel De Wet vir Terence buite, op die grasperk uit. “Ek vra jou om één klein dingetjie te doen Terence! Wat gaan aan met jou, het jy gedrink of sluk jy pille of wat?!”

“Nie meneer! Ek het g’n niks van daai goed gedoen nie meneer!” protesteer hy verontwaardig. “Dis daai suit, meneer, die ding is vuil of iets!”

“Vuil? Dis ʼn splinternuwe uitrusting!”

“Nie meneer, rêrig. Kyk hier,” en hy wys na ʼn kol op die bors, “hier is hare meneer, ek wietie van wattie.”

De Wet sien die hare. Hy sien ook hoe Terence aanhou beweeg asof hy kaalvoet met ʼn draairoomys oor ʼn somersongebakte teerpad stap.

“Vir wat beweeg jy dan so rond man? Jy lyk of jy besete is.”

“Meneer, ek jeuk! Ek jeuk my malle moe…”

“Ughem!”

“Ek jeuk my bed*nnerd meneer hier is iets nie reg nie. Die ‘suit’ het vlooie of iets.”

“Vlooie?”

“Ja meneer. Dis baie erg. Dis daai garage van meneer, die plek is vuil of iets.”

De Wet se garage is skoon. Hy weet dit. Dis sy trots. Maar die verhaal moet ondersoek word. Met dringende, lang treë haas hy hom na die buitegebou toe. Agter hom trek Terence in die loop eers die mus, toe die baadjie, toe die broek en skoene uit totdat hy kaalvoet in sy frokkie en sy kortbroek agter De Wet aanstap en steeds oral oor sy kop en lyf krap.

Intussen kom die res van die gesin oor die grasperk aangestap, om ook te kyk wat aangaan.

By die garage aangekom, krap en jeuk Terence nog een strook deur. De Wet gooi die deur oop, skakel die lig aan.

“Noem jy dit vuil? Mens kan van hierdie vloer af eet!”

“Maybe, meneer, as jy laaik om vlooie te iet.”

Terence, De Wet, Eldrie en die drie kinders staan almal in die garagedeuropening en kyk na die blink vloer, die blink motor, die blink fietse, die skoon houtkas met die gepoetste gereedskap daarin, die houtkas waarop Eldrie die Vader Kersfees uitrusting maande lank weggesteek het. En skielik verskyn daar ʼn maer gemmerkatgesig bo die kas. Eers verward, maar toe, met die nonchalante houding wat net ʼn kat ʼn kat kan nadoen, spring hy af en kom reguit na Eldrélet aangestap. Sy tel hom en hou hom teen haar bors.

“Ken jy hierdie kat, Eldrélet?” vra De Wet streng.

“Ja Pappa.”

“En hoekom is die kat hier in my garage?”

Die kind druk die kat stywer teen haar bors, kyk af grond toe. Die woorde kom bang, versigtig: “Want… Pappa… Pappa het gesê ons kan nie katties hê nie…”

Die damwal breek en die snikke kom. Vir ʼn oomblik staan almal verstar en ʼn vraag hang in die lug. Terence breek die stilte: “Meneer, as meneer daai kat klaar ge-ontvlooi het is daar niks in daai sak wat hierdie meisiekind se hart blyer gaan maak nie.”

ʼn Gloed van gemoedelikheid spoel oor De Wet. Dalk is dit die Kersfeesgees, dalk is dit die ontlading, dalk die onderliggende humor van hierdie petalje. Hy draai na Eldrie, sy vrou, die sagte moeder van hulle kroos. Sy lees sy gedagtes en knik effens vir hom.

De Wet draai na sy dogtertjies, gaan op sy hurke en kyk hulle in een vir een in die oë. Dan vra hy die dogtertjie wat die kat vashou: “Wat gaan sy naam wees?”

“Santa, Pappa. Sy naam is Santa.”

Chris Chameleon

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, ambassadeur vir Leadership for Conservation in Africa, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae